Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Híér is oudpolisieman wat help met moordsake in Limpopo

“Ons hoor ’n oudpolisieman moes gehelp het om die onlangse moorde in Polokwane op te los. Wie is dit?”

Dit is die vraag van inwoners van Polokwane nadat vier mense binne 72 uur ná die wrede moorde op 10 September op die restauranteienaar Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), in hegtenis geneem is.

Die speurder wat gehelp het om die Deacons se huiswerker, Sophie Mmako (51), aan te keer, is oudkol. Gawie (Sakkie) Louwrens (49), wat vyf jaar gelede ná 26 jaar in die polisie bedank het.

Oudkol. Gawie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke.

Hy was die hoof van ’n spesiale polisietaakspan wat hoëprofiel-misdade in Limpopo ondersoek het. Louwrens en sy span het etlike pryse vir uitmuntende speurwerk van die nasionale polisie ontvang.

Hy het van reeksmoordenaars in Groblersdal en Thohoyandou tot plaasmoordenaars van Swartwater en Lephalale in hegtenis geneem.

Louwrens en sy span was in 2012 ook betrokke by die inhegtenisneming van Johan Kotzé, die sogenaamde Modimolle-monster. Kotzé het sy vervreemde vrou, Ina Bonnette, vir ure gemartel nadat hy haar seun, Conrad (19), koelbloedig doodgeskiet het.

“Die stelsel het ons ervare polisielede in die steek gelaat, dis hoekom ek uit die polisie is,” sê Louwrens.

Maar ná sy bedanking kon hy nie van speurwerk wegbly nie. “Dis in my bloed, dit is wie ek is. Ek wil mense help,” sê Louwrens, wat nou aan die hoof staan van Bosveld Misdaadondersoeke (BMO). Dit is ’n niewinsgewende organisasie wat hy saam met skenkers soos Dries Visser, ’n bekende boer van Thabazimbi, en Anton Barnard, ’n sakeman van Thabazimbi, gestig het.

“Die polisie is oorlaai. Hulle het nie meer die nodige hulpbronne om misdaad te bekamp nie. Ons wil help in die stryd teen misdaad, maar ons kan dit nie sonder die hulp van die publiek doen nie.”

Hy het steeds goeie verhoudinge met polisielede en sy uitgebreide kontakbasis en kennis vanweë jare lange ondervinding word gereeld ingespan, soos ná die moorde op die Deacons.

Die stelsel het ons ervare polisielede in die steek gelaat, dis hoekom ek uit die polisie is.

“Ons moet ongelukkig vrede maak daarmee dat misdaad ’n alledaagse deel van ons lewe in Suid-Afrika is en sal wees. Ons moet en wil egter ons ervaring en kennis terugploeg om ’n verskil te bly maak,” sê Louwrens. BMO se Facebookblad is https://www.facebook.com/Bosveld-Misdaad-Ondersoeke-103097921450431/

Hy het saam met die polisie binne 72 uur ná die Deacon-moorde die eerste beskuldigde, Casper Mudau (35), in Mookgophong in hegtenis geneem in ’n huis wat glo aan Mmako behoort.

Binne enkele ure na dié inhegtenisneming is nóg ’n beskuldigde, Advanced Amid (30), in Polokwane in hegtenis geneem.

Lizette Deacon (55) is in Polokwane vermoor.
Jakkie Grobler (80) is in ’n aftreeoord in Polokwane vermoor.
Hettie Deacon (79) is drie weke gelede in Polokwane vermoor.

Louwrens en sy span, wat ander oudpolisielede insluit, het onverpoosd leidrade opgevolg en ook op ’n huis in Mankweng, buite Polokwane, toegeslaan waar daar op besittings van Lizette en Hettie Deacon beslag gelê is.

Die ondersoek het hulle toe na Tembisa in Gauteng gelei, waar Mmako se kêrel, Lazarus Mahlo (41), in hegtenis geneem is. Hy het in een van Lizette Deacon se Ocean Basket-restaurante in Polokwane gewerk en is onlangs afgedank.

Minder as twee weke ná die wrede moorde op die Deacons het nog ’n grusame moord Polokwane geruk.

Sophie Mmako (51) wat weens die moorde op Lizette en Hettie Deacon in hegtenis geneem is. Foto: Marietie Louw-Carstens

Jakkie Grobler (80) is verlede Sondagaand in haar huis in die Koraal-aftreeoord glo verkrag en met ’n kierie oor die kop geslaan.

’n Selfoon en skootrekenaar is gesteel. Wéér is Louwrens se hulp ingeroep. Hy en ’n span kundiges het verdagtes ondervra en ’n hawelose man wat as “Thamsanqa” bekend is as ’n moontlike verdagte geïdentifiseer.

Louwrens was Dinsdag warm op die man se spoor. “Ek sal nie rus totdat ons hom kry nie. Ons moet, dis wat ons doen.”

Enigiemand met inligting kan Louwrens by 071 798 7954 of brig. James Espach by 082 576 0743 bel.

Meer oor:  Jakkie Grobler  |  Polokwane-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.