Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hartswater: Roof glo motief vir aanval, 4de verdagte vas

Die polisie het kort na 11:00 Dinsdagoggend bekend gemaak 'n vierde verdagte, 'n 20-jarige man, is aangekeer in verband met die moord op ’n bejaarde egpaar en hul middeljarige dogter op ’n kleinhoewe buite Hartswater. 

Die polisie het verder bekend gemaak die drie verdagtes wat reeds in aanhouding is, is 'n 42-jarige vrou en twee mans van onderskeidelik 18 en 19 jaar oud.

In ’n verklaring wat uit die nasionale polisiehoofkantoor in Pretoria namens die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, uitgereik is, word die inhegtenisname van drie verdagtes op klagte van moord bevestig.

Die polisie beskou in hierdie stadium die motief vir die moord as roof.

’n Massiewe soektog is laat Maandagmiddag na Danie Brand (83), sy vrou, Breggie (73), en hul dogter Elzabie (54) begin nadat hul familie in Kaapstad hulle nie telefonies in die hande kon kry nie.

Elzabie het uit Johannesburg vir haar ouers gaan kuier.

Die lyk van Elzabie Brand (links) is gekry, maar die polisie soek nog na haar ouers, Breggie en Danie. Die foto is gebruik in kennisgewings op sosiale media toe desperate familielede hul geliefdes in die hande probeer kry het. Foto: Facebook

Die huis se inhoud was omgekeer en daar is bloed in die huis gesien.

Die gesin se motors was weg.

Volgens die polisie kon daar tot dusver vasgestel word ’n groep mense het die gesin van drie Sondag in die huis aangeval.

“Die polisie het ’n 72-uur-aksieplan in werking gestel wat behels het dat verskeie spesialiseenhede en ondersteuningsdienste geaktiveer is.”

’n Massiewe soektog is begin en een van die gesteelde motors, ’n Nissan Micra, is Maandagaand in die Majaneng-nedersetting in Taung in Noordwes gekry.

Die ondersoek het intussen in die Noord-Kaap voortgeduur en die ander motor, ’n grys Mazda CX5, is naby Pudimoe opgemerk.

’n Foto van Breggie Brand (73) wat in Julie verlede jaar op haar Facebook-profiel gelaai is. Foto: Facebook/Breggie Brand

“Die vrou wat die motor bestuur het en die twee mans wat saam met haar in die motor was, is in hegtenis geneem,” luidens die polisieverklaring.

Verdere ondersoekwerk deur die nag het die polisie geneem na ’n veld in die Takaneng-nedersetting waar Elzabie se lyk gekry is.

“Sy is vermoor, maar die oorsaak van haar dood is nog nie vasgestel nie,” aldus die verklaring.

Die soektog na haar ouers duur voort.

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die misdaad om die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te skakel of via the MySAPS-app.

’n Span beraders was Dinsdagoggend na Hartswater op pad om die naasbestaandes by te staan.

Meer oor:  Breggie Brand  |  Elzabie  |  Hartswater  |  Hartswater-Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.