Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Heropgeleide metropolisielede terug op Jhb se strate

Meer as 1 000 nuut gekwalifiseerde beamptes van die Johannesburgse Metropolisiedepartement (JMPD), wat in Maart hul opleiding moes herhaal omdat die standaard onvoldoende geag is om hulle as verkeersbeamptes te sertifiseer, is terug op die strate van Johannesburg.

Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het vroeër vanjaar beswaar gemaak toe dit aan die lig kom dat die groep van 1 097 rekrute glo nie kan bestuur nie, angsbevange is oor die stad se verkeer, nie vertroud is met die Nasionale Padverkeerswet nie en nie hul vuurwapens kan hanteer nie.

David Thembe, voormalige hoof van die JMPD en lid van Action SA, het Geoff Makhubo, huidige burgemeester van Johannesburg, Maandag in ’n verklaring daarvan beskuldig dat hy die betrokke lede se aanstelling suutjies op Woensdag 2 Desember bekragtig het.

“Ek kry die afgelope nege maande klagtes oor lede wat aanmeld vir diens net om die ure te sit en tel”, sê Thembe. Hy sê ook die besluit om die groep vir heropleiding te stuur was polities gemotiveerd. Hy sê die nuwe metropolisiebeamptes het steeds nie vuurwapens of uniforms nie en Action SA gaan gevolglik die Openbare Beskermer (OB) nader om ondersoek in te stel.

Wayne Minnaar, woordvoerder vir die JMPD, het Maandag alle navrae verwys na Lillian Selapisa, lid van Johannesburg se burgemeesterskomitee vir openbare veiligheid. Volgens Selapisa is die beamptes se aanstelling meer as twee weke gelede aangekondig.

Nog 415 rekrute is besig om hul opleiding te voltooi en sal na verwagting in Junie aanstaande jaar gradueer.

Michael Sun, voormalige lid van dieselfde komitee, het ook reeds in Maart bevraagteken hoe sinvol dit is om die groep te herroep, gegewe die koste van hul opleiding en die noodsaaklikheid van indiensopleiding.

Simon Zwane, woordvoerder van die RTMC, het destyds die besluit verdedig deur te sê hulle het ’n plig as versekeraar van die gehalte van opleiding van verkeersbeamptes in die land en moes ingryp.

Die feit dat daar geen bewyse was dat die beamptes enige vuurwapenopleiding bygewoon het nie, was volgens Zwane ’n deurslaggewende faktor in die besluit.

Franco de Lange, VF+-raadslid in die Johannesburgse metroraad, bevraagteken ook die koste vir belastingbetalers van die heropleiding, maar sê hy hoop die nuwe beamptes het intussen goeie opleiding gekry en het die nodige toerusting om veral in die komende feestyd die stad van Johannesburg dien.

“Die VF+ se standpunt was nog altyd dat JMPD ingevolge hul magte ook arrestasies doen en die saak dan aan die polisie oorhandig om te ondersoek,” sê De Lange. “As daar dus beamptes beskikbaar is, moet hulle dadelik na brandpunte ontplooi word as hulle die korrekte opleiding gekry het.”

“Hulle moet ook die nodige toerusting hê om daardie rol te vervul, hetsy dit voertuie of wapens is. Ons kan nie ’n JMPD hê wat net rondry en spoedkaartjies uitskryf nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.