Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hy het slaapplek gesoek, toe val hy aan...

’n Man van Somalië wat slaapplek en kos vir die aand gesoek het, het Donderdag in die vroeë oggendure, twee mense by die Nerinastraat-moskee in Wesbank, Malmesbury, met ’n kapmes doodgesteek en ’n derde persoon, die moulana, ’n skrifgeleerde van die moskee, en die seun van een van die oorledenes ernstig beseer.

Ismail Ahmed Bassa (72) en Sayaad Hidig is in die voorval dood.

Moulana Achmat Ali en Faisel Bassa, seun van Ismail Bassa is beseer.

’n Polisie-hond op die toneel voor die bomeenheid inbeweeg het. Die hond kon nie ‘n positiewe aanduiding gee dat daar ’n bom is nie en gevolglik is die bomeenheid ingestuur Foto: Jaco Marais

Imraahn Mukaddam, die neef van Ismail Ahmed Bassa (72), het Donderdag gesê Somaliese burgers wat die moskee bywoon, sê dat hulle die man glad nie ken nie. Die man het glo ook nie in ’n dialek gepraat wat die mense ken nie.

Faisel Bassa

Hy het glo laat Woensdagaand by die moskee aangekom en gevra of hy die aand daar kon slaap. Die man was glo op pad na Vredenburg aan die Weskus.

Volgens Mukaddam en Sharief van Schalkwyk mag Moslems ingevolge hul geloof nie mense kos en of slaapplek in ’n tyd van nood weier nie.

Van Schalkwyk sê gerugte op sosiale media dat die man ’n vlag om sy lyf gedrapeer gehad het, is onwaar. Hy het volgens hom ’n gewone wit-en-swart serp wat gewoonlik deur Moslem-mans gedra word om sy skouers gehad.

Bassa is met Mukaddam se niggie, Janap Bassa, getroud. Hy is oorspronklik van Durban, maar het ná sy ontmoeting en troue met Janap in Malmesbury kom woon.

Bassa, Hidig en Ali is vermoedelik aangeval terwyl hulle nog geslaap het. Faisel is deur die man aangeval nadat hy ander lede van die moskee se hulpkrete gehoor het. Die Bassas woon reg langs die moskee.

Mukaddam sê Faisel is na die moskee nadat hy mense hoor skreeu het. “Hy is toe ook deur die man aangeval en is twee keer deur die man gesteek.”

’n Lid van die bomeenheid haak ’n tou aan die rugsak wat vermoedelik ’n bom kan wees. Hy staan dan terug en trek die rugsak van die lyk af. Foto: Jaco Marais

Mukaddam het sy neef (Bassa) as ’n baie geestelike man beskryf. Hy is ’n pensioentrekker en het sedert sy aftrede meeste van sy tyd by die moskee deurgebring.

“Hy het ook na die moskee gekyk, veral die instandhouding.”

Hy het Bassa as ’n baie intellektuele man beskryf, wat altyd, soos in altyd tyd gemaak het vir mense en vir ander mense se behoeftes omgegee het.

Mukaddam het die aanval op die moskee en die moorde as ’n terroristeaanval beskryf. Hy sê daar is mense in die Moslem-geloof wat verdeeldheid wil saai. Hy het verwys na die aanval aan die begin van die maand van Ramadaan op ’n Moskee in Durban en nou die aanval op die Nerinastraat-moskee.

’n Familielid van Hidig sê dat hy maar die afgelope twee maande in Malmesbury is.

Meer oor:  Malmesbury  |  Moskee-Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.