Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Here keer koeëls, ek skop tussen die bene’
Die foto wat ’n bebloede Mari Viljoen van haarself geneem het toe sy weens skok nie op haar foon gebel kon kry nie. Sy moes verskeie steke op haar kop kry nadat twee rowers haar met vuiste, skoppe en pistole bygedam het. Foto: Mari Viljoen

Die pistool was teen Mari Viljoen se voorkop. Sy weet sy het gegil.

Toe skop sy die aanvaller. Tussen die bene.

Hy het die sneller twee keer getrek.

Sy het die oranje vlammetjie by die loop sien uitkom, die klapgeluid gehoor.

“Toe dag ek dis ’n clap-gun, want geen koeël tref my. Maar toe slaan hy my met die pistool oor die kop dat ek letterlik eers swart sien en toe sterretjies,” vertel dié 42-jarige haarkapper.

Dit was nie die laaste keer dat sy daardie oggend teen die twee gewapende rowers terugbaklei het nie.

Bebloed, geskop, geslaan en gewurg het sy steeds die twee kort daarna druipstert laat vlug.

Ongeveer 12 skote het uit die “clap-guns” geklap.

“Elke keer was die lope op my kop, gesig of maag gerig,” sê Viljoen.

Toe die polisie later haar bloedbesmeerde huis deursoek, het hulle vir haar “sulke silwer bolletjies” op die vloer gewys, sowel as haar stukkend geskiete kasdeur, stoel en foto.

“Die speurder sê dit was regte wapens en ammunisie, wat verduidelik hoekom die houe met die pistole teen my kop so seer was. Maar ek het geen skietwonde nie.

“Dis asof die Here elke koeël met sy hand gekeer het. Die beserings wat ek het, is min in vergelyking met wat dit kon wees.

“In elk geval dink ek daardie rowers het seerder as ek,” sê sy.

Viljoen bly teen die berg in Silvertonrif, Pretoria. Haar haarsalon is nie aan haar huis verbind nie, maar hoër op teen die berg.

Woensdagoggend net voor 11:00 was ’n haarkapper met ’n kliënt besig. Viljoen “skat die tannie so in haar 80’s”.

Sy het besluit om gou voorraad in Johannesburg te gaan haal.

Sy is eers gou by haar huis in.

“Toe ek by die voordeur kom om uit te gaan, staan ’n man met ’n pistool daar.

“Hy het dit teen my voorkop gedruk,” sê sy.

Dit was toe wat Viljoen gil en skop en die aanvaller twee skote aftrek en haar met die pistool oor die kop geslaan het.

Sy het die bloed oor haar gesig voel stroom.

“Ek het inmekaargesak. Dit was ’n helse hou. Ek dog toe ek sal maar maak of ek dood of bewusteloos is, maar die rower het my bly skop en slaan met die wapen terwyl hy gevra het waar my man is en waar ons kluis is.

Die merke waar een van die rowers haar probeer wurg het, is nog duidelik om Mari Viljoen se nek. Sy het hom egter so hard tussen die bene geskop dat hy by die deur uitgetrek het.

“Ek het besef ek sal maar moet praat.”

Sy het eers van die tweede rower bewus geraak toe hulle haar hande en voete met kabelbinders vasgemaak het.

Een van die aanvallers is na die slaapkamer waar Viljoen beduie het die kluis is.

Sy het opgestaan.

“Dit was asof ek skielik krag kry. Ek het soos ’n wilde dier geword. Ek het die kabelbinders gebreek en toe begin ek baklei.

“Ek het die man begin slaan, oor en oor tussen die bene geskop, hom gestamp. Hy het die heeltyd op my geskiet.

“Ek het hom teen die muur gestamp. Hy het geval en na sy maat geroep.”

Toe die mede-aanvaller die kamer inkom, het die eerste een by die voordeur uitgeskarrel.

Die tweede aanvaller het haar met sy wapen geslaan, haar teen die muur vasgedruk en begin wurg.

“Ek het hom voluit tussen die bene geskop. Ek het hom so hard geskop, hy het by die deur uitgetrek,” het Viljoen gesê.

Maar ek het ’n wonderwerk en die gewigsvoordeel gehad, daarom het ek die oorhand oor die rowers gekry.
Mari Viljoen

Sy het die voordeur agter die rowers gesluit, kamer toe gehardloop en die buurtwag op die noodradio probeer roep.

“Maar ek het so gebewe, ek het die knoppies net uit frekwensie uit gedraai.”

Sy het teruggehardloop na die salon. Die ander haarkapper en haar kliënt het vasgebind op die vloer gelê.

Twee ander rowers het húlle aangeval terwyl Viljoen in die huis om haar lewe baklei het.

“Ek het later gehoor daar was nog ’n rower by die hek en een in die wegkomkar ook, so daar was ses van hulle.”

Viljoen se vingers het steeds met die foonknoppies gesukkel.

“Toe kry ek die nood-WhatsApp-groep op my foon, neem ’n foto van my en stuur dit. Ons GPF en die polisie en ’n ambulans was binne minute hier.”

Die eerste regte vrees wat sy ervaar het, was toe die polisie die koeëls wat haar huis vol lê, uitwys.

Haar kop is “vol steke” en daar is ’n “hengse” knop op haar voorkop.

“Maar ek het ’n wonderwerk en die gewigsvoordeel gehad, daarom het ek die oorhand oor die rowers gekry.”

* Marius Muller van AfriForum sê die organisasie staan haar by indien sy berading nodig het.

Meer oor:  Silverton  |  Pretoria  |  Here
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.