Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
In O-Kaap is kroeks die Covid-wenners

Die Oos-Kaap het op een na die meeste aktiewe Covid-19-gevalle in Suid-Afrika, maar kan ook die “episentrum” van korrupsie met Covid-19-hulpgeld wees.

Phumza Gambule, eienaar van Phathilizwi Training Institution, wat glo R4,8 miljoen ontvang het om ’n bewusmakingsveldtog te doen wat skynbaar nooit plaasgevind het nie.

Verskeie ondersoeke is die afgelope week begin nadat bewerings van korrupsie aan die lig gekom het.

In die OR Tambo-distriksmunisipaliteit, met Mthatha as hoofstad, is 6 702 mense al positief getoets vir die nuwe koronavirus en 610 is dood.

Oscar Mabuyane, premier, het ’n ondersoek gelas nadat ’n fluitjieblaser die afgelope week dokumente onthul het wat wys die munisipaliteit het R4,8 miljoen vir ’n bewusmakingsveldtog betaal wat skynbaar nooit plaasgevind het nie.

Twee fakture van onderskeidelik R1,8 miljoen en R3 miljoen is aan die Phathilizwi Training Institution vir die bewusmakingsveldtog uitgereik. Die veldtog moes in Mei 6 400 mense bereik het en sou oor vier dae in wyke van Port St. Johns, Mhlontlo en Nyandeni gehou word.

Volgens Sithembiso Mbasa, DA-raadslid in die distriksmunisipaliteit, is geen bewyse gelewer dat ’n bewusmakingsveldtog ooit daar plaasgevind het nie. Boonop is die tender vir die veldtog skynbaar nooit geadverteer nie. Mbasa het reeds aan Fezekile Mphako, waarnemende munisipale bestuurder, geskryf dat Thembisa Tseane, direkteur van regsdienste, geskors moet word.

Uit Rapport se ondersoek na Phathilizwi het geblyk die enigste kontaknommer vir die maatskappy is ’n selfoonnommer wat in die naam van die eienaar, Phumza Gambula, geregistreer is.

Die “instituut” is geregistreer op die Oos-Kaapse regering se databasis vir maatskappye wat om tenders mag aansoek doen, maar Rapport kon geen voorbeelde kry van die werk wat die maatskappy doen nie.

SOE moet kyk of enige werk gelewer is.

Nog ’n maatskappy, Phathiliz-wi Trading and Construction, is ook in Gambula se naam geregistreer. Hierdie maatskappy se kontaknommer is ook haar persoonlike selnommer.

Nóg Gambule nóg Tseane het op herhaalde navrae gereageer.

Mabuyane het die afgelope week ’n versoek tot die president gerig dat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) vasstel of die fakture eg is, betaal is en of enige werk gelewer is.

Die DA het ook ’n klagte by die Valke ingedien.

In die Chris Hani-distriksmunisipaliteit kyk die provinsiale tesourie na ’n transaksie waarin die munisipaliteit ten duurste handreiniger en maskers vir sy personeel aangekoop het.

Die munisipaliteit het handreiniger teen ’n allemintige R175 per 500 ml-bottel en chirurgiese gesigsmaskers teen R50 stuk aangekoop by die maatskappy IC Bane Trading.

By Makro kos ’n 500 ml-bottel handreiniger R46,95 en ’n chirurgiese masker sal jou by Clicks R10,99 uit die sak jaag.

IC Bane Trading het die munisipaliteit ook van handskoene, emmers en seep voorsien danksy ’n kontrak van R175 000.

Die DA beweer die eienaar, Nombulelo Mantini, het “politieke kontakte”.

Mantini sê weer haar pryse is “billik”, terwyl die munisipale bestuurder, Gcobani Mashiyi, sê die korrekte prosedure is gevolg om die goedere aan te koop.

Volgens Vicky Knoetze, DA-woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake in die Oos-Kaap, is dié provinsie “nou die episentrum wat Covid-korrupsie betref”.

Knoetze sê ook die Dr. Beyers Naude-munisipaliteit word daarvan beskuldig word dat hy geld wat vir droogtehulp bestem was, vir Covid-19-ingrypings gebruik het. Luidens die ouditeur-generaal se verslag kon die munisipaliteit slegs rekenskap gee van R5 miljoen van die droogtehulp van R30 miljoen wat hy ontvang het.

Boonop moes Mabuyane die Mioca-gastehuis in Cala van die Oos-Kaap se lys van kwarantynplekke verwyder nadat dit geblyk het dit behoort aan die dogter van Weziwe Tikana-Gxothiwe, LUR vir vervoer.

Of dit nie genoeg is nie, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Donderdag in ’n parlementêre antwoord erken die “motorfiets-ambulanse” wat in die provinsie ontplooi is, is afgegradeer tot afleweringsvoertuie. Dié projek het die Oos-Kaapse gesondheids­departe­ment sowat R10 miljoen uit die sak gejaag, maar die motorfietse voldoen nie aan die minimum vereistes vir die lewering van mediese nooddienste nie.

Die DA het die afgelope week ’n beroep op dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gedoen om in die parlement te antwoord oor hoe munisipaliteite R20 miljard se Covid-19-hulpgeld bestee het.

Die DA het ook gevra dat die tesourie ingryp by die munisipaliteite se Covid-19-besteding.

Haniff Hoosen, DA-woordvoerder oor samewerkende regering, het gesê die tesourie moet die laaste sê hê in alle munisipale besteding wat Covid-19 betref.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.