Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Hoekom is Kinnear nie langer opgepas?’

Hoekom is die spesiale beskerming van lt.kol Charl Kinnear gestaak in ’n tyd toe hy dit die nodigste gehad het?

Dit was die vraag wat Conwe Flink, die provinsiale sekretaris van Popcru, Woensdag in ’n gedenkdiens vir die vermoorde Kinnear, ’n bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, gevra het.

Volgens Flink moet verduidelik word hoekom sy beskerming gestaak is.

Die polisie het hom ná ’n vorige aanslag op sy lewe tot Desember 2019 beskerm. Hy is uiteindelik op 18 September vanjaar voor sy huis in ’n vermoedelike sluipmoordaanval in Sidneyvale, Bishop Lavis, doodgeskiet.

Nicolette Kinnear, weduwee van die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear, troos hul seun, Casleigh. Hul seun Carlisle sit links met sy arms gevou. Foto: Jaco Marais
’n Hartseer Casleigh Kinnear word op die diens deur sy ma, Nicolette, omhels. Foto: Jaco Marais

Volgens Flink wil Popcru hê dat die moord op polisielede as hoogverraad geklassifiseer word.

Rye en rye polisielede het Woensdagoggend in ’n loods van die polisie se lugvleuel in Belhar agter Kinnear se gesin gesit. Die sprekers het oor Kinnear as ’n kollega, gesinsman en vriend, asook oor sy toewyding aan sy werk as polisieman gepraat.

Sy drie seuns, Rozario, Carlisle en Casleigh, het mekaar by tye vasgehou en nader aan mekaar gesit, terwyl hulle onbedaarlik gehuil het.

Hul ma, Nicolette, het die seuns getroos en probeer om op een van die moeilikste dae in hul lewens sterk te wees.

Lt.genl. Yolisa Matakata, provinsiale kommissaris van die polisie, het gesê om jou geliefde vooroor gebuig in sy motor te sien nadat hy geskiet is, is ’n onmenslike ervaring.

Hy is nie in rustige omstandighede dood nie, maar hy is koelbloedig vermoor. Dit is ’n tragedie met onomkeerbare implikasies, het Matakata gesê.

Nicolette hou haar seun Carlisle Kinnear vas. Foto: Jaco Marais
Lt.Kol. Charl Kinnear se foto op die voorblad van die herdenkingsdiens se program Foto: Jaco Marais

“Sy moord sal nie ongestraf bly nie. Daar moet geregtigheid vir hom wees.”

Matakata het gesê die ondersoekspan is hard aan die werk om sy moord te ondersoek. Sy het daarop gewys dat dit moeilik is vir polisielede, wat in tye soos dié juis harder moet werk en nie tyd kry om self te rou nie.

Lt.kol. Abe Brown, groepbevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, het gesê hy het Kinnear 17 jaar geken. Met hul eerste ontmoeting het Kinnear ’n polisiedossier by hom gehad van ’n saak wat reeds vier jaar oud was. Kinnear het gesê hy sal elke nuwe tegniek wat beskikbaar raak, soos nuwe maniere van DNS-toetsing, gebruik om die saak op te los.

Brown het gesê sy houding was om nooit moed op te gee nie. Volgens hom het Kinnear gesê hy wil die Wes-Kaap reinig van misdadigers sodat sy kinders en ander kinders veilig wees.

Sy broer, Grant Kinnear, het gesê sy raad aan hom was: “Wat jy ook al doen, doen dit die eerste keer reg sodat jy dit nie weer hoef te doen nie, want die lewe is kosbaar.”

Volgens hom was daar twee dinge wat sy broer nie kon verduur nie: Jy moes nie vir hom lieg nie, en mense in magsposte wat korrup is.

Lt.kol. Charl Kinnear se oudste seun, Rozario, steek ’n kers aan ter ere aan sy pa. Foto: Jaco Marais
Kerse wat ter herinnering aan lt.kol. Charl Kinnear brand. Foto: Jaco Marais

“Hy het geglo in broederskap, eenheid en saamstaan as ’n span,” het hy gesê.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het gesê hy kan steeds nie glo wat gebeur het nie. Fritz en Kinnear het mekaar leer ken as pa’s wat langs die sokkerveld hul seuns ondersteun.

“Elke aanval op ’n polisielid is ’n aanval op die staat. Dit was ’n sluipmoord,” het Fritz gesê.

Hy het uitgevaar teen die misdaad in die land. Volgens hom is Suid-Afrika tog nie Brasilië nie – dit is nie ’n piesangrepubliek in Suid-Amerika nie – en reg en orde geld steeds hier.

“Die gemeenskap moet die bendelede uitwys. Hulle kom nie van Mars af nie. Hulle is in ons gemeenskappe,” het Fritz gesê.

Meer oor:  Popcru  |  Lt.Kol Charl Kinnear  |  Conwe Flink  |  Bishop Lavis  |  Wes-Kaap  |  Sidneyvale  |  Sluipmoord  |  Doodgeskiet  |  Gedenkdiens  |  Beskerming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.