Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Huisbraak raak bykans 6% van huishoudings in SA

Huisbraak, met sowat 1,3 miljoen voorvalle wat in 2018-’19 aangemeld is, het volgens syfers van Statistieke Suid-Afrika (SSA) wat gister uitgereik is, sowat 5,8% van die huishoudings in die land geraak.

Die waarskynlikste slagoffers van huisbrake is huishoudings waarvan mans aan die hoof staan (teenoor huise met ’n vrou aan die hoof) en huishoudings in metrogebiede (teenoor dié in plattelandse gebiede). 

Wat bevolkingsgroepe betref, het wit en Indiër-huishoudings ’n groter kans om ’n huisbraak te beleef as swart en bruin huishoudings. 

Huishoudings met ’n baie lae of baie hoë inkomste is ook meermale in die visier weens die onderskeidelik swakker veiligheidstelsels by eersgenoemde en aantrekliker besittings by laasgenoemde. 

Die grootste verhouding van huisbrake was in die Noord-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal en die laagste in die Vrystaat. 

48% van die geraakte huishoudings het die voorvalle by die polisie aangemeld, blyk uit syfers van die staatsbestuur-, openbare veiligheid- en justisie-meningspeiling van die SSA waaraan 27 071 huishoudings deelgeneem het.

Volgens die peiling was daar in die 2018-’19-boekjaar meer as 1,3 miljoen voorvalle van huisbraak wat 969 567 huishoudings geraak het.

’n Geraamde 83 000 voorvalle van motordiefstal het in die boekjaar voorgekom wat 0,4% van Suid-Afrikaanse huishoudings geraak het. 

Die waarskynlikste slagoffers van motordiefstal is huishoudings waarvan mans aan die hoof staan, huishoudings in metrogebiede, wit huishoudings (teenoor swart huishoudings), huishoudings van jong volwassenes (teenoor dié met bejaardes aan die hoof) en huishoudings met ’n hoë inkomste. 

Sowat 86% van huishoudings wat motordiefstal ondervind het, het dit by die polisie aangemeld.

1,2 miljoen voorvalle van diefstal van persoonlike eiendom het in die 2018-’19-boekjaar voorgekom. Dit het 2,5% van mense ouer as 16 in die land geraak. Die waarskynlikste slagoffers was mans, wit en jonk wat in die Wes-Kaap en Gauteng woon.

580 000 voorvalle van rooftogte in strate het in die boekjaar plaasgevind. Mans was twee keer waarskynliker as vroue om slagoffers van dié rooftogte te wees, nes mense in metrogebiede.

Die Wes-Kaap het die hoogste persentasie, 1,9%, inwoners van 16 jaar en ouer wat slagoffers van straatrooftogte was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.