Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hofordonnans aangekla ná gevangene ‘verdwyn’

’n Hofordonnans het Woensdag self in die beskuldigdebank in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn nadat ’n vermeende gevaarlike gevangene in sy sorg Maandag iewers tussen die hof en die tronk “verdwyn” het.

Ao. Samuel Lesibana Mokoena, ’n polisielid wat by die hof werk, moes Maandag ’n vangwa vol verhoorafwagtendes ná hul hofverskynings terug na die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria neem.

Die gesoekte Clement Mahlangu wat tussen die landdroshof in Pretoria-Noord en die tronk verdwyn het.
Clement Mahlangu het tussen die landdroshof in Pretoria-Noord en die tronk spoorloos verdwyn.

Een van hulle was Clement Mahlangu (34) wat in die hof verskyn het op meer as 10 aanklagte van ernstige geweldsmisdade teenoor vroue.

Daar was reeds voorheen bewerings dat van die sake teen hom teruggetrek kan word nadat die klaagsters glo geïntimideer is.

Mahlangu se saak is Maandag vir verdere ondersoek uitgestel en hy was terug in die hofselle voordat hy in die vangwa gelaai is. Dit is onbekend of Mokoena die enigste polisielid in die vangwa was en of daar nog polisielede by was. Dit blyk wel dat die vangwa minstens een keer op pad na die tronk stilgehou het – en later by die bestemming aangekom het met al die ander verhoorafwagtendes, behalwe Mahlangu.

Niemand is glo ingelig dat daar een “passasier” te min was nie.

“Die besonderhede van Mahlangu se ontsnapping is nog vaag en word ondersoek, maar ons het intussen met ’n soektog na hom begin en vra die publiek om ons in te lig sou hulle weet waar hy hom bevind,” sê kapt. Matthews Nkoadi, polisiewoordvoerder.

Intussen is Mokoena gearresteer en hy het Woensdag in die einste landdroshof verskyn op aanklagte van hulpverlening tot ontsnapping en regsverydeling omdat hy dit nie aan sy bevelvoerder gerapporteer het dat ’n verdagte in sy sorg ontsnap het nie.

Aanklagte van korrupsie mag dalk ook later bygevoeg word.

Adv. Tania Carstens, aanklaer, het in die hof gevra dat die saak tot volgende week uitgestel word, sodat die staat die inligting kan bekom wat nodig sal wees om Mokoena se borgtogaansoek aan te hoor.

“Ons versoek dat die beskuldigde by die Moot-polisiekantoor aangehou word. Daar moet bewysstukke soos registers, lasbriewe en verklarings van ooggetuies bekom word,” sê sy.

Van die bewysstukke is ook by die hofgebou self, waar, beweer die staat, “die intensie gevorm is” om die misdryf (die ontsnapping) te pleeg.

“Gevangenes in die Kgosi Mampuru II-gevangenis mag moontlike getuies wees en hul verklarings moet eers bekom word.

“Dit is ook nog nie bekend wat die beskuldigde se status by sy werkgewer (die polisiediens) is en of daar tugstappe gaan wees nie,” sê Carstens.

Thabo Sedibe, die polisielid se regsverteenwoordiger, het gevra dat die borgtogaansoek vroeër aangehoor word omdat Mokoena ’n diabeteslyer is wat twee keer per dag insulien moet inspuit.

Hy kon dit sedert sy inhegtenisneming nie doen nie en sy gesondheid het drasties verswak. Die verdediging het ook ’n landdros van ’n ander landdroskantoor as Pretoria-Noord versoek, omdat Mokoena daar werk en aan die landdroste bekend is, wat, volgens hom, die saak mag beïnvloed.

Carstens het geantwoord dat ’n reëling met die Moot-polisiekantoor getref kan word dat Mokoena se familie sy medikasie vir hom bring.

“Die staat gaan nie vroeër al die nodige inligting kan bekom nie. Ons probeer ook die opsporingstelsel (van die vangwa) se rekords bekom, sowel as moontlike beeldmateriaal,” sê sy.

Die saak is tot volgende week vir ’n borgtogaansoek voor ’n buite-landdros uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.