Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Identiteitsdief’ van Zim treiter SA vrou

Dertien jaar nadat haar identiteit gesteel is en ’n jaar en ’n half nadat die vermeende dief aangekeer is, kry Brenda Makhoba steeds oproepe oor uitstaande rekenings in haar naam.

Die vermeende identiteitsdief, die Zimbabwiese burger Nontembiso Nyilika.

Om sake te vererger het die vermeende identiteitsdief, die Zimbabwiër Nontembiso Nyilika, nog tot einde Maart in die uitgewer Jonathan Ball se Johannesburg-pakhuis gewerk.

Die regte Brenda Makhoba is woedend.

“Ons het hul mensehulpbronne-afdeling gebel en in kennis gestel van die bedrieër in hul diens, maar niks het gebeur nie. Einde Maart het die vrou net stil-stil verdwyn,” sê Makhoba.

Haar handsak het in 2008 in ’n klerewinkel waar sy gewerk het voete gekry. Sy het dadelik ’n klagte by die polisie ingedien.

“Kort daarna het die moeilikheid begin. Winkels soos Joshua Doore en Russells en selfs kolleges het my begin bel oor uitstaande rekenings. Almal plekke met wie ek nog nooit sake gedoen het nie. Ons kon net nie uitvind wie toegang tot my inligting het nie.”

Toe kom die onverwagte deurbraak met die indien van haar 2019-belastingopgawe.

“Ek het deur ’n belastingkonsultant gewerk. Hy bel my toe eendag in Augustus 2019 en sê ek skuld die SA Inkomstediens omtrent R25 000. Ek het my koud geskrik,” sê Makhoba.

“Ek het vir die konsultant gesê dit kan nie waar wees nie, ek betaal my belasting. Toe sê hy: ‘Maar wat van jou ander werk by Media24?’ Toe begin die legkaartstukke pas.”

Volgens die SAID het “Brenda Makhoba” by Jonathan Ball-uitgewers gewerk. “Ek is saam met die polisie daarheen en hulle het Nyilika by die werk in hegtenis geneem. Ons is van daar na haar woonstel in Berea in die middestad,” sê Makhoba. Daar het dit geblyk haar identiteit was nie die enigste gesteelde een nie.

“Die polisie het geboortesertifikate en ander identiteitsdokumente van verskeie ander mense ook daar gekry.”

Nyilika se eerste hofverskyning was in November 2019. “Sy is later op borgtog vrygelaat. Wat is ’n beter definisie van ’n vlugrisiko as iemand wat ander mense se identiteit steel?”

Nyilika het ook aangehou met haar werk by die uitgewer.

“Ek en my suster, wat ’n prokureur is, het herhaaldelik met hul mensehulpbronne-afdeling geskakel. Hulle het net gesê die polisie moet met hulle praat. Sonder amptelike dokumente en ’n kennisgewing van die polisie kan hulle haar nie afdank nie,” sê Makhoba.

Die ondersoek is oorgeplaas na die Valke, maar sy sê daar was geen kommunikasie van die ondersoekbeampte se kant nie. Sy naam is aan Rapport bekend.

“Hy het my nie eens van hofdatums ingelig nie. Toe ek self deur die hof uitvind wanneer die saak weer voor die hof kom, moes ek hoor daar is dagvaardings aan my beteken omdat ek nie vir hofdatums opgedaag het nie. Gelukkig het die aanklaer dit aan die regter verduidelik.”

Katlego Mogale, ’n woordvoerder van die Valke, het gesê die ondersoek is steeds aan die gang.

“Die saak is op 24 Junie weer voor die hof,” het hy gesê.

Jonathan Ball Uitgewers se uitvoerende hoof, Eugene Ashton, wou nie kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Identiteitsdiefstal  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.