Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Emigrasie nou sekerheid ná moord op pa

Die skietdood van haar pa het ’n vrou van Port Elizabeth se besluit om Suid-Afrika vir ’n tuiste in Australië te verruil, finaal bevestig.

Chanelle Erasmus (27) en haar verloofde het beplan om ná hul troue te emigreer, maar die moord op haar pa, Rodrick (49), het die besluit nou makliker gemaak.

Rodrick, ’n veiligheidswag vir Nitrous Security in Port Elizabeth se Groenbossies-gebied, is verlede Vrydag doodgeskiet toe hy op berigte oor ’n sakerooftog gereageer het.

“En om dinge te vererger, is daar nog gisteraand (Woensdagaand) by my ma se motor ingebreek. Dit maak my net weer van vooraf kwaad,” het Erasmus gesê.

Rodrick Erasmus Foto: Facebook, Chanelle Erasmus

Die nuus van haar pa se skietdood het gekom drie dae voordat hulle op ’n hengeluitstappie sou vertrek.

“My pa en ek het spesiaal saam verlof ingesit sodat ek, hy en my seuntjie (4) die week tyd saam kan deurbring.”

Rodrick is doodgeskiet op sy laaste aandskofdiens vir 2019.

Volgens die polisie het vier rowers omstreeks 20:00 by ’n winkel langs Ou Kaapweg in Groenbossies toegeslaan.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, was die rowers gewapen en hulle het die 21-jarige werknemer in die winkel gedreig terwyl hulle geld en goedere geëis het.

Gedurende die rooftog het iemand die paniekknoppie gedruk, waarna Rodrick gereageer het.

By die winkel het Rodrick met een van die rowers naby die deur gestoei en hy het drie skote op hulle afgevuur.

Die rowers het teruggeskiet en Rodrick is noodlottig gewond.

Die rowers het met geld, sigarette en Rodrick se vuurwapen, asook ’n klant binne die winkel se Nissan-bakkie, selfoon en beursie, gevlug.

Die bakkie is sowat 3 km van die winkel verlate teruggevind. Volgens die polisie was daar baie bloed in die bakkie en hulle vermoed Rodrick het een van die rowers gewond.

Naidu het Donderdagoggend gesê die polisie se vermoede was korrrek en dié beseerde vermeende rower is Woensdagaand kort voor middernag vasgetrek.

’n Gesamentlike klopjag tussen die KwaZakhele-polisiekantoor, Mountweg-polisiekantoor se triomisdaad-speurtaakspan, die blitspatrollie en teenbende-eenheid het tot die inhegtenisneming van ’n 33-jarige man by ’n huis in KwaZakhele gelei.

Volgens Naidu het die man ’n skietwond aan die sy gehad.

Verdere inligting is opgevolg en ’n tweede verdagte (38) is by sy huis in KwaDwesi aangekeer.

Rodrick Erasmus en sy dogter, Chanelle. Foto: Facebook, Chanelle Erasmus

’n 9 mm-pistool, waarvan die reeksnommer afgekrap is, was in sy besit.

“Verdere inhegtenisnemings word binnekort verwag. Ons vermoed ook nou daar is moontlik nog ’n verdagte wat tydens die voorval getref is,” het Naidu gesê.

Erasmus sê sy was verlede Vrydagaand by die huis toe ’n vriendin van die veiligheidsmaatskappy haar bel en van die dodelike skietvoorval inlig.

“Ek het die foon neergesit en net begin huil.”

Sy beskryf haar pa as ’n dapper man, wat ’n passie vir sy werk gehad het.

Hy was vroeër in die weermag, waarna hy as ’n transito-veiligheidswag gewerk het. Gedurende ’n transitorooftog het hy ’n noue ontkoming gehad en besluit om eerder as ’n gewone veiligheidswag te werk.

Erasmus sê hoewel haar pa geweet het wat die gevare van sy werk behels, het hy nie in vrees gewerk nie.

“Hy was dapper. Hy was glad nie iemand wat ooit bang was nie.”

Die moeilikste vir Erasmus is die wete dat sy nou in Februarie haar troue sonder haar pa moet deurmaak.

“My pa was so opgewonde. Hy het my verlede week nog gevra wat hy moet aantrek en ek sou vir hom ’n das gekry het om by die kleurskema te pas.

“My ma en stiefma, wat 17 jaar lank met my pa in ’n verhouding was, sal my nou (na die kansel) vergesel.”

Benewens vir die toegewyde veiligheidswag wat Rodrick was, sal Erasmus hom ook onthou as ’n goeie pa wat altyd homself beskikbaar gestel het vir haar.

“My pa was altyd bereid om vir my tyd te maak. Hy het my geleer om vir myself op te staan, om vis te vang, krieket te speel. Hy was lief vir grappies maak en sou jou tart totdat jy begin lag. Hy was ook veral lief daarvoor om in sy groente- en kruietuin te werk.

“Dit is baie moeilik om die nuwe jaar sonder hom te begin,” het Erasmus gesê.

* Rodrick sal Vrydag om 12:00 vanuit die Evangelisasie-sentrum in Cotswold, Port Elizabeth, begrawe word.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Misdaad  |  Rooftog  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.