Tazne van Wyk (8) van Elsiesrivier in Kaapstad se lyk is Woensdagaand in ’n stormwaterdrein naby ’n vulstasie langs die N1 buite Worcester gevind.
Dit was nadat haar vermeende ontvoerder, Moyhdine Pangarker (54), die plek aan die polisie uitgewys het.
Hy is gesoek as iemand wat kon help met die ondersoek sedert klein Tazne op 7 Februarie vermis geraak het.
Die polisie het Donderdagoggend bekend gemaak haar lyk was in ’n drein versteek en Netwerk24 het vasgestel dié stormwaterdrein is naby die Mosh-vulstasie in die Bergsig-gebied, sowat 4 km buite die dorp.
Werkers by die vulstasie het verduidelik die stormwaterpyp loop onder die hoofweg deur en is sowat 100 m van die vulstasie af in die rigting van De Doorns.

Hier is Tazne van Wyk se lyk Woensdagaand naby die Mosh-vulstasie buite Worcester gevind. Foto: Breyten Cupido/ Worcester Standard
Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het Donderdagoggend gesê sy hart is swaar nadat hy uitgevind het Tazne is vermoor.
“Ek wil my opregte meegevoel aan Tazne van Wyk se familie oordra. Hulle is deur ’n tyd van onsekerheid en pyn. Geen ouer behoort die verlies van sy kind te moet verduur nie.”
Hy het bevestig ’n berader is gestuur om Tazne se ouers, Terrence Manuel (31) en Carmen van Wyk (28), te ondersteun.
Hy het ook aangedui sy departement sal die vordering van die saak monitor om toe te sien dat dit nie weens gebreke in die ondersoek van die hofrol geskrap word nie.

Die Mosh-vulstasie is omstreeks 4 km buite die dorp. Foto: Google Maps
Pangarker is Dinsdag in Cradock in die Oos-Kaap aangekeer en in hegtenis geneem in verband met ’n uitstaande lasbrief wat uitgereik is nadat hy sy paroolvoorwaardes van ’n vorige oortreding verbreek het.
“Die verdagte is verder deur die polisie ondervra en hy het gesê Van Wyk se lyk is in Worcester. Hy het Woensdagaand die plek aan die polisie uitgewys,” sê Potelwa.
Pangarker, wat volgens die polisie naby Van Wyk gewoon het, word nou van moord aangekla en verskyn Vrydag in die landdroshof in Goodwood.”
Pangarker word vandag na Kaapstad gebring.
Tazne het verdwyn nadat sy na ’n huiswinkel naby haar ouers se skakelwoonstel in Clarestraat, Connaught Estate, Elsiesrivier, gestuur is.

Tazne van Wyk se lyk is omstreeks 100 m van die Mosh-vulstasie buite Worcester in ’n stormwaterdrein gevind. Foto: Google Maps