Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Hougie se plaas’ is net ’n slenter

’n Paartjie van Brits berou die dag toe hulle hul werk gelos het, hul besittings verkoop en hul huurhuis prysgegee het om op Francois Hougaard se “plaas in Engeland” te gaan werk.

Ina-Lee Painter en Adriaan Veldsman
Ina-Lee Painter en Adriaan Veldsman ná hul teleurstelling. Foto: Deon Raath

Want dit blyk toe dit was glad nie die Springbok-agterspeler wat vir Adriaan Veldsman (20) en sy verloofde, Ina-Lee Painter (20), op Facebook werk as voorman en au pair aangebied het. Nou sit hulle in sak en as by Adriaan se ma op ’n plaas in die Vrystaat.

Intussen het dit aan die lig gekom dat amper 20 ander mense vir dieselfde slenter geval het. Niemand weet wie die skarminkel is wat hom as Hougaard op Facebook voorgedoen het nie, maar dis beslis nie Hougaard nie.

“Ek sal nie ’n voorman aanstel nie, want ek het nie eens ’n f****n plaas nie. Ek sal nie ’n au pair aanstel nie, want ek het nie kinders nie,” het Hougaard die afgelope week ontsteld gesê.

Ek sal nie ’n voorman aanstel nie, want ek het nie ’n plaas nie.

Die slagoffers was almal Facebook-vriende van Hougaard, of só het hulle gedink. Veldsman se Facebook-vriendskap met die Hougaard-na-aper het al in 2013 begin.

Vir sy “vriende” het dié “Hougaard” allerlei stories vertel. Soos dat sy ma kanker het, dat sy pa lankal dood is en dat hy stil-stil getroud is sonder dat die wêreld daarvan weet.

Dié week sê Hougaard: “Ek was nog nooit in my lewe getroud nie. Altwee my ouers leef nog en hulle is heeltemal gesond,” voeg hy by.

Om die Facebook-blad nog outentieker te laat lyk, het ander “bekendes” van tyd tot tyd daar saamgesels. Voor sy kastige dood het Hougaard se “pa” partykeer boodskappe gelos en ander rugbyspelers ook. Die Skotse rugbyspeler Thomas Heathcote het gereeld aan gesprekke deelgeneem.

Francois Hougaard
Francois Hougaard

Toe verlede jaar sê Hougaard skielik hy wil ’n paar poste vul. Hy het afsonderlik met dié wat belang gestel het begin korrespondeer.

Vir Veldsman het hy werk as plaasvoorman aangebied en vir Painter ’n pos as au pair.

Sy het haar werk gelos en hy het van sy klein skaap-en-bokboerdery, sy voertuig, sy huurhuis en sy meubels ontslae geraak.

Hulle het hul baba se bed en hul eie matrasse vir arm mense weggegee en paspoorte gekry.

Toe verdwyn “Hougaard” skielik en hy sluit sy Facebook-profiel.

“Dit was nie eens ’n scam nie,” sê Veldsman verslae. “Ek het nooit geld vir dié mense oorbetaal nie. Ek verstaan glad nie wat hierdie mense aan my gedoen het nie. Is dit iemand wat siek in sy kop is?”

Hulle is nou werkloos en hulle het nie ’n idee waar hulle die geld gaan kry om van voor af te begin nie.

Veldsman het die swendelaar se ander slagoffers op Facebook opgespoor, maar die meeste van hulle is te skaam om met die media daaroor te praat. Tien van hulle is nou deel van ’n Facebook-groepie.

Almal is nou bang vir identiteitsdiefstal, want hulle het al hul inligting vir “Hougaard” gegee.

Jeff Louw (26), ’n boer van Heidelberg wat al in Amerika op plase gaan werk het, sê die inligting op die profiel was heeltemal geloofwaardig.

“Ek weet nie wat was dié mense se plan nie, want hulle het nooit my geld gesteel nie,” sê Louw. “Ek het my bakkie en my gewere verkoop om Engeland toe te gaan, maar toe is daar niks. Ons het nooit met Francois self op die telefoon gepraat nie, net met ’n vrou.”

Nitanja Steyn, ’n Afrikaanse au pair in Duitsland, het haar werk prysgegee om vir Hougaard te gaan werk. Sy het ’n YouTube-video gemaak om mense teen die slenter te waarsku.

Hougaard het sy prokureur opdrag gegee om die saak te ondersoek.

“Hierdie hele ding is alles net bull****,” sê hy. “Ek verstaan nie hoekom mense dink ’n kontrak word deur Facebook (en daarna deur WhatsApp) gedoen nie. Veral as jy nooit eens met my gepraat het nie.”

Nes al die slagoffers kan hy nie dink wie so iets sou doen nie.

jaco.nel@rapport.co.za

Meer oor:  Francois Hougaard  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.