’n Man is Dinsdag doodgeskiet toe hy en ’n makker glo in die vroeë oggendure by ’n motorhuis in Tongaat in KwaZulu-Natal wou inbreek.
Volgens Prem Balram, woordvoerder van die Reaksie-eenheid van Suid-Afrika (Rusa), het die veiligheidsmaatskappy Dinsdagoggend omstreeks 03:00 ’n noodoproep ontvang oor twee mans wat by ’n motorhuis by ’n huis in Ramiahrylaan in Metcalfepark inbreek.
Volgens Balram het die huiseienaar die mans betrap en hulle gekonfronteer.
“Veiligheidsbeamptes het met hul aankoms een van die mans in ’n plas bloed buite op die sypaadjie gekry. Die man was reeds dood. Hy is noodlottig in die pelvis en been gewond. Die man en sy makker wou by ’n motorhuis inbreek toe die huiseienaar hulle met ’n haelgeweer gekonfronteer het. Hulle wou hom na bewering aanval en hy het toe skote afgevuur. Die ander man kon daarin slaag om van die toneel te vlug,” het Balram gesê.
Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het nie onmiddellik op navrae oor die voorval gereageer nie.