Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Haweloses se vrees: 'Ons weet nie wie is volgende'

Hawelose mense in Pretoria leef in vrees ná ’n vlaag moorde onder hul “broers”.

“Ons is bang, want ons weet nie wie is volgende nie,” sê Julian (35), wat om veiligheidsredes nie sy volle naam genoem wil hê nie.

Hy het Robert, die vyfde slagoffer, goed geken.

“Robert was ’n rustige ou wat by homself gehou het,” sê Julian oor sy maat.

Hulle het dikwels soggens ’n sigaret gedeel waar hulle op die hoek van Elandspoortlaan en Ridge-straat gewag het vir aalmoese.

“Dan gesels ons oor die vorige dag se gebeure en wat sy planne is vir die volgende keer as hy weer ’n bietjie geld in die hande kry, wat hy wil doen met sy lewe en wat sy vooruitsigte is,” sê Julian.

Robert het altyd in die parkie agter die bushalte waar sy lyk Woensdag gevind is, geslaap, sê Julian.

Maar geeneen van die hawelose mense wat hy ken, slaap meer in die omgewing nie. “Ons gebruik nou army strategies. Ons slaap twee-twee, maar een sal waghou, terwyl die ander een slaap,” sê Julian.

’n Leser het dié foto van Robert, die vyfde hawelose man van Pretoria wat vermoor is, gedeel. Foto: Verskaf
Wayne Renkin, projekkoördineerder van die Tshwane Leadership Foundation (FLT), het Donderdag Magnoliadal-park besoek waar hy ’n spesiale gebedsbyeenkoms gereël om te bid vir die veiligheid van Pretoria se haweloses.Foto: Isabel Venter
’n Hawelose man van Pretoria bid Donderdag vir die veiligheid van sy broers in Magnoliadal-park waar die lyke van twee ander hawelose mans gevind is. Foto: Isabel Venter

Vyf lyke, baie vrae

’n Beeld-leser, wat gereeld kos vir Robert gegee het, het sy foto gedeel met Netwerk24. Die polisie wou egter nie kommentaar lewer oor die foto of die man se identiteit nie “omdat dit nog ondersoek word”.

Die lyk van die eerste slagoffer is op 1 Junie by die Mearspark-treinstasie in Sunnyside gevind. Dit is nie ver van die bushalte waar Robert vermoor is nie.

Nadat die lyke van die tweede en derde slagoffers op 8 en 9 Junie in Magnoliadal, naby die treinstasie, gekry is, het mense vrae begin vra oor die moontlikheid van ’n reeksmoordenaar in Pretoria.

Julian meen dit is moontlik, maar hy dink eerder dit is die werk van iemand wat die reg in eie hande neem.

“Dalk is dit iemand wat dink die polisie doen niks aan misdaad nie en nou doen hy dit self, maar dit is lafhartig. Die mense wat hy aanval, is hawelose mense wat reeds sukkel en wat niks aan hom gedoen het nie,” sê Julian.

Sy ander hawelose vriende bespiegel ook daaroor.

’n 31-jarige man, wat ook nie sy naam genoem wil hê nie, sê weer dit is beslis die werk van ’n reeksmoordenaar.

Hy is vyf jaar al ’n gereelde gesig in Magnoliadal en het al baie daar geslaap vir die nag.

Dit het nou verander en hy sorg ook dat hy voor sononder oppak vir die dag.

Dié man sê hy het “iets in sy tas om homself mee te beskerm”.

“Ek sal die ou opf*k as hy my probeer aanval” sê hy.

Hy meen die moordenaar is siek in sy kop om onskuldige mense sonder enige rede aan te val.

Vir sy veiligheid maak hy seker dat hy voor donker by sy nuwe skuiling is.

Kerse is Donderdag aangesteek ter nagedagtenis van vyf hawelose mans van Pretoria wat vermoor is. Foto: Isabel Venter
’n Kers brand om die lewens te herdenk van die vyf hawelose mans wat in Pretoria vermoor is. Foto: Isabel Venter

Polisiepatrollies nodig

Jonathan Phiri (31), wat twee keer ’n week sy klere kom was in die Magnoliadal-spruit, sê dis ’n slegte ding wat nou gebeur.

“Hier was altyd polisiepatrollies, gewoonlik op Vrydae, maar nie meer nie,” sê Phiri.

Phiri sê daar is geweldig baie misdaad in die gebied en die polisie moet eerder elke aand van 19:00 af patrolleer.

Die gewilde park, waar inwoners gereeld piekniek hou, was Donderdag rustig.

Maar onder een van die bome lê steeds ’n bebloede klip waar ’n lyk gekry is.

Phiri sê hy het die meeste van die hawelose mense wat gereeld daar bly, lanklaas gesien.

Besoekers aan die park met wie Netwerk24 gepraat het, was nie almal bewus van die moorde nie.

Spesiale gebed vir Pretoria se haweloses

Wayne Renkin, projekkoördineerder van die Tshwane Leadership Foundation (FLT), het Donderdag die park besoek waar ’n spesiale gebedsbyeenkoms gehou is om vir die veiligheid van hawelose mense te bid.

Kerse is tydens die byeenkoms aangesteek ter nagedagtenis aan die vyf mans wat dood is.

“Ons bely dat die verlies van hul lewens deel is van ’n groter versuim om veilige gemeenskappe te skep wat menslik, medelydend en regverdig is,” sê Renkin.

Hawelose mense het die boodskap beaam en by die polisie gepleit om nie van hulle te vergeet ná die byeenkoms nie.

Renkin sê FLT staan die polisie by met hul ondersoek deur vas te stel wie slagoffers se naasbestaandes was.

Spesiale taakmag om moorde te ondersoek

Volgens die polisie was al die vermoorde mans haweloos, middeljarig en is in die nagtelike ure in dieselfde omgewing vermoor. Van hulle is herhaaldelik met ’n mes in die bors gesteek terwyl dit lyk of ander met ’n stomp voorwerp geslaan is.

Ná die vyfde voorval het lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, ’n spesiale taakspan op die been gebring om die moorde te ondersoek.

Dié span bestaan uit speurders, forensiese kundiges, patoloë en kriminoloë.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, het ook gesê beeldmateriaal van Pretoria se veiligheidskameras sal ondersoek word.

’n Teenmisdaad-kamera naby die vyfde moordtoneel is in werkende toestand en beeldmateriaal is glo reeds aan die polisie oorhandig.

Peters het by navraag gesê die polisie gaan nie kommentaar lewer voordat die ondersoek nie afgehandel is nie.

Sy het wel gesê die polisie sal beeldmateriaal bekom vir verdere ontleding in die hoop dat dit kan lei tot die identifisering van die moordenaar(s).

Die polisie is nog huiwering om die moorde te beskryf as haatmisdade of selfs die werk van ’n reeksmoordenaar.

Alle moontlikhede word ondersoek, sê Peters.

Intussen probeer die polisie alternatiewe skuiling reël vir haweloses in die gebied.

“Die polisie het ook hul sigbaarheid in die omgewing verhoog en sal op hul pos bly tot die oortreder(s) in hegtenis geneem word,” sê Peters.

Meer oor:  Pretoria  |  Muckleneuk  |  Haweloses  |  Moorde  |  Pretoria-Nagsluiper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.