Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hommeltuig help om boewe te vang

’n Hommeltuig is vandeesweek in Bloemfontein ingespan in die geveg teen misdaad en het meegehelp dat drie vermeende inbrekers aangekeer is waar hulle in ’n verlate huis in Westdene geskuil het.

Die polisie in die stad het Dinsdag omstreeks 09:30 die AfriForum-tak in Bloemfontein se hulp ingeroep om die huis in Barnesstraat, Westdene, waar die verdagtes weggekruip het, met ’n hommeltuig vanuit die lug dop te hou en moontlike ontsnappingsroetes te identifiseer.

Dit is die huis in Barnesstraat, Westdene, wat misdadigers na bewering gereeld as skuilplek gebruik.

Die huis staan leeg en word glo gebruik as skuiling vir misdadigers.

Netwerk24 verneem die polisie se misdaadintelligensie-eenheid het inligting ontvang dat mense in die huis skuil, waarna beamptes van die Parkweg-polisiekantoor, die Bloemfonteinse blitspatrollie en lede van AfriForum se Rayton-Heuwelsig-tak gereageer het.

’n Opgeleide hommeltuig-vlieënier van die buurtwag het ’n hommeltuig van AfriForum gebruik om die huis met ’n valkoog dop te hou en seker te maak die mans het nie ander vlugroetes nie.

’n Polisiebeampte staan wag by die drie mans wat Dinsdag in hegtenis geneem is toe die polisie op ’n verlate huis in Westdene, Bloemfontein, toegeslaan het.

Al drie mans is binne die huis aangetref en in hegtenis geneem.

Die verdagtes, wat gesoek is vir huisbraak en met ander rooftogte in die stad verbind word, sal straks teregstaan weens opsetlike saakbeskadiging en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Van die gesteelde goedere is ook op die perseel gevind.

Een van die verdagtes is glo ’n bendelid.

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om self hul veiligheid te prioritiseer,” sê Joseph Renaud, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad.

“Ons kan nie op die regering alleen staatmaak om na ons veiligheid om te sien nie.”

Hy moedig inwoners aan om by enige plaaslike veiligheidsinstelling in hul omgewing betrokke te raak of hulle by AfriForum aan te sluit.

Meer oor:  Afriforum  |  Bloemfontein  |  Dief  |  Misdaad  |  Hommeltuig  |  Diewe  |  Inhegtenisname  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.