Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Hierdie kerke kul jou hier en kul jou daar . . .’

’n Pastoor wat twee jaar gelede sy eie kerk gestig het om lidmate met fop-wonderwerke te kul, is nou op ’n kruistog teen onafhanklike, charismatiese kerke se okkultiese praktyke en beweerde swendelary.

Past. Makhado Ramabulana. Foto: Elizabeth Sejake

Past. Makhado Ramabulana se vertellings van hoe hy duisende rande uit goedgelowige armes geswendel het, lees soos ’n speurverhaal of riller. Hy het reeds boeke soos Church Mafia en Initiated by my Spiritual Father met waarskuwings aan die publiek geskryf en verlede maand voor die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL) getuig.

“Ek het gaan getuienis aflê sodat die kommissie die menseregteskendings en swendelary in die kerke beter kan verstaan. Daar moet strenger reëls wees om mense teen gewetenlose kerkleiers te beskerm. Ons lewe in ’n land waar mense se grondwetlike regte beskerm moet word. Kerke moet beter gereguleer word,” het Ramabulana aan Rapport gesê.

Die kommissie ondersoek die praktyke van vals profete en kultuskerke. Die kommissie het in 2017 in die parlement aanbeveel dat die CRL-wet van 2002 gewysig word om godsdienstige instellings te verplig om hulself “soos beroepsliggame” te reguleer en in 2018 aangekondig hy wil ’n eksterne liggaam op die been bring om godsdiensleiers te reguleer.

Hulle het gesê ek moet op kamma-wonderwerke en profesieë fokus.

Kerkgroepe het heftig beswaar gemaak en gesê enige vorm van regulering is strydig met die Grondwet se bepalings oor die reg op vryheid van godsdiens.

Ramabulana is opgelei as ’n leraar van die Apostoliese Sendingkerk, maar wou hom nie aan kerklike gesag onderwerp nie.

“Ek het my eie kerk in Soshanguve gestig, want ek wou die leier, stigter, biskop en aartsbiskop van my eie kerk wees waar ek alles self kan beheer.”

Aanvanklik het hy gesukkel om nuwe lidmate te lok, maar toe sluit hy in Nigerië en die Demokratiese Republiek van die Kongo by ’n geheime organisasie aan waar hy “bonatuurlike magte” bekom het. Dit sou hom help volgelinge werf, gemeentelede beheer – en geld invorder.

“Hulle het vir my gesê om nie die boodskap van verlossing te verkondig nie, maar om op voorspoed, kamma-wonderwerke en profesieë te fokus – goed wat mense opgewonde maak.”

Ramabulana het helpers gehad wat stories oor hul “genesing” versprei het. Hulle sou vertel hoe hy hulle blink motors en groot huise help koop het.

Lidmate het ingestroom.

“Mense kom nie na sulke kerke toe omdat hulle ’n persoonlike verhouding met God het nie.

“Hulle kom kerk toe omdat hulle werk of geld soek,” sê Ramabulana. “Gemeentelede is honger vir wonderwerke en hul predikante sien toe dat daar in hul behoeftes voorsien word.”

Baie mense kom boonop uit ’n kultuur waar sangomas teen betaling gespreek word. Kerkleiers is die nuwe sangomas. Ramabulana sê hy het duisende rande in persoonlike sessies verdien. “My tegniek was om vir hulle goed te vertel wat klink soos ’n wonderwerk. Ek het vir hulle gesê hulle is vervloek en dit kos tussen R5 000 en R10 000 om ‘goed’ by hul huis uit te grawe wat die vloek veroorsaak.”

’n Netwerk sangomas, dokters en predikante sou hom in die geheim oor mense se skete en kwale vertel. “Ons het voertuigregistrasienommers neergeskryf en die verkeersafdeling betaal om dié data te kry. Ons het mense se kredietstatus nagegaan en wanneer hulle kerk toe kom, het ons geweet hoeveel geld ons uit hulle kon kry.”

Ramabulana sê hy het nie vreeslik ryk geword uit sy swendelary nie omdat hy groot bedrae geld na die okkultiese huis in Nigerië moes stuur, “maar ek het ’n gemaklike lewe gelei”.

Meer oor:  Swendelary
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.