Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Hulle het met verkeerde mense gemors,’ sê man ná aanval

*Waarskuwing: 'n Foto in die teks kan sommige lesers ontstel.

Daardie aanvallers het met die verkeerde mense gemors, sê Hasie Terreblanche (68) van Saldanha wat Saterdag net voor 20:00 deur drie mans op sy neef se plaas in Citrusdal in die Wes-Kaap aangeval is.

Hasie Terreblanche ná die aanval.Foto: Verskaf

Hasie, ’n tweekampatleet, sê hy is fiks vir sy ouderdom en dis daarom dat hy hard gestoei het toe drie mans hom rondgeruk, oor die kop geslaan en sy vrou probeer bykom het.

Hasie en sy vrou, Liensie (69), was besig om te braai saam met Hasie se neef Jan Mouton (78) by die plaashuis op Vlakrug, Citrusdal, toe ’n gewapende man om die hoek van die huis kom.

Daar is aanvanklik berig Liensie was buite toe sy die man gewaar, maar Hasie sê dit was hy wat buitentoe gegaan het om ’n besem te kry toe hy skielik ’n vreemde man sien.

“Daardie ouens het gekom om dood te maak,” sê Hasie.

“Een ou het my oorval en ek het met hom begin stoei. Ek het gesê hy moet maak dat hy wegkom, toe sien ek die pistool.”

Liensie het vinnig gedink en die groentepot waarmee sy besig was, gegryp en die aanvaller oor die kop geslaan.

“Toe sy hom slaan, kom die ander twee ouens te voorskyn. Die een het my vasgehou en die ander het my weer met iets oor die kop geslaan,” sê Hasie.

“Dit het alles so vinnig gebeur. Ek stoei my toe los en hardloop in by die huis. Ek en Liensie het die deur toegedruk en die paniekknoppie gedruk. Die alarm gaan toe af en hulle hardloop weg. Hulle het nie eens maskers gedra nie.”

Hasie het vier snywonde op sy kop en ’n diep wond aan sy linkerhand. Liensie het ’n paar minder ernstige skraapmerke.

Hasie Terreblanche vroeër nadat hy aan ’n wedloop deelgeneem het.Foto: Verskaf
Liensie Terreblanche (69)Foto: Verskaf

“Hulle kon ’n mes by hulle gehad het, ek weet nie,” sê Hasie.

Daar was nie honde rondom die huis wat kon waarsku nie.

Hasie sê hy het ná die aanval in sy voertuig geklim en na die hospitaal in Citrusdal gery om steke te kry.

Sy neef se seun, Hannes Mouton, het sowat 3 km van sy huis na die plaashuis gejaag nadat die veiligheidsmaatskappy hom laat weet het die paniekknoppie is gedruk.

“My neef Jan was in die huis toe die aanval gebeur het, maar hy is al oud en het eers later uitgekom en besef wat gebeur het,” sê Hasie.

“Hy woon gewoonlik alleen daar.”

Hasie sê hy en Jan kuier gereeld bymekaar. Hy en Liensie sal Maandagmiddag teruggaan na hul huis in Saldanha.

Ná die aanval het Hasie besluit om eers die nuus met sy ma, Sienie Terreblanche (97), te deel voordat hy met enigiemand anders daaroor praat. Sienie is in ’n ouetehuis in Kuilsrivier, en haar suster Hansie Hanekom was onlangs in die nuus toe sy 105 jaar oud geword het.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Billy Claasen, hoof van die landelike plaaswerkers ontwikkelingsorganisasie, het die aanval op die egpaar streng veroordeel.

“Ons wil ’n beroep op boere doen om asseblief op te hou om seisoenale werkers met vragmotors uit buurlande en ander provinsies aan te ry.

Sommige van hierdie mense het nie eens  identiteitsdokumente nie,” sê Claasen in ’n verklaring.

“Ons doen ’n beroep op die polisie en howe om hul werk behoorlik te doen en ook ’n swaar vonnis op te lê aan die skuldiges in hierdie voorval.

Hierdie soort bose aanvalle in die landboubedryf moet stopgesit word.”

Daardie ouens het gekom om dood te maak.

Meer oor:  Citrusdal  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.