Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Inbrekers’ loop hul rieme styf in Mookgophong

Flinke samewerking deur lede van die gemeenskap in Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo het Maandag tot die aankeer van twee vermeende inbrekers gelei nadat hulle in die vroeë oggendure by ’n bekende lodge in die omgewing ingebreek het.

Volgens Johan de Beer van die Heritage Protection Group (HPG) het die dogter van ’n Kemptonparkse egpaar, wat by die Diamond Creek Bush Lodge vakansie gehou het, omstreeks 04:45 wakker geskrik en ’n vreemde man in die vertrek gesien waar hulle tuisgaan.

Spore wat op die misdaadtoneel by ’n lodge in Mookgophong gevind is. Foto: Verskaf

“Die man het juis in daardie stadium oor haar bed geleun om ’n selfoon te steel,” sê De Beer. Sy het haar ma wakker gemaak waarna albei gegil het om die pa wakker te maak. “Dié gille het die drie verdagtes laat skrik. Hulle het met onder meer ’n selfoon, tekkies, ’n horlosie en klere op die vlug geslaan.”

Dié messe is in besit van die vermeende inbrekers gevind.Foto: Verskaf

Lede van HPG en Scorpion Security is na die lodge ontbied. Die veiligheidsmaatskappye het saam met lede van die gemeenskap drie stelle spore vanuit die lodge tot naby Mookgophong gevolg.

“Gerhard Vosloo van Scorpion Security het selfs ’n helikopter ingespan om na die inbrekers te soek,” sê De Beer.

Een van die inbrekers is omstreeks 11:00 buite die dorp ingehaal en in hegtenis geneem. ’n Tweede man is ’n halfuur later ook in die omgewing aangekeer. “Al twee mans het messe by hulle gehad. Van die gesteelde artikels is by hulle gevind en hulle is aan die polisie oorhandig. ’n Derde man is nog op vrye voet,” sê De Beer, wat die samewerking van die gemeenskap geprys het.

“In ’n stadium was daar 150 mense wat na die verdagtes gesoek het. Dit is regtig ’n riem onder die hart dat mense so kan saamstaan en alles in die stryd werp om misdadigers vas te trek,” sê De Beer.

Een van die twee verdagtes wat vir huisbraak aangekeer is. Foto: Verskaf

Volgens hom is die twee verdagtes van Zimbabwiese afkoms en woon hulle in Brits in Noordwes. Hulle het blykbaar onder ’n heining deurgekruip en so toegang tot die lodge gekry.

“Dié misdadigers staan as jumpers bekend wat gewoonlik deur iemand met ’n bakkie vir ’n sekere tydperk in ’n gebied afgelaai word om in te breek en te steel, waarna hulle weer met die gesteelde artikels op ’n afgespreekte tyd opgelaai word. Die polisie weet wie die derde verdagte is wat binnekort aangekeer sal word,” sê De Beer.

“Dit is die eerste keer in tien jaar dat so iets by die lodge gebeur, maar ek dink na dese sal misdadigers lig loop,” sê Braam Oosthuizen, eienaar van die Diamond Creek Bush Lodge.

“Dit gee ’n mens weer opnuut hoop vir die toekoms as almal in ’n gemeenskap saamspan om misdaad op so ’n wyse hok te slaan,” sê hy.

Volgens hom ondersoek die polisie die moontlikheid dat ander gevalle wat oor die naweek in die omgewing plaasgevind het, met mekaar verband kan hou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.