Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hou 'klipgooier' agter tralies, vra drawwer in petisie

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat 'n foto wat sensitiewe lesers kan ontstel.

Die vrou wat vroeg in Augustus met ’n klip gegooi is terwyl sy tussen St. James en Muizenberg in Kaapstad gedraf het, vra mense om ’n petisie te onderteken dat haar vermeende aanvaller nie weer op straat beland nie.

Angela Lindeque skryf op Facebook ’n man het haar helder oordag in die openbaar probeer vermoor. “Hy word gelukkig vir eers aangehou. Hy is glo ’n gereelde oortreder en gaan dit weer doen, tensy ons hom keer,” skryf Lindeque.

Lindeque se dogter, Tamaryne, het Woensdag aan Netwerk24 gesê die aanval het haar ma se lewe verander.

“Sy het verlede Woensdag haar derde operasie ondergaan. Dit het nie so goed gegaan soos ons gehoop het nie en sy word Vrydag weer geopereer.”

Sy sal ook later plastiese chirurgie moet ondergaan.

Sy sê haar ma kan nie enige gewig op haar been sit nie en dit is onseker of sy weer sal kan bestuur of draf.

“Sy mag vir ses weke glad nie loop nie,” sê Tamaryne.

Lees ook: Vrou met yslike klip gegooi terwyl sy draf

Lindeque se seun, Kieran, het die petisie namens sy ma op Change.org begin.

“Die verdagte word tans deur die polisie aangehou en die gemeenskap vra dat hy nie op borgtog vrygelaat word nie, maar na ’n toepaslike instelling gestuur word.”

Volgens Kieran is daar aan hulle gesê die verdagte is geestesongesteld en dat hy ná ’n vorige klag vrygelaat is omdat die staat glo “nêrens het om hom te plaas nie; al die instellings is vol”.

Sy ma het op Sondag 4 Augustus gaan draf. Omstreeks 09:00, toe daar reeds verskeie “drawwers, stappers en koffiedrinkende wandelaars” op die wandelpad was, het ’n man langs die paadjie ’n groot klip opgetel en gegooi na die kop van die persoon wat verby hom gekom het. Hy het sy ma se kop rakelings gemis, maar haar hakspier getref. Die spier is geskeur en haar been het ernstig seergekry.

Kieran Lindeque het dié foto van die klip wat sy ma getref het, op Facebook gedeel. Foto: Facebook/ Kieran Lindeque
Angela Lindeque is al drie keer geopereer om die erge skade aan haar been te herstel.

Kieran sê ’n ander vroulike drawwer het omgedraai om sy ma te help, maar die verdagte het ook ’n klip na haar gegooi. Hy het die tweede drawwer gemis, maar teruggegaan na waar Lindeque gelê het en haar weer probeer aanrand “waar sy hulpeloos op die grond gelê het”.

’n Derde drawwer wat die aanval sien gebeur het, het om hulp geroep. “Gelukkig het dapper omstanders wat gesien het wat gebeur het, die aanvaller in hegtenis geneem.

“Die drawwer kon enigiemand gewees het. Enige Kapenaar wat oor die jare heen in die natuurskoon gedraf of gestap het. Dié keer was die drawwer my ma.”

’n Duitse toeris is in Julie 2017 ook helder oordag op die wandelpaadjie tussen Muizenberg en St. James met ’n hamer aangerand en beroof.

Lees meer: Toeris met hamer geslaan, beroof

In Maart 2017 is ’n drawwer op dieselfde wandelpad met ’n vuurwapen gedreig en byna van haar selfoon beroof. Die drawwer het haar egter teëgesit en dadelik na die polisie gegaan.

Byna 5 500 mense het reeds die Lindeque-gesin se petisie onderteken.

Sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdagoggend aan Netwerk24 bevestig dat die verdagte steeds in aanhouding is.

Die 25-jarige man is Dinsdag vir ’n ondersoek na ’n dokter geneem, wat die verdagte na ’n hospitaal verwys het vir 30-dae-waarneming. Hy sal in aanhouding bly totdat daar plek vir hom in ’n hospitaal is, sê Rwexana.

Sy sê ’n klag van poging tot moord staar die verdagte in die gesig.

Meer oor:  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.