Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
'Iemand in sentrum vir bejaardes moes moordenaar help'

Kringtelevisiebeeldmateriaal by die sentrum vir bejaardes in Port Elizabeth waar twee bejaarde vroue Donderdag in die vroeë oggendure vermoor is, het nog niks van belang uitgewys nie.

Die twee slagoffers, wat as Agnes Elaine Burns (91) en Rosemary Langton (87) deur die polisie geïdentifiseer is, is omstreeks 05:45 in hul onderskeie kamers op hul beddens in die St. John Stella Londt- sentrum vir bejaardes in Sunridge Park deur personeel gevind.

Speurders en veiligheidswagte Donderdagoggend by die bejaardesentrum in Sunridge Park, Port Elizabeth, waar twee bejaarde vroue vermoor is. Foto: Lulama Zenzile

Ondanks inwoners se bewerings dat die sentrum se kringtelevisiekameras buite werking is en dat veiligheid nie as prioriteit beskou word nie, het George Woods, uitvoerende hoof van St. John, Donderdagmiddag gesê veiligheid by die sentrum is vir hulle van die uiterse belang.

Hy het bygevoeg die kringtelevisiekameras werk en die beeldmateriaal is reeds vlugtig nagegaan.

“Op die oomblik is daar niks wat uitstaan nie, maar daar is nog ure se beeldmateriaal wat saam met die polisie deurgegaan moet word, en natuurlik nog baie vrae wat beantwoord moet word.

“Ons is nog baie geskok en diep hartseer oor wat gebeur het. Traumaberading sal vir al die inwoners en werknemers beskikbaar wees,” sê Woods.

’n Voertuig van die staat se patologiese diens Donderdagoggend op die toneel. Foto: Lulama Zenzile

Die eerste noodoproep oor die voorval het Donderdagoggend kort voor 06:00 by Atlas Security deurgekom, sê Monty Montgomery, Atlas Security se bedryfshoof.

“Ons het dadelik gereageer en ook die polisie en ambulansdiens gekontak. Ons was eerste op die toneel, maar ongelukkig was dit te laat,” sê hy.

Die twee slagoffers se hande en voete was met kledingstukke vasgebind en hul monde ook toegebind.

Die vermoede is tans dat die slagoffers dalk versmoor het.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, was daar met die polisie se aanvanklike ondersoek geen sigbare beserings aan die slagoffers nie en die lykskouings sal bepaal wat die presiese oorsaak van hul dood was.

Hartseer besoekers aan die bejaardesentrum het mekaar Donderdagoggend ondersteun en getroos. Foto: Lulama Zenzile

Albei die slagoffers was inwoners van die sentrum se afdeling vir verswakte bejaardes. Die kantore is onder en daar is vyf bejaardes wat elkeen in hul eie kamer op die eerste verdieping woon, die twee slagoffers ingesluit.

Volgens Naidu was die slagoffers se kamers ’n deurmekaarspul en daar word vermoed dat juweliersware onder meer gesteel is.

Die polisie se aanvanklike ondersoek dui daarop dat daar geen gedwonge toegang tot die sentrum of die eenheid vir verswakte bejaardes was nie.

Verder word vermoed dat die aanvallers moontlik by ’n branddeur, wat vermoedelik nie gesluit was nie, toegang tot die eerste verdieping verkry het. Dié deur kan volgens inligting net van binne oopgemaak word.

'Iemand moes met moorde help'

Intussen het Erika Landman, ’n kothuis-inwoner van die sentrum, haar skok uitgespreek en gesê sy glo die moorde is met die hulp van iemand van binne die sentrum uitgevoer.

“Die twee mense het bo, op by die trappe gewoon. Tensy jy weet daar is mense daarbo sal jy nie opgaan nie, want die kantore is op die grondvloer,” het Landman gesê.

Sy verstaan ook nie wat rowers in die kamers sou wou steel nie. Daar is volgens haar geen waardevolle items in die kamers nie.

Sy sê ook daar is verskeie bestuursprobleme by die sentrum en inwoners se klagtes oor die bestuur en veiligheid val op dowe ore.

Woods het by navraag gesê hy sal die sentrum as veilig beskryf.

Hoewel die kringtelevisiekameras reeds geruime tyd gelede al by die sentrum opgerig is, het ’n inbraak van sowat ses weke gelede daartoe gelei dat veiligheidswagte ook 24 uur ’n dag aangestel is.

“Ek glo die oord is veilig, maar ná hierdie voorval sal ons ondersoek moet doen om te sien wat meer ons moet doen.”

Naidu het Donderdagmiddag gesê die polisie ondersoek twee sake van moord en huisroof. Niemand is nog aangekeer nie.

Meer oor:  Sunridge Park  |  Bejaardes  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.