Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hoewe-rooftog: Rower vloekend weggejaag en geklap

’n Gewapende rower se slagoffers het hom Dinsdagmiddag nie net aangesê om te “f*k*f” nie, maar hom sommer ook deur die gesig geklap.

Johan Visser sê as dit nie was dat die rower baie onhandig met sy gesteelde pistool was nie, kon daar noodlottige gevolge op sy bure se hoewe naby Potchefstroom gewees het.

Visser is die een wat vir die rower aangesê het om die pad te vat nadat hy hom in sy bejaarde bure, Betsie en Thys Gordon, se huis op die Wilgeboomhoewe betrap het.

Betsie (79) sê sy het laat Dinsdagmiddag in hul televisiekamer sit en naaldwerk doen toe ’n rower haar van agter bekruip en haar mond met ’n swart lap toegebind het. Net die agterdeur was oop omdat Thys (81) hul diere buite gaan kos gee het.

Betsie het die lap met haar hande probeer aftrek en geskree. “Die rower het vir my gesê hy maak my vrek. Ek het gesê ek sal vir hom enigiets gee. Hy het geld gevra.”

hoewe, aanval
Johan Visser (middel) by Betsie en Thys Gordon by hul agterdeur waar die rower in die huis gekom en vir Thys op die vloer vasgepen het. Thys het hom daar en dan ‘n oorveeg gegee. Foto: Susan Cilliers

Sy was so duiselig en onvas op haar voete dat sy nie kon loop om die kluis vir hom te gaan wys nie. “Hy het my kamer toe gesleep en my aanhou skop.” Nadat die rower die Gordons se pistool uit hul kluis gevat het, is hy uit die kamer.

“Ek het handeviervoet deur toe gekruip en myself binne die kamer toegesluit. Dis net die Here wat my krag gegee het. Ek het die paniekknoppie gedruk en hulp op die burgerbandradio ontbied. Ek was so bekommerd oor Thys en dat die rower hom gaan doodmaak.”

Die rower het vir my gesê hy maak my vrek. Ek het gesê ek sal vir hom enigiets gee. Hy het geld gevra.

’n Rower het Thys buite die huis oorval. “Ek het later gehoor die rower het my man by die agterdeur plat gegooi en met sy knieë bo-op hom gestaan,” sê Betsie.

“Thys het hom teëgesit en die rower deur die gesig geklap.”

Roma Visser, die Gordons se buurvrou, het Betsie se geskree omstreeks 18:40 gehoor. Haar man, Johan, sê hy was bang sy bure het dalk seergekry omdat “tannie Betsie onlangs baie siek was en oom Thys nie lank terug nie ’n beroerte gehad het”.

Net toe Visser aan die Gordons se oop deur by die televisiekamer klop, het die alarm afgegaan. Hy was bekommerd toe hy Thys se pantoffels, hoed en ’n lepel op die stoep sien lê, en Thys se donkerbril in die huis op die vloer. Toe Visser in die huis instap, het Thys na hom gestap. “Ek wou nog groet, toe trek hy my aan die arm in die kombuis in,” sê Visser.

Die rower was baie onhandig met die pistool. Ek sê toe weer vir hom: ‘Kom, laat jy f*k*f.’ Ek het die kans waargeneem om terug in die huis te hardloop en my en oom Thys daarbinne toe te sluit.

Net hierna het hy die rower met die pistool gesien. “Ons het ’n kalm woordewisseling gehad. Hy het gesê ek moet uitgaan. Toe vra ek hom: ‘Wat maak jy hier aan die binnekant? Gaan jy uit.’ Ons het ’n paar keer oor en weer vir mekaar gesê die ander een moet eerste uitgaan. Ek het toe maar eerste uitgestap, met hom agterna.”

hoewe, aanval
Johan Visser (middel) by Betsie en Thys Gordon in hul tuin op hul hoewe naby Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers

Thys en Betsie was nog in die huis.

“Ek het gedink wel, as jy my wil skiet, skiet my dan maar hier op die gras,” sê Visser. “Die rower was baie onhandig met die pistool. Ek sê toe weer vir hom: ‘Kom, laat jy f*k*f.’ Ek het die kans waargeneem om terug in die huis te hardloop en my en oom Thys daarbinne toe te sluit.”

Hulp het blitsig opgedaag en die rower/s het gevlug. Behalwe die pistool, is baie ammunisie en twee selfone gesteel.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die polisie is nog onseker presies hoeveel aanvallers daar was. ’n Saak van huisroof word ondersoek. Niemand is teen Woensdagmiddag nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting kan a.o. Johan Mostert, die ondersoekbeampte, op 082 568 5734 bel.

Meer oor:  Johan Visser  |  Betsie En Thys Gordon  |  Potchefstroom  |  Huisroof  |  Rower  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.