Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hartswater: Brand-egpaar se lyke ook gekry
Elzabie, Breggie en Danie Brand.

Die lyke van die Brand-egpaar, Danie (Dan, 83) en Breggie (73), is Dinsdagmiddag omstreeks 17:00 gevind, nie ver van waar hul dogter Elzabie (54) se lyk omstreeks 01:00 Dinsdagoggend gevind is nie.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die lyke van die bejaarde egpaar is in die bosse buite die Takaneng-nedersetting in Taung gevind.

’n Vyfde verdagte van 36 jaar oud is ook Dinsdagmiddag in hegtenis geneem.

Die Brand-gesin is Sondag vermoedelik net ná 12:00 in hul huis op ’n kleinhoewe buite Hartswater in die Noord-Kaap oorrompel waarna hulle in hul eie voertuie, ’n Nissan Micra en ’n Mazda CX-5, ontvoer is.

Die Brand-egpaar se dogter Heidie Taljaard het Maandag bekommerd geraak toe sy nie haar ouers telefonies kon bereik nie.

Sy het ’n ou skoolvriend, Stephen Bennie, gebel en gevra of hy kan gaan kyk of alles in orde is.

Bennie het onraad vermoed toe hy die huis omstreeks 17:10 verlate en omgekeer aangetref het.

hartswater
Die huis van Dan en Breggie Brand was Dinsdag verlate. 'n Polisielint was die enigste omheining en herinnering aan die grusame toneel waar die gesin aangerand is voordat hulle ontvoer is. Foto: Anena Burger

Daar was ook tekens van ’n erge gestoei, bloed en sleepmerke.

Hy het dadelik die polisie, die buurtwag en gemeenskapsveiligheidsgroepe ontbied.

’n Grootskaalse soektog is dadelik na die Brand-gesin begin.

Die polisie het ’n 72-uur-aksieplan in werking gestel en verskeie spesialiseenhede en ondersteuningsdienste is geaktiveer.

Ook ’n hommeltuig van AfriForum se Vryburg-tak is in die soektog ingespan.

Dan se motor, die Nissan Micra, is kort daarna in Mokgareng, ’n woonbuurt in Taung, gevind.

Vyf uur later is Elzabie se Mazda CX-5 naby die R372 opgemerk en voorgekeer.

hartswater
Die lyke van Elzabie, Dan en Breggie Brand is in die gebied sowat 15 km van hul huis net buite 'n nedersetting buite Taung gevind. Foto: Anena Burger

Dit is hier waar drie verdagtes, ’n 42-jarige vrou en twee mans van onderskeidelik 18 en 19 jaar oud, in hegtenis geneem is.

Die vroulike verdagte het die motor bestuur.

Ná verdere ondersoek is die polisie na ’n veld naby die Takaneng-nedersetting gelei waar hulle omstreeks 01:00 met behulp van die hommeltuig Elzabie se lyk opgespoor het.

’n Vierde verdagte is Dinsdagoggend in hegtenis geneem.

Die polisie het Dinsdag hul soektog na die bejaarde egpaar voortgesit. Hul lyke is glo deur van die verdagtes uitgewys.

Ramatseba sê die vyf verdagtes sal Donderdag in die landdroshof op Hartswater op drie aanklagte van moord, en klagte van ontvoering en motordiefstal verskyn.


hartswater
Hartswaterkaart

Meer oor:  Breggie Brand  |  Hartswater  |  Hartswater-Aanval  |  Dan Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.