Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Huise brand in eMalahleni nadat Nigeriër glo verkrag

Die Nigeriese konsulaat het met die polisie vergader nadat Nigeriërs Dinsdag in eMalahleni (Witbank), Mpumalanga, aangeval is, onder meer omdat ’n landgenoot van verkragting verdink is.

Een van die huise wat aan die brand gesteek is. Foto: Verskaf

Dié vermeende verkragter is ernstig beseer toe lede van die plaaslike taxivereniging hom aangerand het omdat hy glo ’n vrou dae lank aangehou en verkrag het.

Hy word in ’n plaaslike hospitaal verpleeg en sal in die hof verskyn op aanklagte van verkragting sodra hy ontslaan word, sê kapt. Eddie Hall, polisiewoordvoerder in eMalahleni, in ’n mediaverklaring.

Intussen het ’n Nigeriër in dié dorp volgens Hall gesê hy en sy landgenote “pak nou hul goed op en gaan terug na hul tuisland omdat dit nie meer veilig is” om in Suid-Afrika te woon nie.

Chaos het Dinsdag in eMalahleni se middestad uitgebreek toe die Nigeriese man se beweerde vergrype aan die lig gekom het. Hall sê die brandweer en polisie het hul hande vol gehad toe twee huise en ’n onderneming aan die brand gesteek en ’n drankwinkel geplunder is.

Een van die huise wat aan die brand gesteek is, is glo die plek waar die Nigeriese man die 38-jarige vrou na bewering ’n week lank aangehou het. Volgens Hall het die vrou glo verlede week van Johannesburg na eMalahleni gegaan vir ’n werksonderhoud. “Nadat sy die ‘werkgewer’ op 15 Oktober ontmoet het, het hy haar glo in die huis gedwing en verskeie kere verkrag voordat hy haar daar toegesluit het.”

Die vrou het Maandagaand glo ontsnap en na die taxi-staanplek in die middestad gevlug. Sy het taxibestuurders gesmeek om haar na Johannesburg te neem. “Die lede van die taxivereniging het egter daarop aangedring dat sy vertel hoekom sy so histeries is,” het Hall gesê. “Hulle het besluit om op te tree nadat sy van haar beproewing vertel het.”

Chaos in ’n straat in eMalahleni nadat die brandweer vure by twee huise en ’n onderneming moes blus. Foto: Verskaf

Die vrou het die lede van die vereniging na die huis geneem waar sy aangehou is en die man uitgewys wat haar na bewering verkrag en aangehou het. Die lede het die Nigeriese man toe glo begin aanrand. Sy broer was ook daar. Toe die lede hom vertel wat sy broer gedoen het, het die verdagte se broer glo ’n wapen op hulle gerig. “Toe breek die hel los,” aldus Hall.

Die ander huis en onderneming wat aan die brand gesteek is, het glo nie verband gehou met die verkragtingsvoorval nie, maar wel met die taxilede se “oorlog teen Nigeriërs” oor beweerde dwelmhandel.

Die polisie ondersoek sake van openbare geweld, roof, brandstigting, kwaadwillige beskadiging van eiendom en diefstal. Inhegtenisnemings word binnekort verwag. Die vrou wat verkrag en aangehou is, het intussen ook klagte teen haar vermeende aanvaller ingedien.

Genl. Wilson Kekana, gebiedsbevelvoerder in eMalahleni, het die feit dat mense die reg in eie hande geneem en misdade gepleeg het, veroordeel. “Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om alle misdade by die polisie aan te meld en verdagtes so gou as moontlik aan die polisie te oorhandig. Laat die gereg sy gang gaan.”

Meer oor:  Nigeriër  |  Emalahleni  |  Aangeval  |  Huisbrand  |  Brand  |  Verkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.