Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Identiteit ‘gesteel’ om hom aan te kla
Herman van Niekerk jr. (32)

’n Jong Suid-Afrikaanse veiligheidsoperateur is ná ’n riller­ondervinding in Dubai terug in Suid-Afrika nadat sy identiteit vermoedelik “gesteel” is om hom aan te kla.

Hy is boonop geboei en deur die ondersoekbeamptes van die polisie in Dubai uitgeskel as “wit gemors” voordat hy in een nag in drie verskillende tronke toegesluit is.

Herman van Niekerk van Mosselbaai sê sy seun, Herman jr. (32), is daarvan beskuldig dat hy in 2004 ’n inwoner van Dubai met sowat R1,6 miljoen sou bedrieg het. Sy seun het egter in 2004 nog nie eens ’n paspoort gehad nie.

Van Niekerk sr. bedryf die maatskappy Maritime Risk Solu­tions, wat skeepsmaatskappye se skepe teen seerowers beskerm.

Sy seun werk vir hom. Sowat ’n week gelede was hy aan boord van een van dié skepe toe hulle Dubai se hawe aangedoen het. Die skip is verbied om verder te vaar omdat een van die operateurs van ’n misdryf beskuldig is.

“Die polisie het selfs foto’s op die skip van my seun gaan neem.”

Die skip is later toegelaat om verder te vaar, maar Van Niekerk jr. is in hegtenis geneem en weggeneem.

“Die skeepsagent se regsafdeling is betrek en ook die Suid-Afrikaanse konsulaat – enigiets net om tred te hou van waar hulle Herman heen geneem het, dat hy nie in die stelsel verdwyn nie.”

Sy seun is uiteindelik Maandagoggend by die Al Rifa-polisiekantoor in die middestad van Dubai ondervra.

Die “klaer” is ook ingebring. Dié onbekende man het beweer Van Niekerk jr. het hom met R1,6 miljoen bedrieg. Hy het selfs ’n onduidelike afskrif van Van Niekerk se paspoort gehad.

“Iemand moes hom gehelp het om dié in die hande te kry en ­iemand moes geweet het hy is juis op dié skip. Dit moet dus een of ander georganiseerde groep wees wat buitelanders se identiteite steel.

“Die spesiale beampte by die Suid-Afrikaanse konsulaat wat met dié soort sake werk, het ook aan ons te kenne gegee dat daar meer sulke gevalle is,” sê Van Niekerk sr.

Ná die ondervraging en al die nodige bewyse van die Suid-Afrikaanse owerheid aan die ondersoekers oorhandig is, is sy seun vrygelaat.

“Die skeepsagent het die week aan ons bevestig dat toeriste en buitelandse besoekers in verskeie lande – veral in die Midde-Ooste – in soortgelyke strikke beland.

“Hulle kry paspoortbesonderhede in die hande en maak afskrifte met ’n ander mens se foto daarin,” sê Van Niekerk sr.

Nelson Kgwete, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, sê hy wag vir volledige terugvoering van die konsulaat in Dubai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.