Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hy koop gekaapte eksotiese voëls vir R100 terug

Meer as die helfte van ’n bakkievrag eksotiese voëls ter waarde van R800 000 wat die afgelope week in ’n kaping op die N1 naby Johannesburg gesteel is, is teruggevind.

Mike Bolhuis

Mike Bolhuis, Pretoriase private speurder, het daarin geslaag om 81 African Grey-papegaaie en agt blouborsparkiete (blue-fronted Amazons) op die swartmark terug te koop.

“Dié voëls is van beter gehalte en vir die uitvoermark bestem – en heelwat duurder as sommer gewone papegaaie. Hulle was byvoorbeeld 21 dae lank onder kwarantyn voordat hulle sou gevlieg het,” sê Bolhuis.

Die voëls was deel van ’n vrag van 134 voëls, wat 124 African Greys, nege blouborsparkiete en ’n medium geelkuif-kokketiel ingesluit het, wat Maandag onderweg na die O.R. Tambo-lughawe gekaap is deur booswigte wat hulle as polisielede voorgedoen het. Die voëls sou uitgevoer word.

Bolhuis sê die feit hulle die voëls in Soweto teen R100 per papegaai kon terugkoop, suggereer dat die diewe die bakkie wou steel, eerder as die voëls. Eksotiese voëls soos dié kos tussen R2 000 en R4 000 elk.

Bolhuis sê sy “kubermisdaadspan” het die bakkie met behulp van die voertuig se satellietopsporingstelsel opgespoor. “Daar is nie meer iets soos privaatheid nie. Gee my ’n druppel bloed, ’n haar of ’n selnommer en ek sal jou kry.”

Hy sê die kapers, met blou ligte op hul voertuig se dak, het die drywer afgetrek, hom oorrompel, ’n sak oor sy kop getrek en Soweto toe gery. In Soweto het die kapers die bestuurder afgelaai en met sy voertuig en vrag spore gemaak.

“Ons het die nuwe dubbelkajuit- Toyota-bakkie se roete deur satelliet-opsporing gevolg en gesien waar hulle oral stop. Ek het my gevestigde netwerk van informante in Soweto opdrag gegee om hulle oë en ore oop te hou en ons het gou uitgevind presies by watter adres die voëls is.”

Bolhuis se span het toe begin om die papegaaie stuk-stuk te koop. Die bakkie is in Soweto gelos en dit is ook teruggevind. Nog niemand is in hegtenis geneem nie.

“Ons wou eers soveel moontlik van die voëls terugkry, ons gaan nou voort met strafregtelike optrede,” sê Bolhuis.

Hy sê die persoon by wie sy mense die gesteelde papegaaie teruggekoop het, is nie een van die kapers nie. “Hierdie mense is medepligtig aan die misdaad omdat hulle willens en wetens gesteelde eiendom gekoop en toe herverkoop het.”

Bolhuis sê fop-polisie wat mense kaap, raak al hoe meer algemeen, en lede van die publiek moet in die feestyd op hul hoede wees. “As jy op ’n donker of onveilige plek deur ’n polisieman of verkeersbeampte afgetrek word, is dit jou reg om eers aan te ry en te stop op ’n plek waar jy veilig voel. My raad sou wees om plekke te kies wat goed belig is en kringtelevisie-kameras het, soos vulstasies.”

Hy sê lede van die publiek moet ook nie goedsmoeds troeteldiere aanlyn of op straat koop nie. “Mense moet seker maak oor eienaarskap.”

Die eienaar van die voëls, Herman van Rooyen van SA Birds in Greytown in KwaZulu-Natal, wou nie kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Mike Bolhuis  |  Diefstal  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.