Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hartswater-moorde: Selfoon, rekenaar vir R400 verkoop

brand
Die handsak van een van die Brand-vroue is in Kgomotso Mpulwana (42), wat hier in die rigting van die kamera kyk, se huis gevind. Foto: Anena Burger

Gesteelde items wat aan die Brand-gesin behoort het, is in een van die verdagtes wat van hul moord aangekla word se huis gevind, asook in ’n pandjieswinkel in Taung.

Dan (82), Breggie (73) en Elzabie Brand (54) is verlede Sondag wreed in hul huis aangeval, ontvoer en later vermoor.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die polisie se ondersoek het hulle na ’n pandjieswinkel in die Vaaltyn-nedersetting in Taung, Noordwes, gelei waar hulle ’n Sahara-skootrekenaar gevind het, asook ’n Samsung J5-selfoon wat aan die gesin behoort het. Dit is na verneem word vir R400 aan die pandjieswinkel verkoop.

Die polisie het ook ’n handsak van een van die Brand-vroue in een van die verdagtes, Kgomotso Mpulwana (42), se huis gevind.

“Daar was verskillende kaarte, ’n rybewys en ’n ID in die handsak wat positief aangedui het aan wie die handsak behoort,” sê Ramatseba.

’n Roudiens is Donderdag vir die Brands in die NG kerk Noorderharts in Magogong gehou.

Die familie van die Brand-gesin het roerend afgeskeid geneem en die diens is landwyd deur Overvaal Stereo uitgesaai.

Trudie de Beer en Heidie Taljaard, die oorlewende kinders van die Brand-gesin, verlaat die kerk ná die roudiens. Foto: Anena Burger

Honderde voertuie het Donderdagoggend tydens die verskyning van die verdagtes wat vir die moorde op die Brand-gesin in hegtenis geneem is, deur die strate van Hartswater in 'n konvooi gery. 'n Pa en sy seun hou 'n banier vas wat vra dat die verdagtes nie borgtog toegestaan moet word nie. Foto: Anena Burger
Van links is Elzabie, Breggie en Dan Brand.

Die Brands is twee Sondae gelede (26 Julie) kort ná 12:00 en net nadat hulle met die gesin se jongste dogter, Heidie Taljaard, oor die telefoon gesels het, in hul huis op ’n hoewe in die Vaalharts-skema oorrompel.

Stephen Bennie, familiewoordvoerder, het verlede Dinsdag, kort voordat die gesin se lyke opgespoor is, gesê dit het gelyk asof die gesin verskriklik baklei het om hulle teen die aanvallers te verset.

Bennie is deur Heidie Taljaard gevra om te gaan ondersoek instel toe sy nie haar ouers of suster op hul selfone kon bereik nie. Hy en die Brands se buurvrou, Frieda Pieterse, het verlede Maandag omstreeks 17:00 op die grusame toneel in die huis afgekom. Die huis was in ’n warboel en bloed- en sleepmerke was in en om die huis sigbaar. Die Sondagmiddagete het nog onaangeraak daar gestaan.

Bennie het dadelik die polisie en gemeenskapsveiligheidsgroepe ontbied en ’n grootskaalse soektog is na die gesin geloods. Die lyke van Dan, Breggie en Elzabie is die volgende dag in ’n veld naby die Takaneng-nedersetting in ’n veld gevind.

Elzabie se lyk is omstreeks 01:00 Woensdagoggend met behulp van ’n hommeltuig gekry en haar ouers se lyke is omstreeks 17:00 deur twee van die verdagtes aan die polisie uitgewys.

Boere en inwoners van die Vaalharts-skema het met die eerste verskyning van die verdagtes in die hof op Hartswater in stille protes met honderde voertuie deur die dorp en om die hof gery. Voor die hof het van die inwoners bitterlik gehuil en gedreunsing dat borgtog nie aan die verdagtes toegestaan moet word nie.

Volgens Bennie het Taljaard en haar suster, Trudie de Beer, Vrydag die gesin se twee motors, ’n Nissan Micra en ’n Mazda CX-5, by die Hartswater-polisiekantoor gaan haal.

Die vyf verdagtes sal weer op 13 Augustus in die landdroshof in Hartswater vir aansoeke om borgtog verskyn.

Meer oor:  Brand-Gesin  |  Hartswater-Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.