Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Huurmoord’ in Melkbos: Gesin vlug glo
geskiet
Nici Heerschap

Die polisie is steeds op soek na die moordenaars van Nici Heerschap (74), wat Dinsdagoggend twee keer geskiet is waar hy in ’n voertuig voor sy seun, ao. Nico Heerschap, se huis in Melkbosstrand was.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die georganiseerde-misdaadeenheid van die Valke volg leidrade op.

Die vermoede bestaan dat dit ’n huurmoord was waartydens Heerschap sr. vir die verkeerde persoon aangesien is. Nkwalase kon dit egter nie bevestig nie.

Hy kon ook nie bevestig of bykomende veiligheid vir die Heerschap-gesin gereël is nie. Daar word verneem hulle het na ’n onbekende plek gevlug vir hul veiligheid.

Heerschap sr. is omstreeks 07:00 voor sy seun se huis agter die stuurwiel van ’n wit Toyota Land Cruiser doodgeskiet.

Heerschap jr. is ’n lid van die Valke se ondersoekeenheid wat sake soos bedrog en ander finansiële misdade ondersoek.

Die Heerschap-gesin het volgens ingeligtes nog tot Maandag vakansie gehou. Heerschap jr. sou Dinsdag terugkeer werk toe.

Heerschap sr., wat by sy seun gewoon het, het glo omstreeks 07:00 die voertuig uit die gesin se motorhuis getrek.

Hy was op pad om sy kleindogters by die skool te gaan aflaai vir die eerste dag van die derde kwartaal.

Hy het glo pas die voertuig uitgetrek toe hy deur ’n onbekende aantal verdagtes geskiet is. Volgens ingeligtes was die kinders nog in die huis.

Heerschap sr. se lyk was nog in die voertuig agter die stuurwiel toe Netwerk24 op die toneel in Harold Ashwell-weg aankom. Bloed het aan die onderkant van die voertuig se deur uitgeloop.

Heerschap sr., geklee in ’n kortbroek, ’n groen seilbaadjie en ’n blou pet, het vooroor in die sitplek gelê.

Daar was twee skote sigbaar aan die bestuurderskant van die voertuig. Die ruit aan die passasierskant was uitgeskiet en glasstukke het op die grond gelê.

Heerschap sr. se lyk is omstreeks 09:35 van die toneel in die rykmansbuurt, wat naby die strand geleë is, verwyder.

Werknemers by The Beach Villa, ’n gastehuis wat in dieselfde straat geleë is, sê hulle het iets gehoor wat soos ’n geweerskoot geklink het, maar het nie ondersoek gaan instel nie.

Forensiese ondersoekers het die voertuig en die toneel gefynkam.

Die dood van een is een te veel.
Albert Fritz
Nici Heerschap
Forensiese deskundiges op die toneel waar Nici Heerschap in die Toyota Land Cruiser in Melkbosstrand geskiet is. Foto: Jaco Marais

Heerschap jr. het in ’n stadium by die huis uitgekom en hom as die slagoffer se seun geïdentifiseer, maar hy wou nie met die media praat nie.

Volgens ’n ingeligte wat nie sy naam genoem wil hê nie, was Heerschap jr. veronderstel om Dinsdag in die streekhof in Kaapstad in ’n saak oor vuurwapens te getuig.

Dieselfde ingeligte beweer hy was glo geruime tyd besig om bekendes in die onderwêreld en bendekringe te ondersoek weens voertuig- en vuurwapenbedrog.

Een van die onderwêreld-figure, wie se naam aan Netwerk24 bekend is, het glo ook verskeie siviele eise teen Heerschap jr. aanhangig gemaak.

Die polisie vermoed nie in hierdie stadium daar is ’n verband tussen die saak in die streekhof, waar Heerschap Dinsdag moes getuig, en die skietvoorval nie.

Albert Fritz, provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê geweld het geen plek in gemeenskappe nie.

“Die dood van een is een te veel.”

Fritz sê daar word tans ’n “krisis ervaar met bendegeweld en misdaad”.

Hy sê tussen Vrydag 5 Julie en Maandag 8 Julie was daar 55 onnatuurlike sterftes in die provinsie van mense wat geskiet of met skerp voorwerpe gesteek is. 33 van dié voorvalle was in die Kaapstadse metropool.

In Junie 2018 is 344 moorde in die Wes-Kaap aangeteken. Vanjaar was dit 114 meer, op 448.

“Die getal laat ’n mens yskoud word en daarom het ek die weermag versoek om hulp te verleen. Hulle moet ontbied word om die vrede te bewaar sodat die polisie hul werk kan doen en mense in hegtenis neem.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.