Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
In plaas van Nuwejaarswense kry suster nuus oor broer se dood
Donovan Visagie (21) Foto: Verskaf

Toe Yvette Roux (29) se selfoon op 1 Januarie net ná middernag gelui het, het sy gedink dis iemand wat Nuwejaarswense met haar wou deel.

In plaas daarvan was dit ’n oproep om te sê dat haar jonger broer, Donovan Visagie (21), pas doodgeskiet is tydens ’n rooftog buite Munsieville in Krugersdorp.

“Donovan wou saam met sy vriende na vuurwerk gaan kyk in ’n straat net buite Munsieville. Hy het eers een groep vriende by die huis gaan aflaai en toe gery na die ander groep vriende waar hulle saam na die vuurwerk sou kyk,” sê Roux.

Toe Visagie by sy vriende stilhou, was drie mans glo besig om hulle te beroof.

Volgens Roux was die groep vriende op die grond en die rowers het vuurwapens teen hul koppe gehou.

“Die oomblik toe my boetie daar stilgehou het, het die rowers omgedraai, na die motor geloop en hom deur die voorruit geskiet.”

Visagie is op die toneel dood waarna paramedici en die polisie ontbied is.

Roux sê luidens die lykskouing is Visagie bokant sy regter-sleutelbeen in ’n hoofslagaar raakgeskiet.

Die drie mans het glo sy selfoon gesteel, maar sy motor agtergelaat.

Roux, wat in Kempton Park woon, het omstreeks 00:25 die oproep ontvang dat Visagie geskiet is.

“Ek het op daai oomblik net inmekaar gesak. Ek is baie dankbaar, want hulle het my ouers probeer bel, maar kon hulle nie in die hande kry nie. Ek het hulle gelukkig later in die hande gekry en die nuus aan hulle gebreek,” sê Roux.

Visagie is op 6 Januarie begrawe, net minder as ’n week voor sy 22ste verjaardag op 12 Januarie.

Die brief wat op 6 Januarie op Donovan Visagie (21) se begrafnis uitgedeel is. Foto: Verskaf

’n Begrafnisdiens is vir hom uit die AGS-Sentraal-gemeente gehou.

Hy het geisers reggemaak vir ’n lewe, maar was ook baie lief daarvoor om aan motors te werk.

Visagie het saam met sy ma, Hester (59), in Kempton Park gewoon. Sy pa, Charles (59), werk in die week in Marble Hall en kom oor naweke huis toe.

“Die laaste drie of vier maande het ons ’n ander kant van my boetie gesien. Ons het altyd gedink hy is stil, maar in die laaste tyd was hy sprankelend. Hy was altyd vriendelik, maar hy het regtig uit sy boks geklim.”

Roux sê hy was ’n goeie oom vir haar eie kinders en ’n goeie vriend vir haar.

“Ek het eers op sy begrafnis besef hoeveel vriende hy gehad het wat vir hom omgegee het. Hy het soveel mense gehad wat lief was vir hom,” vertel Roux terwyl haar stem breek.

Sy sê haar ma sukkel om sy dood te verwerk omdat hy die heeltyd saam met haar was.

“Sy bars soms net in trane uit. Sy vra gereeld hoekom dit met Donovan moes gebeur.”

Haar pa was ook baie na aan Visagie.

“Hulle het mekaar tot ses keer ’n dag gebel. Ek kan hoor dit vat aan hom, want my broer bel hom nie meer nie.”

Roux sê haar pa beplan om Visagie se motor reg te maak en die voorruit te vervang.

“Ek dink dis sy manier om daardeur te werk, om Donovan se kar te maak soos wat hy dit wou hê. My pa wou my broer nog bel om te sê hoeveel die voorruit gaan kos, maar toe besef hy hy is nie meer daar nie.”

Netwerk24 het navrae aan die polisie gestuur rakende die ondersoek. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Krugersdorp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.