Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Iere geskok oor moord in Kaapstad

Mense in onderwyskringe in Ierland het hul skok uitgespreek nadat John Curran, ’n voormalige Ierse skoolhoof en welsynwerker, in sy woonstel in Kaapstad vermoor is.

Josepha Madigan, Ierse minister van kultuur en erfenis, het Donderdagaand op Twitter haar medelye aan Curran (60) se familie en vriende betuig.

“Hy was welbekend in onderwyskringe in Dublin en het die kinders van die Good Shepherd National School oor die jare goed gedien.”

John CurranFoto: Facebook

Curran se lyk is Woensdagoggend in sy woonstel aan die Buitengracht in Kaapstad ontdek nadat hy glo in ’n rooftog met ’n mes gesteek is. Hy was tot onlangs nog betrokke by die welsynsorganisasie Mellon Educate in Suid-Afrika en sou glo binnekort teruggekeer het na Ierland.

Die Irish Primary Principals Network (IPPN) het Donderdag gesê daar is met “diepgaande skok en hartseer” van Curran se dood verneem. “Hy was ’n hooggeagte kollega en vriend vir almal, ’n stigterslid van die IPPN wat ook in die uitvoerende komitee en as skakelbeampte gedien het.”

Luidens die IPPN se verklaring is Curran se seun, Eoin, in 2010 in ’n seiljagongeluk dood en word hy oorleef deur sy kinders, Darragh, Tríona en Donal, ses kleinkinders en sy susters, Dolores en Paula.

Curran was van 2000 tot 2007 in die IPPN se uitvoerende komitee en was van 2005 tot 2009 die skakelbeampte.

Hy is oorspronklik van Templeogue, Dublin, en het aan Trinity College gestudeer, waarna hy ’n onderwyser geword het.

Hy was 16 jaar lank die hoof van die Good Shepherd National School totdat hy in 2005 vroeg afgetree het.

“Ons sal sy wonderlike humorsin mis, sy aansteeklike lag en sy vermoë om ernstige onderwerpe op te vrolik.”

Dié foto van ’n forensiese ondersoeker is Woensdagoggend op Twitter gedeel ná die moord op die Ier John Curran (60) in sy woonstel in die middestad van Kaapstad. Foto: Twitter (@MovesLikeDragan)

Volgens die IPPN was Curran baie geesdriftig oor sy werk as direkteur van onderwys van Mellon Educate in Suid-Afrika, waar hy in Oktober 2016 begin werk het.

“Hy het onvermoeid gewerk om onderwysers en hoofde te bemagtig.”

Curran se familie in Ierland het in ’n verklaring vir privaatheid in dié “hartverskeurende tyd” gevra, berig die Irish Sun.

’n Familielid het gesê hulle het Curran “innig liefgehad” en probeer dié tragiese verlies verwerk.

Volgens die The Irish Times het Eoin Curran (30) in Julie 2010 in New York verdrink nadat hy in ’n storm oorboord geval het van ’n seiljag af.

Mellon Educate het Donderdag gesê Curran het onlangs ’n kontrak van twee jaar as direkteur van onderwys voltooi en het in Kaapstad agtergebly om ’n paar weke lank vakansie te hou.

Nial Mellon, uitvoerende hoof en filantroop, sê almal wat Curran ontmoet het, het hom liefgehad, “veral die duisende kinders wat hy gehelp het”.

Dié organisasie en die Ierse departement van buitelandse sake ondersteun Curran se familie.

Mellon Educate werk met vrywilligers en die Suid-Afrikaanse regering om huise vir haweloses te bou en onderrig in arm gebiede te verbeter.

Dragan Kuruzovic, inwoner van die woonstelgebou Manhattan Place, het Woensdagoggend getwiet hy het wakker geword toe ’n vrou gil “my kêrel is dood” en “daar is oral bloed”.

Hy het getwiet hy het gehoor hoe mense hardloop en deure toeslaan, en het later ’n foto gedeel van forensiese ondersoekers in die gebou.

“Die polisie sê hy is omstreeks 04:00 doodgesteek. Daar is na beeldmateriaal van sekerheidskameras gekyk en ’n man is opgemerk wat sy gesig probeer wegsteek.”

Die Wes-Kaapse polisie het Vrydagoggend gesê niemand is in hegtenis geneem nie. Hulle wou nie uitwei oor die “fyner besonderhede” van die ondersoek nie.

Meer oor:  John Curran  |  Ierland  |  Kaapstad  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.