Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Inbrekers ná jaagtog in hegtenis geneem

’n Lid van Bloemfontein se berugte “inbrekerbende” is vandeesweek weer gevang nadat hy en twee makkers glo by twee huise in die stad ingebreek het terwyl twee van hulle op borgtog uit was.

Die man is in September saam met twee ander mans in hegtenis geneem ná ’n wilde jaagtog deur die stad se strate waarin die polisie op hul motor geskiet het om dit tot stilstand te probeer bring.

’n Lid van die AfriForum Rayton-Heuwelsig-buurtwag staan agter die inbrekers se motor nadat dit by Glen tot stilstand gedwing is. Foto: Verskaf

Die vermeende inbreker word glo met ten minste 25 sake van huisbraak en diefstal verbind en hy teister glo al maande lank inwoners van verskeie woonbuurte in die stad.

’n Tweede lid van die bende is glo ook ’n “bekende inbreker” en uit op borgtog.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die bendelede van Heidedal, Bloemfontein, onderskeidelik 29, 32 en 37 jaar oud, is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle by twee huise ingebreek het. Die eerste huis is in Albrechtstraat, Dan Pienaar. Die huishulp was egter tuis en die mans het geskrik en met net ’n swaard-ornament op die vlug geslaan.

Volgens Covane het die mans daarna by ’n huis in Jan Marxstraat, Pentagonpark, ingebreek en twee platskermtelevisiestelle, ’n skootrekenaar en luidsprekers gesteel.

Die polisie en lede van die Bloemmisdaad-WhatsApp-groep en die AfriForum Rayton-Heuwelsig-buurtwag op die toneel in Glen waar die inbrekers aangekeer is. Foto: Verskaf

Hulle het glo een van die TV-stelle op die toneel gelos omdat dit vermoedelik nie in hul silwerkleurige Hyundai i10 gepas het nie.

Covane sê die mans se “eenvoudige” modus operandi is om huise te teiken waarvan die eienaars by die werk is.

Volgens inligting het lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid inligting ontvang dat die mans weer met hul misdade besig is. ’n Lid van die AfriForum Rayton-Heuwelsig-buurtwag het die mans dopgehou totdat hulle uit die huis gekom het, waarna ’n jaagtog ontstaan het.

Die mans het toe glo eers hul inbreektoerusting en toe die skootrekenaar en TV-stel by die motor uitgegooi.

Lede van die AfriForum Rayton-Heuwelsig-buurtwag, die Bloemmisdaad-WhatsApp-groep en die polisie het die mans agternagesit.

Die jaagtog het by Glen buite Bloemfontein geëindig waar die mans met die hulp van die Bloemfonteinse blitspatrollie aangekeer is. Hulle verskyn volgende week in die landdroshof in die stad.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Jaagtog  |  Huisrooftog  |  3 Mans  |  Inhegtisname  |  Inbrekerbende  |  Inbreek  |  Borgtog Uit Was
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.