Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Imaan (7)-bendeskietery: 3 gee hulself oor

Drie vermeende lede van die Junky Funky Kids (JFK) en ’n lid van die Taylor-bende van Ocean View naby Kommetjie het hulself Woensdagaand in verband met die dood van Imaan Solomons (7) en Abdul Felix (31) aan die polisie oorhandig.

Dit kom nadat woedende inwoners van Ocean View onder die dekmantel van die donker en met serpe om hul gesigte gedraai onder leiding van die vigilante-gemeenskapsorganisasie Pagad hulle tot die strate van die township gewend het en die huis van die beweerde leier van die Taylor-bende aan die brand gesteek het.

Die huis is reg oorkant Imaan se ouerhuis in Librastraat, Ocean View.

Imaan Solomons is Dinsdag deur koeëls uit die vuurwapens van strydende bendes in Ocean View getref. Sy is met haar aankoms by die Valsbaai-hospitaal in Vishoek dood verklaar.

Bronne het Woensdagaand gesê Ocean View se inwoners is moeg en keelvol vir die bendegeweld en die feit dat onskuldige mense vermoor word.

Imaan het voor in die erf van haar ouerhuis in Libraweg gespeel toe sy deur dwaalkoeëls, vermoedelik uit die vuurwapens van óf Taylor-bendelede óf JFK-lede, dodelik gewond is. Sy is volgens inligting drie keer in haar bors getref.

Die voorval het Dinsdag kort ná 18:00 plaasgevind.

Paramedici het tevergeefs probeer om Imaan se lewe te red, maar sy is by die Valsbaai-hospitaal in Vishoek dood verklaar.

Felix, ’n hawelose, se lyk is kort daarna met twee kopskote op sy bloedbevlekte matras gevind in die saamgeflanste houtstruktuur waarin hy op ’n veld naby Imaan se huis gewoon het. Inwoners vermoed hy is “stilgemaak” omdat hy moontlik dinge weet wat hy nie moet weet nie.

Die man is ’n vermeende lid van die Taylor-bende. Hy het homself Woensdag aan die polisie oorgegee.

Inwoners sê verder die skietery Dinsdag waarin Imaan gewond is, was eintlik ’n wraakaanval op die leier van die Taylor-bende. Die wraakaanval kom glo nadat die leier van die bende na bewering verlede week ’n JFK-lid doodgeskiet het.

Die man is 17 jaar oud. Hy is glo lid van die Junky Funky Kids in Ocean View. Hy het hom ook Woensdag aan die polisie oorgegee.

Bronne het Woensdagaand gesê speurders verbonde aan die Wes-Kaapse bende-eenheid het Woensdagmiddag die ondersoek by speurders verbonde aan die Ocean View-polisiekantoor oorgeneem. Die speurders het glo binne ure verdagtes geïdentifiseer en glo ook op ’n vuurwapen beslag gelê wat moontlik met die skietvoorvalle verband hou. Nog mense word gesoek.

Die 38-jarige wat hom Woensdag aan die polisie oorgegee het, is ook ’n lid van die Junky Funky Kids.

Kort ná 01:00 het ’n bron laat weet dat lede van die JFK’s probeer het om die plaaslike moskee aan te val waar van die inwoners vergader het. Daar is glo ook op huise geskiet.

Die man (19) gaan Vrydag sy 20ste verjaarsdag agter tralies deurbring. Hy is ‘n lid van die Junky Funky Kids wat homself Woensdag aan die polisie oorgegee het.

Navrae is na die polisie gestuur. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Bendeskietery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.