Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hier is wetstoepassers se gedragskode

’n Lys van plekke waar om magsmisbruik deur die polisie en weermag aan te meld, insluitende tolvrynommers en e-pos-adresse, is Dinsdag as deel van ’n gesamentlike nuwe gedragskode vir dié twee wetstoepassingsowerhede tydens die ramptoestand, gepubliseer.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie se nasionale klagtesentrum is nou toegerus sodat die publiek ook klagte van polisiewreedheid of onmenslike en/of vernederende behandeling en/of straf deur polisielede, kan aanmeld.

Die publiek kan hier ook kla oor swak dienslewering van die polisie rakende reaksie op klagtes, ondersoeke, nalatigheid en wangedrag.

Die gesamentlike gedragskode is op 22 Mei onderteken deur Bheki Cele, minister van polisie, en Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane.

Dit was dus binne die vyfdae-spertyd wat regter Hans Fabricius op 15 Mei gegee het toe hy in sy uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria ’n rits bevele gemaak het oor die voorval waarin Collins Khosa (40) op 10 April in Alexandra, Johannesburg, dood is nadat hy deur weermaglede aangerand is.

Khosa se familie het ’n dringende hofaansoek ingedien vir ’n verklarende bevel oor die veiligheidsmagte se rol.

Khosa se familie het ’n dringende hofaansoek ingedien vir ’n verklarende bevel oor die veiligheidsmagte se rol.

Hulle het ook gevra dat opdrag gegee moet word dat ’n klagtemeganisme vir burgerlikes ingestel word.

Fabricius het in sy uitspraak beveel alle weermaglede en lede van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) wat naby die toneel was waar Khosa aangerand is, moet binne vyf dae hangende tugoptrede met volle betaling geskors word.

Die regter het ook gelas dat die twee ministers binne vyf dae ’n gedragskode en operasionele prosedures moet opstel vir lede se optrede terwyl die ramptoestand van krag is.

Volgens hierdie gedragskode wat verlede Vrydag afgehandel is, onderneem die weermag en die polisie onder meer om die Grondwet te handhaaf, almal regverdig en met respek vir hul regte en menswaardigheid te behandel en nie hul gesagsposisie te misbruik nie.

Dit sluit in dat hulle sal deelneem aan optredes om die Wet op Rampbestuur op te dwing en ander optredes wat die gesondheid en veiligheid van die gemeenskap kan bedreig, te voorkom.

“Ons onderneem om die mag wat aan ons toegewys is op ’n verantwoordelike en beheerde manier uit te oefen,” lui die gesamentlike gedragskode.

Die gemeenskap moet hiervolgens egter ook aanvaar dat die nasionale ramptoestand ’n ongewone situasie geskep het wat almal se samewerking vereis om die Covid-19-pandemie te beveg.

Daarom moet die publiek hulself inlig oor die regulasies van die staat van inperking om te verseker dat hul eie optrede binne die wet is.

Die riglyn waarsku ook: “Let wel dat ’n wetstoepasser die liggaam van ’n gearresteerde met geweld mag beperk sou die persoon (hom of haar) nie onderwerp aan aanhouding nie, teensit teen inhegtenisneming of probeer om te vlug.”

Luidens die Strafproseswet mag die owerhede geweld gebruik waar redelik nodig en proporsioneel is om weerstand te oorkom.

“Maar onder geen omstandighede mag ’n persoon gemartel, aangerand of mishandel word deur ’n wetstoepasser nie.”

Volgens hul mandaat om die regulasies van die Wet op Rampbestuur toe te pas, moet beamptes nie net die publiek lei met diens en advies nie, maar mag hulle, om te verseker dat lewens beskerm word teen die koronavirus, padversperrings hou om te verseker dat daar aan die regulasies oor tussenprovinsiale reise voldoen word, permitte nagaan, grense sluit en die beweging van goedere monitor, boetes uitreik en inhegtenisnemings uitvoer waar daar nie aan die regulasies voldoen word nie, en ook roetine-patrollies hou.

Daar is ook riglyne oor die handhawing van ’n veilige afstand en die beperking van beweging en ander aktiwiteite tydens die ramptoestand.

Dit bepaal dat dit nie ’n misdryf is as ’n veilige afstand nie gehandhaaf word nie, en dit dus nie wetlik opgedwing kan word nie.

“Wetstoepassers mag egter die publiek aanmoedig om daaraan te voldoen. Dit (veilige afstand) kan opgedwing word deur hoë sigbaarheid (van lede) by openbare plekke soos winkelsentrums, deur die publiek in te lig dat hulle aan die regulasies moet voldoen en private veiligheidsmaatskappye te kry om die wetstoepassers by te staan.”

Oor bewegingsbeperking lui die dokument dat die doel juis is om die verspreiding van die virus te beperk.

“Die inperking van ’n persoon tot sy/haar huis behels dat ’n persoon nie die perseel mag verlaat nie en sosiale interaksie beperk.”

Daar word ook verduidelik dat dit ook die doel van beperkte beweging snags is en dat net noodsaaklike werkers of mense met die nodige permitte hul huis mag verlaat.

Naidoo sê in ’n verklaring dat dit van wetstoepassers verwag word om te verseker dat alle inwoners van die land aan die regulasies voldoen.

* Die weermag het Vrydag gesê vier lede is intussen geskors. Die JMPD sê geen van sy lede was regstreeks by die Khosa-voorval betrokke nie, maar hulle is besig met ’n interne ondersoek.

Wanneer jy van ’n misdryf beskuldig word:

* ’n Persoon mag in hegtenis geneem word of versoek word om saam met ’n wetstoepasser na ’n polisiekantoor te gaan.

* As dit ’n ernstige klag is, mag die persoon aangehou word, maar hy of sy moet so gou moontlik – en binne 48 uur maksimum – hof toe geneem word, waar die persoon ’n borgtogaansoek kan indien.

* By minder ernstige klagte kan die stasiebevelvoerder of ’n senior lid in beheer van die polisiekantoor, ná konsultasie met die ondersoekbeampte, besluit:

- Om iemand vry te laat met ’n skriftelike waarskuwing om in die hof te verskyn;

- Dat ’n skulderkenningsboete betaal kan word;

- Om "polisie"-borgtog toe te staan en die persoon te waarsku om in die hof te verskyn; of

- Om die klag terug te trek.

Die publiek word gewaarsku dat ’n skulderkenningsboete dieselfde beteken as om deur ’n hof skuldig bevind te word en dat jy dan gevolglik ’n misdaadrekord het.

** Regulasies van die ramptoestand:

http://www.saps.gov.za/newsroom/ regulations/regulations.php of https://www.gov.za/coronavirus/guidelines.

Riglyne aan wetstoepassers tydens inhegtenisneming:

* ’n Persoon kan met of sonder ’n lasbrief in hegtenis geneem word, en, as die persoon hom of haar nie onderwerp aan die aanhouding nie, mag die inhegtenisneming uitgevoer word deur aan die persoon te vat of, indien nodig, gewelddadig beweging te beperk.

* Die persoon wat die inhegtenisneming uitvoer, sal tydens die inhegtenisneming of onmiddellik daarna iemand inlig hoekom hy in hegtenis geneem word.

As jy ’n klag indien teen wetstoepassers:

Die publiek kan vir die duur van die ramptoestand klagte indien by hul naaste polisiekantoor, die polisie se nasionale diensklagtesentrum by 0800 333 177 of ’n e-pos stuur na complaintsnodalpoint@saps.gov.za of service@saps.gov.za.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê mense wat ’n klag indien, moet hul volle besonderhede soos naam en van, identiteitsnommer, woon-/werkadres, telefoonnommer en e-posadres verskaf.

Klaers sal gevra word om ’n gedetailleerde beskrywing van die voorval te gee, sowel as waar, wanneer en hoe laat dit gebeur het, en die besonderhede van die betrokke polisielid.

Klagte kan ook ingedien word by:

Teen SAPD-lede:

* Provinsiale klagte-koördineerders: Inspektoraat -

http://www.saps.gov.za of http://www.saps.gov.za/services/service_complaints_centre.php.

* Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) http://www.ipid.gov.za of 012 399 0000

Teen SANW-lede:

* By ’n militêre polisiekantoor

* Die gemeenskapsdienssentrum van enige polisiekantoor

* Die militêre ombudsman: www.milombud.org of 012 676 3800

* Hotline 080 726 6283

Wat sê kenners:

Kenners meen dat hierdie nuwe gedragskode vir die weermag en polisie tydens die ramptoestand nodig is omdat daar baie onsekerheid onder lede én die publiek is.

Prof. Theo Neethling, politieke wetenskaplike aan die Universiteit van die Vrystaat, sê regter Hans Fabricius se uitspraak was baie nodig en sinvol.

“Ons kan maar net hoop dat die gedragskode nou onnodige magsvergrype sal laat afneem en lede van die SAPD in die komende weke meer verantwoordbaar sal laat optree.

“Terselfdertyd het politieke partye en die burgerlike samelewing minstens ook nou iets wesenlik waaraan die professionaliteit van polisieoptrede gemeet kan word, en die howe kan polisieoptrede daaraan beoordeel.

“Dit is egter nodig dat die gedragskode baie ernstig deur bevelvoerders op die gedrag van lede van die SAPD van toepassing gemaak word,” sê hy.

Prof. Rudolph Zinn, kriminalis van Unisa, sê hoewel die nuwe gedragskode pluspunte het, is dit baie tegnies.

“Dit slaag deels in die doel, maar dit is steeds moeilik vir die publiek om te weet wat hul regte is en te verstaan wat hulle gedurende inhegtenisnemings mag doen.

“Ek dink wat regter Fabricius verlang, is riglyne van hoe word inhegtenisnemings uitgevoer en die persoon se regte, want daar is grys gebiede waaroor die publiek onseker is en voel die owerhede tree te gewelddadig op,” sê hy.

Daar is ook internasionale navorsing en publikasies wat daarop wys dat die weermag en polisie se doel tydens die ramptoestand is om gesondheidsregulasies toe te pas.

“Hulle is eintlik ’n verlenging van die departement van gesondheid en dis die gesindheid waarmee hulle moet optree,” verduidelik Zinn.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Inperkingsregulasies  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.