Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Inbrekers ‘teleurgesteld’ toe hulle nie kontant vind
Hans Lötter (53) en sy vrou, Martie (58), vertel hoe drie inbrekers hulle Woensdagoggend in hul huis op ’n kleinhoewe in die omgewing van Grootvlei, noord van Pretoria, oorval het. Foto: Deaan Vivier

Martie Lötter (58) het nog op Moedersdag aan familielede gesê hoe veilig sy voel op die kleinhoewe in die omgewing van Grootvlei, noord van Pretoria, waar hulle woon.

“En toe gebeur dít,” het sy gesê.

Drie gewapende mans het Woensdag in die vroeë oggendure op hul huis toegesak en haar, haar man, Hans (53), hul dogter, Petro (24), en haar kêrel, Abraham van der Merwe (27), vasgebind.

Hulle is onder meer met selfoonkabels, skoenveters en rek vasgebind wat die inbrekers in ’n naaldwerkkas gekry het.

Petro se sewejarige dogtertjie was ook in die huis. Die dogtertjie het voor haar ma gesit met Petro se arms om haar vasgebind.

Die inbrekers het die huis geplunder en hul sigaretstompies op die vloer doodgedruk.

Die Lötter-gesin sal op 1 Julie ’n jaar op die kleinhoewe woon.

Hans en Martie het omstreeks 01:30 wakker geword toe hul komberse van hulle afgeruk word. Twee inbrekers, wat nie klapmusse gedra het nie, was in hul slaapkamer.

Hulle het die agterhek en -deur oopgedwing. Die gesin se honde het nie geblaf nie.

“Toe spring ek regop en gil. Ek kan nie beskryf wat deur my kop gegaan het nie,” sê Martie.

“Ek het in my lewe nog nooit so gebid nie.”

Die inbrekers was netjies aangetrek en jy kon hoor hulle is nie Suid-Afrikaners nie. Ek kry ’n gevoel hulle ken my huis.
Hans Lötter

Een van die inbrekers het ’n vuurwapen teen Hans se kop gehou en die egpaar opdrag gegee om op hul mae langs die bed te lê en hul hande en voete vasgebind.

Die inbrekers het die egpaar Ouma en Oupa genoem en geld geëis. Hulle het in Hans se beursie en die kluis gekyk, maar kon niks kry nie.

“Jy kon aan hul stemtoon hoor hulle was teleurgesteld omdat daar niks geld was nie,” sê Hans.

“Ek het net gebid vir my kinders en my vrou se veiligheid.”

Terwyl dié twee inbrekers in die hoofslaapkamer besig was, het ’n ander inbreker vir Abraham en Petro in die sitkamer vasgebind, waar hulle en Petro se dogter voor die televisie aan die slaap geraak het.

Hierdie inbreker het ook ’n vuurwapen op Abraham gerig.

Die inbrekers het die dogtertjie wat voor haar ma gesit het met ’n kombers toegegooi.

“Hulle (die inbrekers) het baie vrae gevra oor wat waar in die huis is en die skilderye teen die muur opgelig,” sê Martie.

Een van die inbrekers het aan hom gesê hulle wil nie met hom baklei nie.

Die mans het ook alles uit die kaste gegooi op soek na waardevolle besittings.

Hulle het die toneel gevlug met ’n motorfiets – die gesin se enigste vervoer – selfone, Martie se trouring wat aan haar vinger was, klere, kos, huissleutels en elektronika.

Petro het losgekom en ’n mes in die kombuis gaan haal om haar familielede se hande en voete los te sny.

“Die inbrekers was netjies aangetrek en jy kon hoor hulle is nie Suid-Afrikaners nie. Ek kry ’n gevoel hulle ken my huis,” sê Hans.

Niemand het in die voorval seergekry nie.

Hulle was nie aggressief nie, sê Hans.

Een van die inbrekers het aan hom gesê hulle wil nie met hom baklei nie.

Hans sê hulle sal nou die veiligheid op die kleinhoewe opskerp.

Die gesin kry Donderdag berading.

“Ek gaan nie dat hulle my bang maak nie. Ek gaan nie trek en weghardloop nie,” sê Martie.

Die polisie was op die toneel.

Meer oor:  Martie Lötter  |  Grootvlei  |  Pretoria  |  Inbrekers  |  Kleinhoewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.