Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hennie’s: Diensklagte teen polisielede ingedien

Iemand moet ná die voorval verlede maand in die sportkroeg en restaurant Hennie’s in Moreleta Park, Pretoria verantwoordelik gehou word en ’n tugproses moet volg.

So het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, Donderdag op ’n mediakonferensie in Centurion gesê.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid. Foto: Brümilda Swartbooi

Nel het hier bekend gemaak dat die eenheid diensklagtes ingedien het by lt.genl. Khehla Sithole, nasionale polisiekommissaris, teen die polisielede wat na bewering op onregmatige wyse beslag gelê het op R112 000 se drank en die hoofbestuurder, Atrayo Nolte, onregmatig in hegtenis geneem het.

Die eenheid verteenwoordig Werner Pretorius, franchise-eienaar van die tak in Moreleta Park.

Netwerk24 het vroeër berig dat twee kliënte op Vrydag 22 Januarie kort ná oopmaaktyd alkoholiese drankies bestel het. Hulle is meegedeel dat geen drank verkoop word nie. Albei het toe ’n Castle Free en alkoholvrye jenewer bestel en gevra: “Make it nice.”

Nolte sê die drankies is skaars voorgesit of twee polisiemanne verskyn by die deur.

Werner Pretorius, eienaar van Hennie’s in Moreleta Park, waar die polisie op derduisende rande se drank beslag gelê het. Foto: Brümilda Swartbooi

“Waar is die drank?” is al wat hulle wou weet. Hulle het ook aan die kliënte se drankies gaan ruik en was oortuig daarvan dat dit alkohol bevat. Net die vol bottels, met sekere van die niealkoholiese drankies in die restaurant, is “vir toetse” saamgeneem.

Nolte moes saam die polisielede na die polisiekantoor gaan om glo ’n verklaring te onderteken, waarna hy in hegtenis geneem en eers agt uur later op borgtog van R2 000 vrygelaat is.

“Ons sien ’n tendens dat die polisie homself as onaantasbaar beskou, want daar is absoluut geen gevolge vir hul dade nie. Die inhegtenisneming van Atrayo en die beslaglegging op die voorraad was kwaadwillig,” het Nel gesê.

Atrayo Nolte, hoofbestuurder van Hennie’s in Moreleta Park, is in hegtenis geneem en eers agt uur later op borgtog vrygelaat. Foto: Brümilda Swartbooi

Hy sê boonop is nie al die gekonfiskeerde drank aan die restaurant terugbesorg nie. Bottels wyn en Bacardi word vermis.

Volgens Nel sal ’n saak van diefstal geopen word sodra vasgestel is hoeveel drank terugbesorg is.

“Ons sal Pretorius en sy span help om ’n diefstalsaak teen die polisie oor die vermiste voorraad aanhangig te maak. Ons sal seker maak dat daar gevolge is. As ons nie optree nie, sal daar meer van hierdie onaantasbare polisiemanne wees,” het Nel gesê.

Pretorius sê die polisie misbruik sy mag.

“Om beroof te word van iets wat ons deure oophou, was stresvol. Dit is blatante magsmisbruik. Die oomblik wanneer die polisie by ’n deur instap, loop die Grondwet by die agterdeur uit en het jy geen regte nie. Dit sou vermy kon word as ons vyf minute gehad het om te verduidelik,” het hy gesê.

Die polisie het nog nie op ’n navraag gereageer oor hoekom al die drank nie terugbesorg is nie en wat van die vermiste drank geword het nie.

Meer oor:  Moreletapark  |  Polisie  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.