Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Willem Breytenbach by psigiater aangekeer

Met 'n botteltjie water in sy hande wat voor hom vasgeboei is, het Willem Breytenbach, sakeman, oudonderwyser en voormalige Media24-werknemer, Dinsdag by die kantore van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings in Mosselbaai aangekom vergesel van speurders van dié eenheid se provinsiale kantoor.

Speurders, onder leiding van ao. Rowan Andrews, het hom te midde van groot drama by sy psigiater se spreekkamer in Hartenbos, net buite Mosselbaai, in hegtenis geneem. Andrews, sy twee kollegas, serss. Mziwetu Sidinana, Vatiswa Tsotso, en sers. Soretha van Zyl, het Dinsdag by Breytenbach se ma se huis in Reebok met 'n lasbrief vir sy inhegtenisneming opgedaag.

Toe die speurders kort ná 12:00 by sy ma se huis aankom, was Breytenbach nie daar nie. Die polisiebeamptes se geklop aan die voordeur het ook onbeantwoord gegaan. Die speurders het daarna om die huis geloop, waar hulle onder meer aan die deur van die woonstel aangrensend aan die huis, asook aan die agterdeur, geklop het. Ook toe was daar geen teken van Breytenbach of enige van die ander inwoners van die huis nie.

willem breytenbach
Willem Breytenbach is geboei voordat hy na die kantore van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (GKS) in Mosselbaai geneem is. Foto: Jaco Marais

Die speurders het daarna weer om die huis geloop, waar hulle die handvatsel van die voordeur gedraai het en besef het dit is oop. Hulle het besef die agterdeur is ook oop, ingegaan en hulself aangekondig.

In die agterplaas het 'n paar mansandale gelê. Die braairooster se deksel het op die grasperk gelê. Drie koeldrankbottels, Fanta en Coke, was langs 'n selfoon op die kombuistoonbank. Die wasbak was vol skottelgoedwater en die strykyster was nog aan. Niemand het egter geantwoord toe die polisie roep nie. Kort daarna het die huis se alarm afgegaan.

Dis eers nadat die polisie verder die huis ingegaan het dat twee vroue - Breytenbach se ma en sy skoonsuster - uit een van die kamers geantwoord het. Sy ma het daarna vir die polisie gesê hy is by sy psigiater in Hartenbos.

'n Dolle gejaag het gevolg waarna hy sowat 20 minute later, enkele oomblikke nadat sy sessie by die psigiater geëindig het, deur Andrews en sy kollegas in verband met drie klagte van seksuele aanranding in hegtenis geneem is. Geklee in 'n groen blokkieshemp en blou denimbroek is Breytenbach daarna teruggebring na sy ma se huis waar hy in 'n donkerrooi en blou T-hemp met 'n wit streep verklee het.

Hy het met sy inhegtenisneming aan die polisie gesê hy sal sy volle samewerking gee. Breytenbach is daarna deur die polisie na die GKS-eenheid se kantore geneem waar hy geprosesseer sal word. Hy sal later Dinsdag na die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor geneem word. Breytenbach sal in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklagte van seksuele aanranding sodra hy aangekla is.

willem breytenbach
Willem Breytenbach is na sy ma se huis op Reebok geneem waar hy 'n ander hemp aangetrek het. Foto: Jaco Marais

Breytenbach (55) het onlangs sy spoor op sosiale media uitgewis en ook sy onderneming, Lightspeed Digital Media, wat in die Cape Living-gebou in Pepperstraat, Kaapstad, gesetel was, se deure gesluit.

Hy het ook onlangs uitgewyk na Reebok, waar hy volgens bronne wat die huis die afgelope twee weke dopgehou het, ‘n amper kluisenaarsbestaan gevoer het. Hy het twee weke gelede met Netwerk24 se eerste besoek aan die huis gesê dat hy na sy bejaarde ma kyk en nie op die bewerings teen hom kommentaar gaan lewer nie.

Breytenbach het sy loopbaan as onderwyser begin by Grey-kollege in Bloemfontein waarna hy by die Hoërskool Willowmore in die Oos-Kaap en die Hoërskool Langenhoven op Riversdal skoolgehou het.

Hy was in die jare daarna onder meer onderwysverslaggewer en nuusredakteur by Die Burger en het die maatskappy se skoolkoerantprojek help bestuur. Hy het ook in die koerant se promosie-afdeling gewerk, in Indië diens gedoen, was uitgewer van Media24 se weeklikse tydskrifte en het die marktedepartement van die tydskrifafdeling (wat advertensieverkope en sirkulasiebestuur insluit) gelei.

Daarna het hy twee ondernemings begin, Lumico (waar hy in 2018 weg is) en Lightspeed Digital Media.

Meer oor:  Willem Breytenbach  |  Mosselbaai  |  Reebok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.