Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hoewe-egpaar oorval toe man hek vir sy vrou oopsluit

’n Man is vroeg Donderdag in sy been geskiet toe hy omstreeks 04:00 die hek van hul kleinhoewe in die noorde van Pretoria vir sy vrou oopgesluit het sodat sy werk toe kon gaan.

Peet Steyn (59) in die hospitaal. Hy moet ’n operasie ondergaan nadat rowers hom in die been geskiet het.

Twee aanvallers het op Peet Steyn (59) van Honingnestkrans losgebrand en een koeël het hom in sy linkerbobeen getref en die been versplinter.

Die voorval het gebeur kort nadat hy die hek vir sy vrou, Hannetjie (61), oopgemaak het.

“Hy het ’n voorgevoel gehad dat iets nie pluis is by die pompkamer nie en het my ma gevra om haar motorligte daarop te skyn,” sê Lizelle Nieuwoudt (37), sy stiefdogter.

Hannetjie het in die grondpad afgery en die ligte op die pompkamer – “wat nie eens 100 m van die huis af is nie” – geskyn en skielik skote gehoor.

Sy het teruggedraai en haar gewonde man in ’n sittende posisie op die grond gekry. Hy het glo baie bloed verloor.

“My ma het gesê dat hy verskriklik gehuil het,” sê sy.

“Twee koeëls het verby sy kop gevlieg en die derde is regdeur sy linkerbobeen en het die hele been versplinter.”

Toe Hannetjie uit haar motor klim om hom te help het die gewapende mans te voorskyn gekom. Hulle het die huis se sleutels geëis en na die motorsleutels gegryp.

“Die mans het my ma die huis ingeboender en gesê sy sal nie seerkry as sy doen wat hulle sê nie,” sê Lizelle.

“Sy het gelukkig nie ’n skrapie opgedoen nie, maar my stiefpa lyk verskriklik.”

Peet Steyn (59) is hier geskiet by die hek van die kleinhoewe in die noorde van Pretoria.
Peet en Hannetjie Steyn is vroeg Donderdagoggend op hul kleinhoewe in Honingnestkrans in die noorde van Pretoria aangeval.Foto: Verskaf

Die rowers is weg met selfone, ’n beursie, ’n televisie en ’n klein kluis met messe in. Peet se Bybel is buite die huis gevind en Hannetjie se blompotte van haar oorlede ma het stukkend gelê.

Peet is per ambulans na die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria geneem, waar hy teen 13:00 nog gewag het om geopereer te word. ’n Pen gaan in sy been gesit word, het Lizelle gesê.

Volgens haar is sy bekommerd oor haar ma, wat baie getraumatiseer is. “Sy is nog geskok en moeg.”

Juan du Plessis, direkteur van die GAC-Risk Solutions-veiligheidsmaatskappy, sê die rowers was vermoedelik doenig by ander eiendomme in die omgewing voordat hulle die Steyns aangeval het.

Daar was vroeër vandeesweek op een nag drie voorvalle in die groter Apiesrivier-gebied, wat onder meer Honingnestkrans insluit. Niemand is in dié voorvalle beseer nie.

Cobie Jansen van Rensburg, voorsitter van die sektor 3-gemeenskapspolisiëringsforum in Pretoria-Noord, sê die inwoners in dié gebied is gefrustreerd omdat misdaad hier handuit ruk.

Meer oor:  Hannetjie Steyn  |  Peet Steyn  |  Hoewe-Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.