Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hou op om vroue te verniel, sê ANC-vroueliga

’n Groep van sowat 50 vroue het Vrydagoggend saam met die ANC-vroueliga ’n betoging teen geslagsgeweld gehou voor die huis waar twee bejaarde susters onlangs in Port Elizabeth vermoor is.

Die betogers het na die huis in KwaMagxaki opgeruk, waar hulle geregtigheid vir die moorde op Nozizwe Ngqungwana (79) en haar suster, Phumla Judith Ngqungwana (73), geëis het.

Die vroue is verlede Woensdag albei met ’n enkele skietwond aan die agterkant van die kop aangetref.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê geen deurbraak is nog in die polisie se soektog na die moordenaars gemaak nie.

Die susters is doodgeskiet kort nadat hulle van ’n familielid se begrafnis teruggekeer het.

Volgens Naidu is die twee slagoffers saam hul skoonsuster by die huis afgelaai. Die seun van die bestuurder wat hulle afgelaai het, het in KwaDwesi gewag en hy het dus weer gery.

Kort daarna het die twee onbekende mans glo die huis binnekom en almal opdrag gegee om op die grond te lê en geld geëis.

Die polisie se inligting dui daarop dat die slagoffers na verskillende vertrekke geneem is, waarna skote in een van die vertrekke afgevuur is.

Die ANC-vroueliga in die Nelson Mandelabaai-metro het Vrydag betoog teen geslagsmisdaad voor ’n huis in KwaMagxaki, Port Elizabeth, waar twee bejaarde susters onlangs vermoor is. Foto: Lulama Zenzile

Die motorbestuurder het terselfdertyd met sy seun by die huis opgedaag, waar die aanvallers hul selfone en beursies afgeneem en hulle gekaap het.

Die twee susters is dood aangetref in ’n vertrek in die huis.

Nolubabalo Sifali, ’n sameroeper vir die ANC-vroueliga in die Nelson Mandelabaai-metro, sê hulle het Vrydag teen misdaad in die algemeen betoog, maar spesifiek teen geslagsgeweld.

“Ons kan nie langer toekyk hoe die vroue in ons streek verniel word nie. Daar moet nou daadwerklike optrede van die owerhede wees, en die sake moet met erns en met spoed opgelos word.”

Die groep sê daar word gesloer om DNS-monsters te toets, wat tot vertragings in hofsake lei.

Die ANC-vroueliga stel tans ondersoek in na hoeveel geslagsgeweld-sake die afgelope twee jaar in die stad hangend is.

“Ons sal die lys in Augustus, Vrouemaand, in ’n optog aan die hooggeregshof (in Port Elizabeth) oorhanding, waar die owerhede op swart en wit sal kan sien hoeveel sake nog nie afgehandel is nie.”

Sifali het ook ’n beroep gedoen op die plaaslike munisipaliteit om meer toevlugsoorde vir vroue en slagoffers van geslagsgeweld beskikbaar te stel.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Betoging  |  Anc-Vroueliga  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.