Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Huiswerker vas ná Worcester-man se mesdood

’n Vrou wat op ’n plaas buite Worcester gewoon en werk het, het Vrydag vir die tweede keer in die landdroshof in Worcester op ’n aanklag van moord verskyn.

Nella Booysen (36) het glo verlede Saterdagaand vir Jaco Snyman (43) op die plaas De Bos buite Worcester met ’n mes doodgesteek. Snyman was die afgelope 13 jaar die plaas se werktuigkundige.

Snyman is drie keer met ’n mes gesteek – een keer in sy linkerskouer, een keer in sy bors en een keer in sy kop. Hy het op die plaas aan sy wonde beswyk.

Jaco Snyman (43) wat verlede Saterdag met ’n mes doodgesteek is op ’n plaas 30 km buite Worcester. Foto: Facebook

Luidens ’n verklaring van die polisie in Worcester was Snyman en Booysen in ’n woordewisseling betrokke, waarna sy ’n mes in die kombuis gaan haal en hom gesteek het. Hy is omstreeks 22:30 dood.

Booysen is dieselfde aand in hegtenis geneem en het Maandag in die landdroshof in Worcester op ’n aanklag van moord verskyn. Sy is op borgtog van R1 500 vrygelaat.

Die saak is tot Vrydag uitgestel, waar nuwe borgtogvoorwaardes aan haar gestel is.

Ingevolge die nuwe voorwaardes mag sy nie op De Bos kom nie. Sy moet op die plaas Monteview gaan woon en mag nie met die plaaseienaar, Flip Viljoen (62), kontak maak nie.

Die saak is tot 12 Augustus uitgestel.

Viljoen het Vrydag gesê hy en Snyman het Saterdagaand op die plaashuis se stoep gesit en gesels.

“Ek en Jaco het baie oor en weer gekuier, veral omdat ons met voëls teel. Ons het op die stoep gesit en gesels oor die voëls, hul kos en so aan.”

Booysen het as huiswerker vir Viljoen gewerk en het in ’n buitekamer op die plaaswerf gewoon. Booysen het glo die dag elders by familie van haar gekuier.

Viljoen beweer sy was ooglopend onder die invloed van drank toe sy die aand by die plaashuis aankom. Sy het glo gevloek en geskel.

“Ek het haar gevra om te eet en te gaan slaap, maar sy wou nie luister nie.

“Jaco het ook mooi met haar gepraat en haar naderhand aan haar skouer gedruk en gesê sy moet loop. Sy is toe weg en die volgende oomblik terug. Ek het nie eens die mes gesien nie, dit het alles so vinnig gebeur,” sê Viljoen.

“Dit was asof die duiwel haar beetgekry het. Binne ’n kwessie van sekondes was dit verby.”

Booysen het glo voorheen ’n drankprobleem gehad en het voor Saterdagaand ses maande laas alkohol gebruik.

Jaco Snyman (43) saam met sy dogter, Elanza (20), en sy vrou, Annemarie (41). Foto: Facebook

Viljoen se vrou, Alta, was in haar kamer en het nie die aanval gesien nie.

Viljoen sê nadat Booysen Snyman gesteek het en hulle die mes uit haar hande kon kry, het sy tot haar sinne gekom en opgehou.

“Sy het ons probeer help om die bloed te stop. Dit was asof sy skielik wakker geword het.”

Alta het intussen ’n ambulans gebel en ook vir Viljoen du Toit, hoof van die plaaswag in die gebied, gebel om te kom help. Du Toit, sy vrou en dogter het hulle na die toneel gehaas.

“Toe ek daar aankom, het die toneel vreeslik gelyk. Daar was oral bloed,” sê Du Toit.

“Ek het ’n lig in Jaco se oë geskyn, maar ek kon sien dinge lyk nie goed nie.”

Du Toit het ’n ander nooddiens gebel, wat gou by die plaas, sowat 30 km buite Worcester, aangekom het. Met hul aankoms was Snyman egter reeds dood.

Du Toit en sy vrou het vir Annemarie (41), Snyman se vrou van 20 jaar, die nuus gaan meedeel. Sy en hul 15-jarige seun was alleen by die huis, sowat 150 m van waar die voorval gebeur het.

“Ek het nie soontoe gegaan nie, ek is nie die tipe mens wat so iets sal kan hanteer nie,” sê Annemarie.

Viljoen sê hy het sedert die voorval nog nie kontak gehad met Booysen of haar met ’n oog gesien nie.

Sy sê sy neem dinge maar dag vir dag ná die aanval, en dit is vir haar moeilik om oor hom te praat. Hulle is skoolliefdes, en is selfs saam na haar matriekafskeid by die Hoërskool Piketberg.

“Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie,” sê Annemarie.

“Hy was vreeslik lief daarvoor om met sy hande te werk en kon alles regmaak. As hy nie geweet het hoe om iets reg te maak nie, het hy homself opgelei.”

Sy sê hy was bitter lief vir sy vrou en sy kinders, en mans soos hy is so skaars soos hoendertande.

“Al is pappa so vroeg van ons weggeneem, bly pappa nog steeds in ons harte,” het Jaco se dogter, Elanza (20), op Facebook geskryf.

“Pappa se stem is stil en jou plekkie is leeg. Dankie vir pappa se lewenslesse, liefde en besorgdheid. Ons mis jou, rus sag.”

Viljoen sê dit is vir hom ’n dubbele slag.

“Nella was vir agt jaar soos ’n kind in ons huis. Sy was my linkerhand, regterhand en my voete. Sy het vir my en Alta koffie in die bed gebring. Ek kan dit nie glo nie.”

Hy sê hy het ook ’n goeie vriend en werknemer in Jaco verloor.

Viljoen sê hy het sedert die voorval nog nie kontak gehad met Booysen of haar met ’n oog gesien nie.

Meer oor:  Worcester  |  Mesdood  |  Misdaad  |  Huiswerker  |  Inhegtenisname
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.