Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Hy sou my doodgeskiet het as ek nie teruggeskiet het nie’

Dit was ’n saak van lewe of dood, het drie mense wat aanvallers doodgeskiet het aan Jeanne-Marié Versluis gesê na aanleiding van planne om die besit van vuurwapens vir selfverdediging te verbied.

Plaasaanvaller doodgeskiet: Hennie Niemand en sy dogter, Nina (3). Foto: Deon Raath

1. Die plaasaanval

’n Potchefstroomse boer wie se tweejarige dogter toegekyk het hoe 'n plaasaanvaller hom skiet en wat toe self die aanvaller doodgeskiet het, is een van die ontstigtes wat meen dis verregaande dat die regering nie meer vuurwapenlisensies vir selfverdediging wil uitreik nie.

Hennie Niemand het dié week aan Rapport gesê: “Hy sou my doodgeskiet het as ek nie teruggeskiet het nie. Ek het dadelik besef hier mag ek nié opslip nie, want ek het klein kindertjies en my familie is by die huis. Ek het dwarsdeur ’n helder kop gehad.”

’n Voorman het hom op 21 Augustus ontbied omdat ’n bakkie ’n pap wiel in die veld gehad het. Dit het later geblyk dis ’n lokval van die aanvaller.

‘Nina was in die bakkie. Ek het gevra: ‘Is jy orraait, Babbie?’

Niemand het vir die voorman gesê hy kom. Sy dogter, Nina, en ’n nefie, Wimpie Nel (10), wou saamry. Toe Niemand in die veld stilhou, het dinge “verskriklik vinnig gebeur”.

Die aanvaller (wat later as Koane Potlaki geïdentifiseer is) het van voor gehardloop gekom en die pistool op hom gerig. Niemand het die bakkie se deur as ’n skild gebruik. Potlaki het geskiet en die koeël het die bakkie getref, “twee duim” van Niemand se kop af. Niemand het met sy eie pistool verskeie kere na Potlaki geskiet terwyl hy agter die deur uitbeweeg het. Een van Potlaki se skote het die boer net onder die tepel getref.

Toe Potlaki die derde keer skiet, het hy nie meer beheer oor die vuurwapen gehad nie omdat hy self gewond was.

Niemand het hom in die nek geskiet, Potlaki het die wapen laat val en is dood.

“Nina was in die bakkie. Ek het gevra: ‘Is jy orraait, Babbie?” Sy was. Wimpie het agter die bakkie weggekruip.

Niemand het huis toe gebel en is hospitaal toe geneem. Verskeie van sy organe is deur een soliede koeëlpunt beskadig en moes in operasies herstel word.

“Ek was 11 dae in die ICU. Ek het 22 kg verloor. Maar ek het 100% herstel.”

Nina het agterna vir die familie vertel “ ’n klein mannetjie” het haar pappa “in die knie” geskiet.

Hulle weet nie waar sy aan die knie kom nie. “Toe gaan Pappa hospitaal toe om ’n pleister te kry,” het sy vertel.

Niemand was bekommerd dat sy emosionele trauma sou opdoen, “maar die engele het haar beskerm”. Volgens hom is daar ontdek Potlaki het met ’n polisie-dienspistool geskiet.

Die polisie het Niemand se pistool ingeneem vir ballistiese toetse. Hy dra nou sy rewolwer en 'n mes by hom.

2. Die grypdief

Werner Beineke van Pretoria moes ook kies tussen lewe en dood toe sy motorruit by ’n verkeerslig by die Fonteinesirkel uitgeslaan is. “Ek is jammer ek het ’n lewe geneem, maar dit was sy lewe (die aanvaller s’n) of my en my vriendin s’n,” het hy aan Rapport gesê.

Grypdief doodgeskiet: Werner Beineke moes kies tussen lewe en dood toe sy motorruit by ’n verkeerslig uitgeslaan is.

Terwyl hy en sy vriendin, Jhua-nine Wyrley-Birch, die aand in 2017 gewag het dat ’n verkeerslig groen word, het ’n man tussen die motors geloop. Beineke het hom in die truspieël dopgehou. “Dit het skielik gevoel of sand teen my gesig waai.”

Dit was toe die man die passasiersruit uitgeslaan het.

“Alles het binne sekondes gebeur. Hy het Jhua-nine se handsak probeer gryp, maar die handsak se band was om haar lyf.”

Die man wou gryp na Beineke se rewolwer wat in ’n kompartement tussen die sitplekke was.

‘Ek is jammer ek het ’n lewe geneem, maar dit was sy lewe of my en my vriendin s’n.’

Net voor die man die vuurwapen kon kry, het Beineke dit gegryp en in een beweging die man in sy bors geskiet. “Die skoot het die motor binne-in verlig.”

Die man het sy bolyf, waarmee hy Wyrley-Birch teen haar sitplek vasgedruk het, uit die motor gepluk en weggehardloop. Beineke het 'n veiligheidsmaatskappy gebel wat na die man gaan soek het. Hy is sowat 250 m verder in bosse gekry. Die ambulans het opgedaag.

Daar was “seker 40 of 50” lede van die polisie en metropolisie. “Van die lede het die verdagte ’n bietjie geskop en gesê: ‘Jy wil mos misdaad pleeg.’

“Hulle het messe, ’n skroewedraaier en ’n spark plug by hom gekry.”

Beineke sê die man is later in die hospitaal dood.

“Die senior staatsaanklaer het besluit om my nie te vervolg nie omdat dit selfverdediging was.

“Ons sou vir seker dood gewees het as hy die wapen eerste gekry het. Dit help ook nie jy het ’n vuurwapen en dit lê in die kluis by die huis nie.”

3. Die drie aanvallers

Die swaard van vervolging hang egter nog oor die kop van Pieter Swart, ’n leeuboer van Kroonstad, nadat hy in Februarie vanjaar drie onbekende mans by sy voordeur doodgeskiet het.

Drie aanvallers doodgeskiet: Pieter Swart (regs), en sy prokureur, FC Schilling, in Februarie vanjaar. Foto: Alet van der Walt

Swart se prokureur, FC Schilling, het aan Rapport gesê: “Pieter sou nie vandag met ons wees as hy nie geskiet het nie. Sy behoud was dat sy 9 mm-pistool in sy hand was toe hy die deur oopgemaak het, en nie steeds in sy holster nie.” Swart, wat alleen in die plaashuis woon, is met ’n mes in die gesig gesteek. Hy het al drie aanvallers doodgeskiet.

Die polisie het moordsaak geopen. ’n Verdagte wat later gevang is, het ’n bekentenis afgelê.

Die aanklaer het nie die saak teen Swart op die hofrol geplaas nie omdat daar nie prima facie-getuienis teen hom was nie, maar die moordklagte is nie teruggetrek nie, sê Schilling. “Daar word gewag vir post mortem- en ballistiese verslae om vas te stel of daar ’n prima facie-saak teen Pieter is. In dié stadium word hy nie aktief vervolg nie.”

‘Sy behoud was dat sy 9 mm-pistool in sy hand was.’

Swart erken hy het met sy 9 mm-pistool geskiet, maar die polisie het ook vyf jagwapens gekonfiskeer vir ballistiese toetse.

Schilling sê hy weet nie waarom die ander wapens gekonfiskeer is nie. Die ander wapens is nodig om die plaas, wat 115 wilde diere het, te bedryf.

Meer oor:  Werner Beineke  |  Koane Potlaki  |  Hennie Niemand  |  Pieter Swart  |  Vuurwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.