Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hond, eienaar in huisrooftog geskiet

’n Man (70) van KwaZulu-Natal en sy geliefde hond is ernstig beseer nadat albei tydens ’n huisrooftog raakgeskiet is.

Hunter (6), ’n pitbull wat sy eienaar, Charles van Heerden (70), in ’n huisrooftog beskerm het, word in ’n voertuig gelaai. Hy is na ’n veearts geneem nadat hy geskiet is. Foto: Verskaf

Hunter (6), ’n pitbull, het Charles van Heerden, sy eienaar probeer beskerm.

Van Heerden sterk in die Lenmed eThekwini-hospitaal aan, terwyl Hunter in die Westville-veeartspraktyk behandel word.

Vier gewapende rowers met klapmusse het Dinsdag omstreeks 22:20 toegang tot die huis in Moseley, wes van Durban, gekry.

Van Heerden se vrou, Hettie (67), was in die sitkamer toe sy ’n geluid hoor en die verdagtes in die kombuis sien. Haar man was besig om op die huistelefoon in die oopplan-kombuis-en-eetkamer te gesels.

“Ek het gehardloop om die paniekknoppie in die huis te druk. Toe ek terugkeer, het hy op die vloer gelê,” sê Hettie.

Kol. Thembeka Mbele, ’n KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Die verdagtes het na bewering by die voordeur ingegaan.

“Die man het probeer om die vuurwapen by die een verdagte af te vat. Twee skote het tydens die struweling afgegaan en die man is in die heup geskiet,” sê Mbele.

Volgens Hettie het die koeël haar man in die linkerkantste heup getref en is by sy regterheup uit.

Die ander koeël het Hunter, wat op die rower afgepeil het, in die blad getref en is tussen sy agterbene uit.

Die egpaar het nog ’n pitbull, Emily (5), wat nie in die voorval beseer is nie.

“Die honde het nie geblaf nie, maar op hulle (die rowers) afgestorm,” sê Hettie, wat nie in die voorval beseer is nie.

Die sesjarige pitbull, Hunter, word op ’n draagbaar vervoer nadat hy in ’n huisrooftog geskiet is toe hy sy eienaar, Charles van Heerden (70), wou beskerm. Foto: Verskaf

Die verdagtes het met Van Heerden se selfoon gevlug.

Die polisie ondersoek ’n saak van roof en poging tot moord.

Rescue Care-paramedici het Van Heerden op die toneel behandel en hom na die hospitaal gebring. Blue Security het Hunter na die veearts geneem, terwyl die eThekwini-metropolisie hulle die sowat 15 km-rit soontoe begelei het, sê Andreas Mathios, woordvoerder van die sekuriteitsfirma. Die hond is behandel en vir X-strale geneem.

Van Heerden het Woensdag in die vroeë oggendure ’n noodoperasie ondergaan. Hy is Donderdagoggend weer geopereer. Sy ingewande en die senuwee in albei bene is in die skietvoorval beskadig.

“In die stadium baklei hy ook teen vroeë tekens van sepsis. Hy is redelik kritiek,” sê Hettie.

Met Hunter gaan dit baie goed.

In die stadium baklei hy ook teen vroeë tekens van sepsis. Hy is redelik kritiek.

“My skoonseun (Richard Fabby) het vanoggend (Donderdag) by Hunter gaan kuier en hy was baie bly om hom te sien,” sê Hettie.

Hunter beweeg al rond, maar word nog op ’n drup gehou en kry antibiotika. Dit is nog nie duidelik of hy geopereer gaan word of nie, daarom hou die veearts hom vir waarneming tot Maandag.

Intussen het Nikki Mathios van Pet Rescue Pinetown KZN ’n geldinsamelingsveldtog vir Hunter se behandeling begin.

Pet Rescue Pinetown KZN is ’n netwerkinisiatief wat help om vermiste diere op te spoor en ’n tuiste vir hawelose diere te vind.

Plasings oor Hunter se vordering op Pet Rescue Pinetown KZN se Facebook-blad is teen Donderdagmiddag meer as duisend keer gedeel.

“Hulle (Hunter en Emily) is ons kinders in die huis. Hulle volg ons oral waar ons gaan,” sê Hettie.

Sy en Emily het Woensdagaand in die huis geslaap en sê niemand gaan haar uit háár huis jaag nie.

Meer oor:  Pitbull  |  Durban  |  Geskiet  |  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.