Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Endley: ‘Hulle het nie my siel geknak’

‘Los hom dat hy doodgaan.”

Dít was die opdrag van die tronkhoof aan William Endley (57) se dokter toe hy in Suid-Soedan by die dood omgedraai het weens malaria.

Charmaine Quinn en William Endley saam met sy kleinseun, Meagal (4), wat hy Saterdagoggend vir die eerste keer gesien het. Quinn is Endley se suster. Foto’s: Deon Raath

“Ek het op die vloer van die tronkdokter se kantoor gelê toe hy die tronkowerheid laat weet het ek is kritiek siek weens malariakomplikasies. Die tronkhoof het nie ’n saak gehad nie.

“ ’n Dokter wat ook as sogenaamde politieke gevangene aangehou is, het na my gekyk en met kinien-inspuitings en medisyne wat die Suid-Afrikaanse ambassade gestuur het, is ek deurgetrek.”

So beskryf Endley gisteroggend op die O.R. Tambo-lughawe sy ervaringe die afgelope twee jaar en twee maande in tronke in die Suid-Soedanse hoofstad, Juba.

Sy en James Gatdet, ’n woordvoerder vir die opposisieleier Riek Machar, se vrylating is Woensdag as deel van die vredesonderhandelinge in die land aangekondig. Endley, ’n oudweermagkolonel, was Machar se veiligheidsraadgewer.

Met sy positiewe gees het hy daarin geslaag om te oorleef.

’n Verwese Endley het met ’n enkele sakkie vol notas en notaboeke – van hoek tot kant volgeskryf – op die lughawe aangekom. Sy rekenaar en die res van sy besittings het in Augustus 2016 te midde van bloedige gevegte in die strate van Juba verdwyn.

Machar het landuit gevlug nadat pres. Salva Kiir hom daarvan beskuldig het dat hy ’n sluipmoordkomplot smee. Machar is in Suid-Afrika in “beskermingsaanhouding” gehuisves voordat hy onlangs Khartoem toe is.

Endley se dogter, Gwyneth, en haar seuntjie, Meagal (4), wat hy nog nooit gesien het nie, was saam met sy suster, Charmaine Quinn (55), op die lughawe om hom te verwelkom.

Endley het geen identiteitsboekie of paspoort nie. ’n Amptenaar van die Suid-Afrikaanse ambassade het saam met hom gereis.

Polisiebeamptes het op die lughawe gewag om hom huis toe te vergesel as deel van die regering se veiligheidsmaatreëls.

“Afgesien van ’n paar klappe is ek nooit in die Blue House gemartel nie. Daar is wel twee ander politieke gevangenes dood, terwyl nog twee vermis word.”

William Endley het sy dogter, Gwyneth, meer as 15 jaar laas gesien voor Saterdagoggend met sy aankoms in Suid-Afrika.

Blue House is die land se gevreesde tronk wat deur die intelligensiediens beheer word. Endley en Gatdet was die enigstes van die sowat 35 van dié gevangenes in die tronk wat verhoor is. Einde Januarie vanjaar is hulle die doodstraf opgelê en na die sentrale tronk in Juba oorgeplaas.

“Die eerste agt maande was die ergste. Ek was in eensame opsluiting en het géén nuus van buite gekry nie. Aanvanklik het die regering selfs ontken dat ek gevang is.

“Kos was ’n koppie boontjies of lensies een keer per dag en pap. Ek het twee keer malaria met komplikasies gekry en toe inflammasie, wat my gewrigte só aangetas het dat ek nie kon loop nie. Van die gevangenes het dit ook gekry en enkeles is dood daaraan. Ek het 20 kg gewig verloor en ek is nie ’n vet ou nie.

“Ek is ure lank ondervra, maar hulle het nie my siel geknak nie. Ek het begin gedigte skryf om al die gebeure te verwoord. My hofsaak was ’n grap. Eers het die hof vergeet om my prokureur van my verskyning te laat weet, en toe in Januarie vanjaar het die aanklaer nie opgedaag nie.

“Ek en James is op 27 Februarie weens hoogverraad en sameswering ter dood veroordeel, selfs al was die regering volgens die vredesooreenkoms veronderstel om in Januarie reeds alle politieke gevangenes vry te laat.”

Intussen het Quinn, wat in Kaapstad woon, seker gemaak dat haar broer regsverteenwoordiging, medisyne en meer onlangs pakkies kry.

“William is my ma, Myrtle (77), se enigste seun. Vandat ons Woensdagmiddag laat bevestiging gekry het dat William vrygelaat word, het sy reggemaak vir sy terugkeer. Sy aanhouding was vir haar baie erg. Sy wou so graag saamkom Johannesburg toe om hom op die lughawe in te wag, maar sy is te swak.

“Sodra ons al William se dokumente by binnelandse sake gekry het, gaan ons terug Kaap toe.

“Dié week was een van trane, maar dié keer van blydskap. Die een beampte by ons ambassade in Juba se teksboodskap ná ons soveel maande gepraat het, was vir my so spesiaal,” het Quinn gesê.

Dié boodskap lui: “Ek het William nooit sonder ’n glimlag of ’n grappie gesien (in die tronk) nie – selfs as dit beroerd gegaan het. Met sy positiewe gees het hy daarin geslaag om te oorleef. Ek wens julle kon vandag (Vrydag) almal sien wat hom net voorspoed toegewens het nadat hy vrygelaat is. Julle het rede om baie trots op hom te wees.”

Endley is kort nadat hy in die sorg van die Internasionale Rooi Kruis vrygelaat is, met ’n vlug via Nairobi Johannesburg toe.

“Ek het ’n bier met komplimente van die ambassade in Nairobi gedrink. Alles is nog baie onwerklik om te dink ek is vry. Ek het klaar met Machar in Khartoem gepraat. Hy wil hê ek moet so gou moontlik my pligte hervat, want dit is nou ’n kritieke stadium in die vredesproses.”

Endley het onder meer ’n plan saamgestel om die land se onderskeie leërs in een mag saam te snoer. Nou is dit tyd om dit voort te sit, maar hy wil net eers tot verhaal kom.

Meer oor:  William Endley  |  Suid-Soedan  |  Malaria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.