Die musieklegende Taliep Petersen se familie sê hulle het tot hul skok in ’n video op sosiale media gesien een van sy moordenaars het parool gekry.

Najwa Petersen, Abdoer Raasiet Emjedi, Waheed Hassen en Jefferson Snyders destyds in die hof. Foto: Nasief Manie
Abdoer Emjedi (54) is verlede maand vrygelaat nadat hy in Februarie 2009 tot 24 jaar tronkstraf gevonnis is.
“Ons wil by die departement (van korrektiewe dienste) weet hoekom is 11 jaar uit die 24 jaar genoeg vir Emjedi. Het hy berou getoon? Indien ons betrek is, sou ons kon geweet het,” sê Petersen se dogter Jawaahier, self ’n aktrise en sangeres.
Taliep is op 16 Desember 2006 in sy huis vermoor. Die baasbrein was sy weduwee, Najwa, wat tot effektief 25 jaar tronkstraf gevonnis is, nes Waheed Hassen.
Jefferson Snyders is op aanklag van roof vir sewe jaar tronk toe gestuur.
Jawaahier sê ses jaar gelede het die familie ingestem dat Snyders op parool vrygelaat word “omdat hy berou getoon het en in die hof omgedraai het na die familie toe. Ons het toe gevoel hy het sy tyd uitgedien.” In Februarie vanjaar is die familie weer genader toe Hassen vir parool in aanmerking gekom het. Hulle het dit teengestaan “omdat hy nooit berou getoon het nie”.

Jawaahier Petersen en haar pa, Taliep.
Jawaahier sê die familie het baie vrae oor Emjedi na die departement van korrektiewe dienste gestuur, maar nie antwoorde daarop gekry nie.
“Ons hoop was terugvoering. Ek kan die herstellende geregtigheid, die rehabilitasiebenadering vir oortreders ná vrylating verstaan, maar daar is die geestelike en emosionele impak op die familie wat nie in ag geneem is nie.” Sy meen die paroolstelsel moet opnuut bekyk word en slagoffers se families moet nie in die proses misken word nie.
“Ons sal ons opsies oorweeg sodra ons terugvoering vanaf die verskillende kanale ontvang het. Families behoort ses maande voor die vrylating van oortreders daarvan ingelig word, sodat families vrae kan stel aan die oortreders, vir afsluiting en vir vrede . . .
“Ons verstaan mense kan nie vir altyd opgesluit bly nie, lig ons net in – dat ons emosioneel en geestelik gereed is daarvoor.
“Mense vergeet ons was kinders toe ons pa vermoor is. Ja, vir mense was hy Taliep Petersen, maar vir ons was hy pa, boeta. Gegewe die openbare belang, moes meer gedoen gewees het – nie net vir Taliep nie, vir alle families.”