Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Het veediefstal werklik afgeneem? vra boere

Neem veediefstal af of word dit net minder aangemeld? Dít is die vraag wat vee-eienaars vra nadat Bheki Cele, minister van polisie, verlede week die jongste misdaadstatistieke bekend gemaak het.

Dr. Jane Buys, veiligheid-en-risiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL), sê die skade wat boere ly, bly enorm en kan teen die huidige veepryse op R300 miljoen vir die kwartaal bereken word. Selfs met die laer aanmelding van voorvalle beteken dit dat veeboere R1,2 miljard se verliese in ’n jaar ly.

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) raam ook dat veediefstalle die land minstens een miljard rand per jaar kos.

Volgens Cele het veediefstal net in Gauteng (met 17%) toegeneem, terwyl dit elders afgeneem het.

Buys sê egter hoewel daar ’n daling van 100 voorvalle (11,9%) in die Vrystaat ondervind is, dink sy dit is eerder omdat die gevalle nie aangemeld word nie.

Isabel Kruger, voorsitter van die veediefstalvoorkomingsforum in die Vrystaat, meen boere wie se vee nie volgens wetlike voorskrifte gemerk is nie, meld nie die veediefstal aan nie omdat hulle self nie die wet nakom nie.

Volgens haar is daar ook frustrasie wanneer veediefstal by die polisie aangemeld word en is daar gevalle waar boere glo tot drie uur lank moes wag om ’n klag in te dien.

Boere moet sulke probleme by die RPO of ander landbou-organisasies aanmeld, anders lyk dit asof veediefstal afneem, sê sy.

grafika

Twee Vrystaatse polisiekantore, Vrede en Harrismith, is onder die 30 in die land waar die meeste veediefstal aangemeld word.

In Vrede, wat 12de op die lys is, is 40 sake aangemeld met ’n toename van tien sake in die vierde kwartaal. Harrismith is 29ste op die lys met 29 veediefstalsake, ’n toename van ses voorvalle vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Kruger sê dié twee gebiede, saam met Bethlehem, is naby nasionale en provinsiale hoofweë en is daarom altyd ’n gewilde teikengebied vir veediewe.

Sy sê sigbare polisiëring is beslis suksesvol om veediefstal te bekamp, maar as dit net in een streek gedoen word, verskuif die veediewe na ’n ander gebied.

Buys meen dit is jammer dat Cele geen syfers kan verskaf van hoeveel vee teruggevind word, hoeveel mense in hegtenis geneem word en hoeveel suksesvol vervolg word nie.

Volgens haar moet in gedagte gehou word dat die onderaanmelding van veediefstal op minstens 70% geraam word en dat die jaarlikse verliese van veeboere eintlik onberekenbaar is.

Meer oor:  Misdaadstatistiek  |  Veediefstal  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.