Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
In die oog van die haatstorm

Terwyl minstens 32 vragmotors sover dié maand aan die brand gesteek en geplunder is en die regering dreig om die weermag te ontplooi, leef vragmotorbestuurders in vrees.

’n Wrak in Daveyton aan die Oos-Rand. Werklose vragmotorbestuurders wat kwaad is omdat vervoermaatskappye buitelandse werkers aanstel, sit glo agter die aanvalle.

Lirandzu Themba, woordvoerder van Bheki Cele, minister van polisie, het aan News24 gesê ’n ontplooiing van die weermag is een van die opsies wat oorweeg word. Cele het Vrydag aangekondig ’n interministeriële taakspan gaan ingryp en 25 mense is al die jaar in hegtenis geneem.

Dit is skrale troos vir die vragmotorbestuurders, wat al jare lank geteiken word.

Rapport het met die eienaar van ’n Johannesburgse vervoermaatskappy en van sy personeel gepraat. ’n Zimbabwiese man (40) bestuur hul vragmotors al amper 20 jaar. “My vrou wil hê ek moet ’n ander werk kry, maar vragmotors en die pad is al wat ek ken,” sê dié bestuurder.

Die vrees begin as ek by die hekke uitry en hou eers op as ek terug is.

Hy was al in aanvallers se visier. “Ek is twee keer met klippe gegooi. Een keer naby Durban het soldate net betyds opgedaag om te keer dat hulle my vragmotor brand.”

Hy staar ’n oomblik in die verte. “Mense haat my net omdat ek nie van hier kom nie. Hulle ken my nie en het my nog nooit sien werk nie. Ek is ’n goeie bestuurder én ’n goeie mens.”

Nog ’n vragmotorbestuurder, ’n 34-jarige Suid-Afrikaner met tien jaar ervaring, sê vrees is deesdae sy passasier. “Die vrees begin as ek by die hekke uitry en hou eers op as ek terug is.”

Dié Zimbabwiese vragmotorbestuurder werk al amper 20 jaar vir ’n Johannesburgse vervoermaatskappy. “Ek is bang, my vrou wil hê ek moet ’n ander werk kry, maar vragmotors en die pad is al wat ek ken.” Foto: Elizabeth Sejake

Sy vrou en twee kinders, ’n sesjarige en ’n tweejarige, wag tuis. “My oudste kyk ook TV en hoor die stories. Ek probeer dinge verduidelik en hom gerusstel, maar hy bly bang.”

Hy is al twee keer vanjaar met klippe bestook. “ ’n Mens ry nog so 100 km/h dan skielik reën die klippe.”

Dié Johannesburgse onderneming vervoer veral plofstof van Suid-Afrika na die Demokratiese Republiek van die Kongo.

“Plofstof is nie tamaties nie. ’n Petrolbom sal my én die aanvallers doodmaak,” sê die Suid-Afrikaner. Hy ril. “As hulle jou by die kajuit uitruk, is daar nie tyd om te verduidelik hoe om jou gevaarlike vrag reg te hanteer nie.”

Die drietal se werkgewer (39) sê hy is gedwing om soms buitelandse bestuurders aan te stel.

“Suid-Afrikaners wou nie Kongo toe ry nie, toe moes ons ouens aanstel wat bereid was.”

Verlede Donderdag: ’n Vragmotor in ligte laaie op die N3-Suid naby die Kliprivierafrit. Nege vragmotors is dié aand aan die brand gesteek.

Inwoners van ’n township in die omgewing het vroeër vanjaar by sy hekke betoog vir werk.

“Ons het gesê hulle moet aansoek doen en ’n bestuurstoets slaag.” Die bestuurstoets was die eerste spoedhobbel.

“Altesame 95% het die toets gedruip. Agt aansoekers het oorgebly en al agt het uiteindelik net een keer Kongo toe gery en toe geweier om weer te gaan.

“Van hulle het gesê hulle sal nog vir ons ry, maar dan mag ons net vragte in Suid-Afrika aanvaar. Die situasie het nou so omgedraai dat bestuurders wat nie Kongo toe wou ry nie dit nou eerder doen as om in Suid-Afrika te ry.”

’n Zambiese bestuurder wat vir hom werk, is verlede Saterdag geskiet. “Hulle het vier skote op sy vragmotor geskiet waarvan een hom in die arm getref het. Hy is vanoggend uit die hospitaal ontslaan, maar ons het hom nou na ons eie dokter toe gestuur. Hy gaan in Zambië aansterk.”

Dan Mofokeng van die vereniging vir vragvervoerbestuurders (Sancatdra) wat uitgesproke is oor buitelandse vragmotorbestuurders, het aan Rapport gesê die moeilikheidmakers se griewe is geldig en daar is “geen duistere magte” agter die geweld nie.

“Dit is gewone Suid-Afrikaners wat moeg is daarvoor om werkloos te wees, terwyl buitelandse bestuurders ons vragmotors ry.

“Baie eienaars registreer nie hul mense nie, want buitelanders werk vir goedkoper en die regering ondersoek dit nie.

“Ons steun die protes, maar ons is gekant teen enige misdadige gedrag,” sê Mofokeng.

Sancatdra is volgens hom “in die proses om te probeer registreer as ’n vakbond”.

Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Padvragvereniging, sê dis ’n belediging om die geweld as ’n “vragmotorstaking” te beskryf. “Deur so hierna te verwys verleen ons legitimiteit aan misdadigers.”

Kelly sê die aanvallers is nie by die nasionale bedingingsraad of enige formele strukture geregistreer nie. “In Suid-Afrika is ongeveer 65 000 vragmotorbestuurders wettig geregistreer. Net omtrent 6 500 is buitelanders.

“Die wettige en geregistreerde vakbonde staan agter ons.”

* Hanlie Retief takel die All Truck Drivers Foundation hier.

Meer oor:  Gavin Kelly  |  Bheki Cele  |  Vragmotorbestuurders  |  Vragmotors  |  Xenofobie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.