Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hotazel: Groot kommer ná diefstal van wapens by polisie
’n Satellietfoto van die Tsineng-polisiekantoor. Foto: Google Streetview

Inwoners van Hotazel en die omliggende nedersettings is bekommerd en op hul hoede nadat ’n groot versameling wapens en ammunisie Saterdagaand by die Tsineng-polisiekantoor gesteel is.

Dié polisiekantoor, wat in ’n verafgeleë deel van die Kalahari geleë is waar daar nie werklik erge misdaad voorkom nie, is Saterdag deur slegs twee beamptes beman.

’n Vroulike beampte was in die kantoor aan diens terwyl haar kollega op patrollie in die woonbuurt was.

Drie mans het omstreeks 21:30 by die polisiekantoor aangekom om kwansuis ’n klag in te dien. Twee van hulle het oor die toonbank gespring, die beampte met wapens gedreig en die kluis se sleutels geëis.

Nadat hulle onder meer drie R5- semi-outomatiese gewere met twee magasyne en 37 patrone, twee haelgewere met 103 patrone en agt 9 mm-pistole met vyf magasyne en 98 patrone gebuit het, het hulle die beampte vasgebind en met haar selfoon gevlug.

Die beampte kon haarself later bevry en hulp ontbied.

Kol. Brenda Muridili, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die voorval word deur die Valke in die Noord-Kaap ondersoek. Sy kon nie verder kommentaar lewer nie aangesien die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar inwoners van Tsineng, Maipeng, Hotazel en ander nedersettings sê die polisiëring is sedert Sondag verskerp en vermeerder.

Renier Strydom, ’n boer en sakeman van Hotazel, sê die voorval wek groot kommer in die gemeenskappe.

“Almal is angstig en ek het aan my werknemers gesê om op die uitkyk te wees vir enige vreemde gebeure en mense wat in ons omgewing beweeg.”

Hy sê dit is veral ’n bekommernis omdat baie plase in dié deel van die Kalahari afgeleë is en nie selfoonopvangs het nie.

“Die gemeenskappe span saam en ons doen wat ons kan. Boere is op die uitkyk vir spore of tekens wat dalk met die ondersoek kan help om die oortreders vas te trek.”

Strydom sê inwoners van die gebied voel geweldig blootgestel.

“Hoe verdedig jy jouself teen semi-outomatiese wapens? Ons kan net doen waartoe ons in staat is, maar ons hoop die verdagtes word gou aangekeer.”

Almal is angstig en ek het aan my werknemers gesê om op die uitkyk te wees vir enige vreemde gebeure en mense wat in ons omgewing beweeg.

Hy sê dit is ontstellend dat dié tipe voorvalle al hoe nader aan vreedsame gemeenskappe beweeg wat nie daaraan gewoond is nie.

Enigeen met inligting oor die rooftog by die Tsineng-polisiekantoor word versoek om die Stopmisdaadnommer by 08600 10111 te bel of inligting op die app MySAPS aan te meld.

Meer oor:  Polisiekantoor  |  Ammunisie  |  Wapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.