SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Hy was ook by ons skool’

’n Pretoriase laerskool wil weet wat ’n 26-jarige man op hul skoolterrein gesoek het nadat hy verlede week by ’n ander skool in Centurion in hegtenis geneem is vir onsedelike aanranding van ’n minderjarige kind. Riccardo del Frates was verlede naweek in die selle, maar is Maandag weer vrygelaat.

Riccardo del Frates is verlede Vrydag deur die Lyttelton-polisie vir onsedelike aanranding op ’n minderjarige kind in hegtenis geneem. Foto: Facebook

Die polisie beskik glo oor kringtelevisiemateriaal wat wys dat Del Frates verlede Vrydag in ’n kleedkamer vir meisies by die Laerskool Louis Leipoldt ingegaan het. Later dieselfde dag het ouers ’n klag teen hom ingedien en hy is aangekeer.

Maar iemand wat presies soos Del Frates lyk, is ook al vier keer op kringtelevisie op die skoolterrein van die Laerskool Rooihuiskraal opgemerk.

Volgens die skoolhoof van Rooihuiskraal, Ferdie Maree, het hulle maande gelede van die verdagte man op hul skoolgrond bewus geword.

“Ons het in Junie op kringtelevisiemateriaal gesien dat hy by ons meisieskleedkamer ingaan. Ons het baie kameras op die terrein en wagte by al ons hekke,” sê Maree. Hulle het ouer kringtelevisiemateriaal bestudeer en hom nog ’n keer opgemerk waar hy naby die skoolsaal rondstaan.

Hy het nie ’n kind hier nie, hy is nie familie van ’n kind hier nie. Hy het geen rede om op ons terrein te wees nie.

“Hy het nie ’n kind hier nie, hy is nie familie van ’n kind hier nie. Hy het geen rede om op ons terrein te wees nie,” sê Maree. Volgens hom het hulle die personeel gevra om die man te konfronteer as hulle hom weer sien.

Daarna was die man nóg twee keer by die skool, maar hy het laat spaander voordat iemand hom kon konfronteer.

En toe hoor hulle Del Frates is in hegtenis geneem ná ’n voorval by die Laerskool Louis Leipoldt.

Dawid Durie, voorsitter van die beheerliggaam van Louis Leipoldt, sê egter húlle is tevrede dat niemand op hul skoolterrein gemolesteer is nie.

“Die polisie was by die skool en het die beeldmateriaal kom haal,” is al wat hy oor Del Frates se beweerde besoek aan dié skool wil sê.

Die skool het ouers daaroor ingelig. Daarna het “ouers op eie stoom ’n saak by die polisie gaan maak”, sê hy.

Kapt. Dave Miller van die Lyttelton-polisie het bevestig ’n man is in hegtenis geneem vir onsedelike aanranding van ’n minderjarige, maar die saak is van die rol verwyder sodat dit verder ondersoek kan word.

Rapport het ’n video van die bad­kamervoorval by die Laerskool Rooihuiskraal gesien. In die video, wat volgens die datumstempel op 3 Mei vanjaar opgeneem is en om 16:26:09 begin, loop die verdagte met sy rug na die kamera op ’n stoep by die skool. ’n Skoolmeisie stap by die kleedkamer in. Die man stap verby die kleedkamer vir seuns en stap dan om 16:26:23 by die meisies se kleedkamer in, met wat lyk soos ’n selfoon in sy linkerhand.

Op kringtelevisie: Wat doen hy in die kinders se kleedkamer?

By die Laerskool Rooihuiskraal: ’n Skool-meisie gaan by die kleedkamer in.
Die verdagte kyk na die seunskleedkamer (links) en volg die meisie.
Hy vroetel met ’n toestel in sy hand en stap by die kleedkamer in.
Drie minute later hardloop die meisie uit. Die verdagte is kort op haar hakke.

Om 16:29:40 kom die skoolmeisie by die kleedkamer uitgehardloop. ’n Sekonde later kom die man uitgestap, hy steek die selfoon in sy broeksak en stap weg.

Rapport het Del Frates vroeër die week probeer bel, maar sy foon was af. Kort nadat Rapport deur Facebook met hom probeer kontak maak het, het hy sy Facebook-blad toegemaak. Hy was nie gister by sy huis nie.

Sy ma het Donderdag telefonies gesê sy wil nie kommentaar lewer nie.

“Ek weet nie waar hy is nie. Ek wil ook niks met jou bespreek nie,” het sy gesê voordat sy afgelui het.

’n Vrou wat gesê het sy is sy meisie se ma, het Rapport gebel en gesê hy wil met niemand praat nie. Hy kry berading vir die “hel wat hy Vrydag deur is”, het sy gesê.

Steve Mabona, woordvoerder van die onderwysdepartement, het gister gesê die departement sal met die polisie praat sodat “ons die vlak van bedreiging” kan bepaal.

“Dit is jammer dat so iets in ons omgewing gebeur het. Ons sal aanhou om die familie te ondersteun en van berading te voorsien.”

Meer oor:  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.