Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Hier’s ek weer, Meneer . . .’

’n Oudonderwyser van Grey Kollege Primêr in Bloemfontein het sy beweerde seks-slagoffer én God om verskoning gevra.

Ná jare het Greg Mitchell (42) besluit om te praat oor die hel wat hy as tienjarige moes deurgaan toe ’n onderwyser hom seksueel misbruik het. Foto: Elizabeth Sejake

Allan Priest (62) is die onderwyser midde-in ’n R20 miljoen-eis teen Grey Kollege Primêr in die hooggeregshof in Bloemfontein.

Luidens hofstukke het Priest na bewering onder meer orale seks met Greg Mitchell (42) gehad, pornografie aan hom gewys en voor hom gemasturbeer. Mitchell was tien jaar oud tydens die voorvalle.

Priest was daarna ’n onderwyser aan onder meer die St. Andrew’s School, ’n seunskool in Bloemfontein.

Hy het in 2014 na Nieu-Seeland geëmigreer om daar skool te hou en het Rapport se boodskappe gelees, maar nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.

‘God vergewe my,’ het hy kort daarna geskryf.

Op 4 Desember 2017 het Mitchell ’n bom gelos toe hy aan Priest ’n e-pos geskryf het en onder andere Jurie Geldenhuys, skoolhoof van Grey Kollege Primêr, ingesluit het:

“Beste Allan. Jy het natuurlik nie enige bekendstelling van my nodig nie, want jy wag al vir amper 30 jaar om van my te hoor. Wel, hier is ek, om vir jou terug te gee wat regmatig aan jou behoort.”

Geldenhuys het tot vandag toe nie gereageer nie, sê Mitchell. Geldenhuys het ook nie Rapport se navraag hieroor beantwoord nie.

Maar Priest se wêreld het inderdaad in duie gestort.

’n Foto uit Greg Mitchell se 1987-jaarblad van Grey Kollege Primêr. Hy het sokker gespeel vir die o.11-span en sit in die eerste ry heel regs. Sy afrigter was Allan Priest, in die middel van die voorste ry. Mitchell sê Priest het hom daardie jaar telkemale seksueel misbruik.

“God vergewe my,” het hy kort daarna in ’n e-pos aan Mitchell se sielkundige geskryf terwyl hy gepleit het om nie sy familie te straf vir sy dade nie.

“Gee my asb. tyd om my sake uit te sorteer voordat die ‘bom ontplof’.”

Hy vertel dan hoe ’n gewilde onderwyser hy sedertdien was.

“Ek het redelik straf gedrink in daardie tyd nadat my verloofde ons verlowing verbreek het omdat sy gevoel het ek plaas my sokkerspan bo haar.”

Priest sê in die e-pos hy “weet nie wat (hom) besiel het om aan (Mitchell) te vat nie”.

“Verlede Donderdag (14 Desember 2017) het my lewe verander van een wat letterlik perfek was – gelukkig getroud met ’n beeldskone vrou... – na een van hel, ongelooflike stres en angs,” het Priest afgepak.

In ’n antwoord aan Mitchell self het hy gesê “wat daardie middag by die opvoedingsentrum gebeur het, het nooit weer gebeur nie”.

Hy vra weer om verskoning, “soos ek daardie dag gedoen het”, voordat hy oënskynlik die blaam verskuif: “Ek kan nie help om myself te vra waarom jy en jou broer heeltyd by die opvoedingsentrum was nie . . . Hoekom het jul ouers nie nagegaan waar julle was nie? Dit was nie ideaal dat julle by my gekuier het nie.”

Priest sê dan hy het deur die jare “ure” vir Mitchell gebid.

Mitchell, deesdae ’n suksesvolle sakeman en geoktrooieerde rekenmeester wat op pad is om sy vierde graad te verwerf, het Vrydag aan Rapport gesê hy weier om skaam te voel of weg te kruip.

Dit het jare van depressie, angs, wanfunksionele verhoudings en terapie geneem om by dié punt te kom.

Die helingsproses het eers in erns vier jaar gelede begin en hy is die afgelope drie jaar in ’n verhouding met ’n “wonderlike vrou”.

Mitchell sê hy sal nooit die dag vergeet, 33 jaar gelede, toe Priest hom in 1987 by die parkeerterrein van Grey nader geroep het nie. Mitchell was toe 11.

“Allan het vir my gesê daar is ’n klomp stories wat die rondte doen oor onderwysers wat kinders seksueel misbruik, en hy wil hê ek moet weet hy is nié een van hulle nie. Ek het gesê ‘jy is’.”

Priest het hom vererg en sy voet gestamp dat die stof trek en luidrugtig gesê “ek is nié”.

“Ek het omgedraai en weggeloop en hom nooit weer gesien nie.”

Vir Mitchell het die stof nooit gaan lê nie. “Ek sal altyd iemand wees wat seksueel misbruik is en ek sal so doodgaan, maar ek is nou sterk genoeg om terug te veg.”

Hy was ’n jong ster in krieket- en sokker en Priest het hom afgerig. Mitchell het ook smiddae by ’n naskoolse sentrum vir intellek­tueel begaafde kinders deurgebring waar Priest diens gedoen het.

Hy sê Priest het hom onder meer daardie jaar na ’n vriend se huis geneem waar hulle na pornografiese video’s gekyk het. Dit was in die televisiekamer langs die kombuis en Priest was bang die huiswerker het iets gesien en haar toe R10 betaal om stil te bly, lui Mitchell se hofstukke.

Dan vertel hy ook van ’n middag ’n rukkie later wat hy besig was met huiswerk in die sentrum. Priest het hom op die kant van sy bed laat sit en orale seks met hom gehad.

“Toe hy klaar was, het hy my gevra hoe dit my laat voel het. Ek het gesê ek was lus om hom in die gesig te slaan. Sy reaksie was dat ek moes.”

Maar as ’n klein kind was sy wêreld anders.

“As tienjarige was dit moeilik om te verstaan wat met my gebeur. Boonop was hy my onderwyser en het my uitgesonder. Dit het my op ’n siek manier spesiaal laat voel,” sê Mitchell.

Hy sê sy ouers het van niks geweet nie en selfs vir Priest twee keer na hul huis genooi vir ’n braai om hom te bedank vir sy ekstra moeite met Mitchell.

Mitchell het na ’n ander dorp verhuis op 15-jarige ouderdom.

“Ek het eers jare later in my 20’s die moed gehad om my ouers te vertel en het ook gesê dat ons nie verder daaroor gaan praat nie,” sê Mitchell.

Chris Thomas, huidige skoolhoof van St. Andrew’s, het aan Rapport bevestig Priest het ongeveer 1988 by dié skool aangesluit en later jare weer.

“Ek was nie in die 1980’s daar nie maar wel later. Die hele ding is ’n reuseskok. En ek kan ouers verseker dat ons nou goeie stelsels ingestel het om onderwysers wat aangestel word deeglik na te gaan.”

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder van Bloemfontein, het bevestig Mitchell het ook ’n strafregtelike klag ingedien wat hulle al geruime tyd ondersoek.

Hy sê hulle het reeds met die direkteur van openbare vervolging geskakel en bevestiging gekry dat hulle kan voortgaan met die ondersoek omdat dit nie verjaar het nie.

Grey Kollege Primêr moet nog aandui of die skool die siviele eis teenstaan.

Geldenhuys het by navraag gesê: “Die saak is verwys na ons versekeraars en hulle sal dit verder hanteer. Ons kan nie in dié stadium kommentaar lewer nie.”

Ian Levitt, Mitchell se prokureur, sê sy kliënt dagvaar die skool en beheerliggaam omdat dit destyds hul plig was om seker te maak die kinders onder hul toesig is veilig.

Aangesien Priest nie meer in Suid-Afrika is nie, is dit moeiliker om hom te dagvaar.”

Mitchell sê vir hom gaan dit nie oor die geld nie. “Daar is nie genoeg geld in die wêreld om te vergoed vir jare se lyding en terapie nie.

“Vir my is dit belangrik om nou vir Allan sy gemors terug te gee en die hoofstuk af te sluit.”

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Kindermolestering  |  Pedofiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.