Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Heldhaftige Triton red boer van plaasaanval
Triton skrik nie sommer vir aanvallers nie.

’n Hond se heldhaftige reaksie om sy baas te beskerm, het Saterdagaand nog ’n moontlike gruwelike aanval op ’n plaas gestuit.

Triton, ’n boelterriër van Prieska, het Saterdagaand tot sy baas, Alex Sandenbergh (66), se redding gekom toe twee onbekende mans Sandenbergh se plaashuis betree het.

Volgens Hechter (31), Sandenbergh se seun, het sy pa en ’n vriend Saterdagaand rugby gekyk. Sy pa bly alleen op die plaas en sy vriend is omstreeks 19:00 huis toe.

Sandenbergh het sy vriend na sy bakkie vergesel wat sowat 20 m van die plaashuis af geparkeer was. Hy sê sy pa het teruggestap na die huis en die voordeur toegemaak. Hy is toe na die lapa toe wat sowat 10 m van die deur af geleë is.

Hechter sê toe sy pa by die lapa kom, het hy gehoor hoe die deur weer oopgaan.

“Toe my pa omdraai, staan daar twee onbekende mans in die huis.”

Die steekwonde wat een van die aanvallers vir Triton toegedien het toe hy hulle begin aanval het. Die wonde is later die aand deur suster Plonkie van Staden omgesien.
Triton ná die aanval.

Hechter sê Triton het gelukkig oudergewoonte weer by die deur gelê en slaap.

“Toe Triton wakker word en hy sien die vreemde mans, toe gryp hy die een en begin hom byt. Die ander man het ’n mes gehad en vir Triton gegryp en hom daarmee gesteek,” sê Hechter.

Hy sê dit is ’n bestiering dat Triton so vinnig gereageer het.

“Hulle moes groot geskrik het, want toe Triton ingee, het hulle op die vlug geslaan.”

Sandenbergh het dadelik hulp ontbied en boere uit die omgewing het hulle na die plaas gehaas.

Alex Sandenbergh

Hechter sê drie polisiebeamptes van Prieska het ook opgedaag, maar het Sandenbergh aangeraai om slegs ’n saak te open as hy dit nodig sou ag. Die polisie is kort daarna weg.

Hechter sê die voorval het so vinnig gebeur dat sy pa nie die mans kon uitken of na hul kleredrag opgelet het nie.

Hechter en nog boere uit die omgewing het tot omstreeks 01:00 Sondagoggend na die aanvallers gesoek, maar kon hulle nie opspoor nie.

“Die veld op die plaas is moeilik begaanbaar, veral in die donker.”

Intussen het Pronkie van Staden, ’n verpleegsuster van Prieska, haar ook na die plaas gehaas en na Triton se beserings omgesien.

“Die tannie is nie ’n veearts nie, maar sy weet baie van diere. Sy het Triton se wonde onder verdowing behandel en sy spiere weer geheg,” sê Hechter.

Hechter sê Triton het weer Sondagoggend opgestaan en die plaaswerf gepatrolleer.

“Hy is ’n bietjie styf en seer, maar hy is darem weer sy ou self.”

Hechter sê dit is ongelooflik hoe die mense van die omgewing saamstaan en almal probeer om te help.

Sandenbergh bring Vadersdag saam met Hechter en sy gesin op die dorp deur. Hy sê Triton het vir homself ’n hele paar biefstukke verdien.

  • Intussen het die polisie in die Noord-Kaap per mediaverklaring bevestig dat ’n ondersoek nog hangende is en dat hulle ook steeds na die verdagtes op soek is. Hospitale en klinieke in die gebied is in kennis gestel van die verdagtes indien hulle om mediese hulp sou kom aanklop.
Meer oor:  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.