Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Huiswerker aangekeer; het bitterlik op roudiens geween
Advanced Amid (30) en Casper Mudau (35) Dinsdag in die landdroshof in Polokwane.Foto: Deaan Vivier

’n Huiswerker en ’n voormalige restaurantwerker van die vermoorde sakevrou en haar bejaarde ma van Polokwane is Vrydagoggend in die stad in hegtenis geneem.

Die 51-jarige huiswerker het Dinsdag die roudiens van Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), bygewoon.

Sy het agter in die NG kerk Polokwane-noord gesit en is buite die kerk deur vriende en familie van die Deacons vertroos toe sy bitterlik gehuil het.

Die vrou het buite die kerk snikkend aan Netwerk24 gesê: “Wat met hulle gebeur het, maak my hart baie seer.”

Netwerk24 verneem dat die vrou na bewering ’n loongeskil met die Deacons gehad het.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het bevestig dat die vrou wat in hegtenis geneem is, ’n huiswerker is wat vir die oorledenes gewerk het.

Volgens Mojapelo is sy Vrydag omstreeks 08:00 in Polokwane, en ’n 41-jarige man omstreeks 09:00 in Ivory Park, Tembisa, in hegtenis geneem.

Die identiteit van die twee beskuldigdes is aan Netwerk24 bekend, maar hul name mag eers bekend gemaak word wanneer hulle Maandag in die landdroshof in Polokwane verskyn.

Die polisie in Limpopo soek na dié man wat as Owen Setisba bekend is. Hy kan moontlik help met inligting oor die moord op twee vroue van Polokwane.Foto: SAPD

‘n Onberispelike bron na aan die ondersoek het aan Netwerk24 gesê die man en die huiswerker is in ’n verhouding. Die man het in een van die takke van die Deacons se Ocean Basket-restaurante in Polokwane gewerk. Hy is onlangs afgedank.

Lizette was die eienaar van die Ocean Basket-takke in Mall of the North en in Savannah Mall in Polokwane. Hettie het haar met bestuurspligte gehelp.

Hulle is verlede Donderdag vroegaand in hul meenthuis in die Alpetra-kompleks in Welgelegen oorval, met messe gesteek en vasgebind. Hulle is daarna in Lizette se wit Honda-luikrugvoertuig geboender en ontvoer. Hul lyke is ure later, ná ’n reuse-soektog, deur die polisie in Lizette se motor in die veld sowat 25 km buite Polokwane gekry.

Netwerk24 verneem die vroue het versmoor, volgens die lykskouing.

Verskeie eenhede van die polisie in Limpopo en in Gauteng, met die samewerking van oudkol. Gawie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke (BMO) het die afgelope week onverpoos gewerk en leidrade opgevolg.

Casper Mudau (35) en Advanced Amid (30), wat Sondag in onderskeidelik Mookgophong en in Polokwane in hegtenis geneem is, is glo bekend aan die man en vrou wat Vrydag in hegtenis geneem is. Louwrens en sy span was ook betrokke by die inhegtenisneming van Mudau in Mookgophong.

Die twee mans het Dinsdag, ’n uur voordat die roudiens vir die Deacons begin het, in die landdroshof in Polokwane op onder meer aanklagte van moord verskyn. Landdros Janine Ungerer het die saak tot 25 September, uitgestel.

Die man wat Vrydagoggend in Tembisa in hegtenis geneem is, was ’n werker in een van die Deacons se restaurante in Polokwane. Foto: Bosveld Misdaadondersoeke

Die polisiekommissaris in Limpopo, lt.genl. General Nneke Ledwaba, het die span speurders geprys. Hy het ook gemeenskapslede bedank wat inligting verskaf het.

Die moord op die Deacons het Polokwane geruk en inwoners was Vrydag opnuut geskok toe dit bekend geword het dat die huiswerker in hegtenis geneem is.

Christa Deacon, Hettie se skoondogter en Lizette se skoonsuster, het Vrydag gesê sy en haar man, Quinton, is “dankbaar oor die inhegtenisnemings”.

“Die polisie was wonderlik. Hulle het ons heeltyd ingelig oor hul vordering.”

Ds. Dopper Erasmus, ’n jarelange vriend wat die Deacons se roudiens gelei het, het Vrydag gesê hy is verlig dat daar nog inhegtenisnemings was.

Hy het die moorde as “onmenslik wreed” beskryf.

Lizette het jare lank ’n woonstel op Erasmus en sy vrou, Rita, se erf in Polokwane, gehuur voordat sy en haar ma in Maart na die meenthuis in die Alpetra-kompleks in Welgelegen verhuis het.

Christo van der Merwe, wat alarm gemaak het toe hy op bloed in die Deacons se meenthuis afgekom het, het Vrydag ook gesê hy is baie bly dat nog twee mense in hegtenis geneem is.

Mojapelo het gesê die polisie soek nou na ’n Zimbabwiër wat die polisie met inligting oor die moorde kan help. Die man staan bekend as Owen Setsiba, maar gebruik ook die vanne Makutara en/of Mbedzi.

Enigiemand met inligting kan kol. Richard Boshomane by 079 894 5501, of sers. Phaladi Makola by 082 749 2233 bel.

Die hut waar ’n man Vrydagoggend in Tembisa in hegtenis geneem is. Foto: Bosveld Misdaadondersoeke
Die meenthuis waaruit Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), ontvoer is. Foto: Marietie Louw-Carstens
Lizette Deacon (55), ’n sakevrou van Polokwane, is verlede week in die stad ontvoer en vermoor. Foto: Verskaf
Hettie Deacon Foto: Verskaf
Drank is in ’n huis in Mankweng buite Polokwane gekry waar verdagtes in die moord op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), geskuil het.Foto: Bosveld Misdaadondersoeke

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.